God alleen is ons rots
Skrywers in die Bybel, veral Dawid en Moses, gebruik dikwels die woorde “berg” en “rots” om die Here te beskryf. Lees hier oor die betekenis daarvan.
deur ds Ruan Steyn
In hierdie uitgawe van die Kruispad lees ons dat die Bybel vermelding maak van verskillende berge, naamlik Horeb, Olyfberg, Sion, Tabor, Moria, ensovoorts. Wanneer ons die verhale gaan lees oor die gebeurtenisse wat by berge afgespeel het, kom ons tot die gevolgtrekking dat berge ook in ’n metaforiese sin verstaan kan word.
1. Berge reflekteer die heerlikheid, krag en majesteit van God
Die psalmdigter van Psalm 121 verklaar: “Ek kyk op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE, wat hemel en aarde gemaak het.” Die psalmdigter bely sy geloof en vertroue in die Skepper van alle dinge. As berge so groot en majestueus is, hoe groot en majestueus is die Skepper dan nie? Dit lei die digter – en alle gelowiges – om God te verheerlik.
2. Berge simboliseer ’n veilige vesting en toevlugsoord
Berge is ʼn veilige vesting of toevlugsoord vir die volk van die Here. Ons dink byvoorbeeld aan Dawid wat van Saul gevlug het en in die veiligheid van ’n berg weggekruip het (vergelyk 1 Samuel 23:14). Elia, wat van Agab en Isebel gevlug het, het ’n berg as ’n toevlugsoord gesien en daar het hy ook ’n ontmoeting met die Here gehad (vergelyk 1 Konings 19).
3. Berge simboliseer oorwinning
Moses en die Israeliete het die Amalekiete by ’n berg verslaan (vergelyk Eksodus 17). Elia weer het op die berg Karmel die profete van Baäl verslaan (vergelyk 1 Konings 18).
Opsommend kan ons sê dat berge ’n kragtige herinnering is van God se goedheid en teenwoordigheid in die lewe van sy volk en kinders. Die simboliek agter berge lei gelowiges om al hulle vertroue in die Here te plaas (vergelyk Psalm 62; Deuteronomium 32:3; 2 Samuel 22:2-3).
Psalm 62 is ’n goeie voorbeeld
Dawid, in Psalm 62 en 2 Samuel 22:2-3, en Moses in Deuteronomium 32, gebruik die woord “berg” en “rots” as sinonieme. Die simboliese gebruike van “berg” en “rots” word ook in hierdie drie Skrifgedeeltes weerspieël. In al drie hierdie Skrifgedeeltes spreek die skrywers hulle vertroue in die Here uit.
Die digter van Psalm 62 bely:
Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie.
Psalm 62:2-3; 2020-vertaling
Dawid het van harte geglo dat die Here alleen vir hom verlossing sal bring. Die rede waarom Dawid sy vertroue in die Here plaas, is omdat die Here sy rots, verlossing en toevlugsoord (vesting) is. Dawid was bang weens die omstandighede waarin hy homself bevind het. Hy het ’n krisis in sy lewe ervaar en daarom het hy sy hoop en vertroue in die Here geplaas. Die feit dat Dawid in ’n berg weggekruip het, het hom gelei om dit met die Here te vergelyk – die Here hou hom veilig soos die berg hom veilig gehou het.
Net soos hy skuiling in die berg vind, so kan hy te midde van enige situasie skuiling by die Here vind. Hy lê klem op die feit dat hy met die hulp van die Here net soos ’n berg nie maklik sal kan wankel nie. In die berg ervaar Dawid die teenwoordigheid van die Here. Daarom kan hy van harte bely: “Net by God vind ek rus.”
Wanneer ons weer van berge in die Bybel lees, kan ons met sekerheid sê: dit lei ons om ook ons vertroue in die Here te plaas, want dit reflekteer God se heerlikheid, majesteit, goedheid en krag.