God voorsien – vir Abraham, én vir ons

Waaraan dink jy as van die gebeure op berg Moria, waar Abraham sy seun moet offer, lees? Lees hier hoe die verhaal ons moet herinner dat God ook ’n Plaasvervanger vir ons gestuur het.


deur ds Barend van der Westhuizen

Die wonderlike waarheid van Christenwees is om te weet dat die Christelike geloof nie in ’n lugleegte gegrond is nie. God het Homself in en deur die loop van die geskiedenis oor baie jare heen bekend gemaak. Dit is vir ons in die Ou en Nuwe Testament opgeteken. Vanuit die Bybelse geskiedenis leer ons dat God Homself by sekere geografiese liggings bekend gemaak het en met spesifieke mense by sekere geografiese liggings gewerk het.

Dit is dan die wonderlike van die Bybel. Die Bybel hou aan ons werklike geskiedenis voor. ’n Geskiedenis vol name, plekke, datums en feite – dit is nie ’n opmaakstorie of sprokiesverhaal nie. Ons Christelike geloof kan in die geskiedenis in terugkyk en by dieselfde landbakens staan as waar die Israeliete, die vroeë kerk en die Here Jesus self was. God werk met regte mense, by regte plekke en in hierdie geval by ’n regte berg – die berg Moria

Waarom is die berg Moria ’n belangrike baken?

Die berg Moria neem ’n belangrike plek in die Bybelse geskiedenis in, juis omdat daar bepaalde gebeure afgespeel het wat die gang van die wêreldgeskiedenis beïnvloed het. Om van die gebeure wat by berg Moria plaasgevind het te praat sonder om die ligging in ag te neem is om dit ietwat los van die geskiedenis te maak – asof dit in ’n lugleegte plaasgevind het en nie op ’n bepaalde plek en tydstip nie. Ons fokus dus op beide hierdie aspekte vir ‘n oomblik:

  1. Die bepaalde ligging van die berg Moria.
  2. Die bepaalde gebeure by die berg Moria

1. Die bepaalde ligging van die berg Moria

Daar is verskille onder verklaarders rondom die presiese ligging van berg Moria. Genesis 22:2 sonder ook nie ’n spesifieke berg uit nie, maar wel “die gebied van Moria”. Die ligging van berg Moria is binne die groter geografiese gebied genaamd Israel.

As jy die ligging beter wil verstaan, blaai na die Nuwe-Testamentiese Bybelkaart agter in jou Bybel. Alhoewel die geografiese bakens soos op die kaart verskyn nie noodwendig in Abraham se tyd so benoem was nie, sal hierdie kaart handig wees om vinnig na te gaan waar die berg Moria moontlik geleë was.

Jy sal sien dat sommige kaarte die landstreke van Israel in drie dele opdeel: Onder in die Suide is Judea, in die middel is Samaria en in die Noorde is Galilea. Sekere verklaarders beweer dat die Samaritane gemeen het dat berg Moria in Samaria geleë is en hulle het dit berg Gerisim genoem. Volgens Johannes 4:20 is dit waar die Samaritane aanbid het. Ander meen weer dat die berg in Judea geleë is daar waar Jerusalem gebou was. Die rede hiervoor is vanweë die enigste ander verwysing na Moria buiten Genesis 22 volgens 2 Kronieke 3:1 wat sê:

Salomo het toe begin om die huis van die Here in Jerusalem te bou, op die berg Moria, waar die Here aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek van Dawid wat hy gereedgemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.

2 Kronieke 3:1

Daar kan dus met redelike sekerheid gesê word dat die moontlikheid vir die ligging van berg Moria die berg is waarop Jerusalem gebou is.

2. Die bepaalde gebeure by die berg Moria

Nou kyk ons vinnig na die bepaalde gebeure op die berg Moria wat hierdie berg ’n spesiale betekenis en plek in die Bybelgeskiedenis gee. God het Abraham die opdrag gegee om sy enigste seun Isak te offer op die plek wat God vir hom aangewys het (dit is Moria). Dit is hierdie Isak deur wie God volgens Genesis 17:19 vir Abraham ’n groot nageslag sou gee. Dit is Isak wat vanweë God se ingrype gebore was ten spyte daarvan dat Abraham en Sara baie oud was en menslik gesproke nie kinders kon kry nie (Genesis 17:17). Nou moes Abraham hierdie kind offer?

Hebreërs 11:17-19 bied vir ons ’n wonderlike stukkie kommentaar op hierdie gebeure van Genesis 22. Vers 17 leer ons dat die Here se eis aan Abraham om Isak te offer volgens Genesis 22 ’n geloofstoets vir Abraham was.  Abraham het hierdie toets geslaag omdat Hy God se belofte van ’n groot nageslag aanhou glo het. Hebreërs 11:19 leer dat Abraham geglo het dat God by magte was om die dode op te wek. Selfs al sou Isak geoffer word het Abraham geglo dat hy hom uit die dood terug sou ontvang. Hierdie oortuiging van Abraham volgens Hebreërs 11:19 is reeds in sy woorde aan die diensknegte volgens Genesis 22:5 sigbaar:

Toe sê Abraham vir sy dienaars: “Bly julle hier met die donkie! Ek en die seun wil daarheen gaan. Ons wil aanbid en sal dan na julle terugkom.”

Abraham het geglo dat beide hy en Isak na die diensknegte sou terugkeer. Meer nog is Abraham se geloofsvertroue sigbaar in sy antwoord aan Isak oor waar die lam vir die brandoffer was wanneer hy vir Isak sê: “God sal vir Homself ’n brandoffer voorsien” (Genesis 22:8). Keer op keer is Abraham se beskikbaarheid en bereidwilligheid aan God se opdrag te sien as hy vir die Here sê: “Hier is ek” (Genesis 22:1, 11).

Dit wat Abraham gemotiveer het om Isak te offer was sy ontsag vir die Here (Genesis 22:12). Ontsag dui op totale oorgawe en vertroue aan God se regering en eise. Net toe Abraham sy seun vir wie hy lief was wou offer het God hom gekeer en het ’n ram as brandoffer in die plek van sy seun gegee (Genesis 22:12). Deur ’n plaasvervanger wat sou sterf kon Isak lewe – God het voorsien op die berg Moria.


Wat staan vir jou in die verhaal uit?

Is Abraham se geloof egter die fokuspunt wat ons aangryp wanneer ons aan die berg Moria dink? Abraham se geloof is aangrypend, maar wat nog meer aangrypend is, is God wat voorsien. Dink aan God wat in genade vir Abraham uit ’n heidense land gekies en geroep het. Aan God wat al die nasies van die aarde genadig wil wees deurdat Hy aan Abraham belowe het dat al die nasies van die aarde deur hom geseën sou word. Dink aan God wat getrou was deur Isak se geboorte moontlik te gemaak het. Dink aan God wat ’n plaasvervanger gestuur het sodat Isak kon lewe. God self het voorsien, daarsonder is daar geen Bybelgeskiedenis nie.


Christenwees is gegrond in feitelike Bybelgeskiedenis waar God ’n Plaasvervanger voorsien het

Wanneer ons dink aan die feitelike ligging, gebeure en mense op en by berg Moria moet ons opnuut besef: Die enigste ware God van die Christelike geloof werk met regte mense, by regte plekke en deur die geskiedenis – ook met my en jou. Die lewende God het werklik voorsien. Johannes 3:16 leer aan ons:

So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Gaan lees gerus volgens Matteus 1:1-17 die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham. Hy kom uit Isak, wat gespaar was, se nageslag sodat ons God se seën mag beleef. Hy is deur God die Vader gestuur en het die pad na Jerusalem en Golgota geloop. In ons plek het Hy gesterf sodat ons lewe mag hê. Dink jy hieraan as jy aan Moria terug dink? As jy hieriaan dink, omhels Christus en weet dat Hy die Waarheid is (nie ’n sprokiesverhaal nie), want die Bybelgeskiedenis vind nie in ’n lugleegte plaas nie, maar dit is God se geskiedenis en dit beskryf aan ons feite, plekke, name, en die evangelie.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui