Brood bind die gemeente saam

Al is brood ’n eenvoudige kossoort, gebruik die Here dit om gelowiges saam te bring, en aan sy kruisdood te herinner. Lees hier meer.
deur ds Daniël Myburgh
Wanneer ons in Handelinge 2:42-47 van die sogenaamde “eerste gemeente” lees, dan sien ons dat hierdie Nuwe-Testamentiese gemeente vier kenmerke gehad het.
- 1. Die lidmate van daardie eerste gemeente het bly volhard in dit wat die apostels geleer het.
- 2. Die gelowiges het in geestelike gemeenskap met mekaar geleef en wérklik vir mekaar omgegee.
- 3. Hulle het volhard in die “breking van die brood”.
- 4. Die gelowiges van daardie tyd het gereeld vir mekaar voorbidding gedoen.
In hierdie artikel gaan ons na die derde kenmerk van die eerste Nuwe-Testamentiese gemeente kyk nl. die “breking van die brood”.
Die breking van die brood
Wat beteken hierdie “breking van die brood” nou eintlik? Dit was die gebruik in daardie tyd dat die mense in ’n baie noue gemeenskap met mekaar geleef het. Dalk het jy al gehoor dat jou predikant die Griekse woord “koinonia” in ’n preek of in die gemeente gebruik.
“Koinonia” beteken om onderlinge geestelike gemeenskap tussen mense te hê. Dit is wanneer mense hégte verhoudings met mekaar én met hul Skepper ontwikkel. Hierdie woord, “koinonia”, is presies wat die lidmate van die eerste gemeente góéd reggekry het.
Daardie gelowiges was op só ’n mate op mekaar ingestel dat hulle wérklik met mekaar kon vereenselwig – selfs al het hulle omstandighede van mekaar verskil.
Die effek van saam brood breek
Weens hierdie onderlinge gemeenskap, kon hulle hulself wérklik in iemand anders se skoene plaas. En om hierdie onderlinge ondersteuning volhoubaar te maak, het die Here in sy Alwetendheid dit só bepaal dat sy kinders onder andere op ’n gereelde basis saam geëet het.
Het jy al ondervind hoeveel waarde ’n gemeenskaplike maaltyd het? Het jy al gevoel dat jy iemand anders baie beter ken nadat julle saam geëet het? Of, het jy al agtergekom hoeveel gemakliker jy – ná ’n ete – in iemand anders se geselskap is? Die rede hiervoor is, onder andere, omdat ’n ete baie intiem en persoonlik is. Jy deel iets van jouself met iemand anders wanneer jy saam met iemand ’n maaltyd deel. En jy ontvang ook iets van die ander persoon/persone wie saam met jou aan tafel sit.
Brood breek is meer as ’n maaltyd
Tydens ’n gemeenskaplike maaltyd word baie meer as net kos met mekaar gedeel. Emosies, gevoelens en geloof word gedeel. ’n Ete saam met geliefdes bied vir ’n mens die geleentheid om oor die dieper dinge in die lewe te gesels. Soos jou vrese en jou bekommernisse, maar óók oor dít wat jou opgewonde en dankbaar maak.
Daar is dus waarde daaraan om, as gesin, fisies rondom ’n tafel te sit om ’n ete te geniet. Dink mooi aan wat jy volgende keer jou ouers gaan antwoord wanneer hulle voorstel dat julle aan tafel sit en eet al verkies jy dit om dalk eerder jou ete voor die TV te geniet.
Die Here gebruik brood om almal saam te bring
Wanneer ons die Bybel lees, dan is dit opmerklik om raak te sien dat die mense van daardie tyd ’n baie eenvoudige dieet gevolg het. Die meeste gelowiges van destyds het nie allerhande luukse kossoorte, soos baie moderne gelowiges, geëet nie. Nee, die stapelvoedsel van daardie tyd was brood.
Die lidmate van die eerste gemeente het dus brood geëet wanneer hulle saamgekom het. Terwyl hulle brood geëet het, het hulle hul harte met mekaar gedeel. Die Here gebruik iets so eenvoudig soos bróód om sy kinders saam te bind. Daarom vergelyk Jesus Christus sy liggaam met brood wat Hy tydens die instelling van die Nagmaal breek.
Net soos Hy daardie brood geneem het en dit in stukke gebreek het, sodat elke dissipel ’n stukkie kon kry, net só het sy liggaam aan die kruis gebreek toe Hy vir God se uitverkore kinders se sondes betaal het met sy dood.
Breek brood en dink aan Jesus se kruisdood
Jesus beveel ons dat ons aan sy kruisdood moet dink élke keer wanneer ons brood breek om dit met mekaar te deel. ’n Ete wat alléén geniet word het nie soveel waarde soos ’n ete wat saam met medegelowiges geniet word nie. Want jy het niemand om die kos (brood) mee te deel nie. Jy het niemand om mee te gesels en geestelike gemeenskap (koinonia) te voer nie. Jy het niemand om teenoor uit te praat oor jóú lewe en niemand om uit te vra oor húlle lewe nie.
Die Here wil hê dat sy kerk se lidmate ’n eenheid vorm en ’n eenheid bly. En dit is waarom Hy aan ons brood gee om (sáám met mekaar) te geniet sodat ons iets met mekaar in gemeen het. Ons Nagmaalsformulier sê:
Omdat ons almal aan één brood deel het, is ons almal één liggaam. Daarom moet ons almal – wat deur die geloof in Christus ingelyf is – hierdie eenheid in liefde met woord en daad teenoor mekaar bewys.
Mag elkeen van ons die wérklike waarde van brood raaksien. Al is dit ’n eenvoudige kossoort, is dít die kossoort wat die Here in sy alwysheid gekies het om gesinne en gemeentes saam te bind.