God versterk jou vir sy roeping!

Lees hier hoe God jou vir jou roeping versterk, net soos Hy op berg Horeb vir Moses, Israel en Elia versterk het.

deur ds Philip Wepener

Berg Horeb, ook bekend as berg Sinai en die berg van God, is sekerlik een van die belangrikste berge wat in die Ou en Nuwe Testament genoem word. Dit is die berg waar God sy verbond, die Mosaïse verbond, met Israel gesluit het. En dis waar Hy die tien gebooie gegee het. Dit is ook op hierdie berg waar God Homself op ’n ontsagwekkende wyse aan Moses, Israel en ook later aan Elia geopenbaar het. Hy het dit telkens gedoen om hulle te versterk vir sy roeping. En net soos God vir Moses, Israel en Elia versterk het, so versterk Hy jou vandag vir sy roeping!

Moenie agter verskonings wegkruip nie, volg God se roeping op!

Moses se roepingsverhaal in Eksodus 3 tot 4 is en bly aangrypend. Hoewel hy ’n ou man is, 80 jaar oud, is dit duidelik dat God hom deur sy hele lewe vir sy roeping voorberei het. Op berg Horeb verskyn God aan Moses in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Daar ontvang Moses die roeping dat God hom wil gebruik om sy volk uit Egipte te bevry en hulle in die belofteland in te lei. God gee die aangrypende motivering: Hy het die ellende van sy volk in Egipte gesien en hulle noodkrete gehoor. Hy het hulle lyding ter harte geneem.

Ongelukkig deins Moses terug vir God se roeping. Hy maak allerlei verskonings! Maar ondanks Moses se verskonings versterk God hom. God verseker hom dat Hy met hom sal wees. Hy verseker Moses dat hy en die volk Hom op berg Horeb sal aanbid (met ander woorde, farao sal die volk laat trek). God openbaar aan hom Wie Hy Is, sodat Moses Hom aan Israel bekend sal maak, en dat hy nie vir die farao bang hoef te wees nie. God gee vir hom tekens om voor die farao te doen. Hy gee vir Moses sy broer Aäron as woordvoerder.

Dan gebeur die merkwaardige! Moses keer terug na sy skoonpa Jetro en sê vir hom dat hy graag wil teruggaan na sy mense in Egipte. Moses was versterk deur God om sy roeping op te volg.

God bly getrou!

Drie maande nadat Israel uit Egipte getrek het, het God op berg Horeb voor Moses en die volk verskyn. God het sy verbond met Israel gesluit en die tien gebooie vir hulle gegee. God het verder deur ’n groot magsvertoon sy volk onderrig en versterk om Hom te vrees.

By berg Horeb het God Israel geroep om onder al die volke sy persoonlike eiendom te wees, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie. Hulle moet ’n lig vir die nasies wees, sodat almal sal weet dat God, die HERE, alleen God is, en Hy aanbid moet word.

Ongelukkig het Israel misluk. Hulle het gou afvallig geword en ’n goue kalf (’n afgod) aanbid – soos al die nasies rondom hulle gedoen het. Keer op keer deur die geskiedenis het hulle aan afgodediens deelgeneem en in sonde geval. Hulle het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Daarom het God hulle in ballingskap weggevoer; uit hulle land, uit die lewensruimte wat God vir hulle gegee het om sy roeping uit te voer.

Hoewel Israel nie in staat was om God se roeping uit te voer nie, het God getrou gebly aan sy roeping. Hy het nie misluk nie. Hy doen nooit! Daarom het Hy ’n nuwe verbond beloof; ’n verbond waar Hy deur sy Heilige Gees alle geroepenes op ’n kragtige wyse vir sy roeping versterk.

Selfs in moeilike en moedelose tye versterk God jou!

Ná die wonderlike gebeurtenis op berg Karmel het Elia bang en moedeloos van Isebel weggevlug tot by berg Horeb. Op berg Horeb openbaar en vertoon God Homself aan Elia as ’n fluistering in die windstilte. So sien ons die grootheid van sy krag selfs in klein alledaagse gebeure. Hierdeur versterk God Elia om met sy profetediens voort te gaan en drie persone te gaan salf. God versterk Elia dat die roeping wat Hy hom opgelê het in vervulling sal gaan, al verkeer Elia en ’n oorblyfsel van Israel (7000) in ’n moeilike tyd.


Waaroor gaan die roeping wat ons van God ontvang?

Moses moes God se volk uit die ellende en lyding van Egipte bevry en hulle in die belofteland ingelei het. Israel moes ’n heilige priestervolk en ’n lig vir die wêreldvolke gewees het. Elia moes as profeet optree, en twee konings en Elisa as sy opvolger gesalf het. God se roeping gaan daaroor dat geroepenes, gelowiges wat deur Jesus Christus vrygemaak is en aan Hom behoort, die opdrag doen wat hy of sy van God ontvang het.


Wees versterk!

Alle geroepenes, alle gelowiges het God se roeping ontvang. Ons moenie die fout maak en dink dat slegs ’n predikant en ’n sendeling ’n roeping het nie. Net soos al die Israeliete nie geroep was om priesters of profete te wees nie, so is almal vandag ook nie deur God geroep om predikante of sendelinge te wees nie. God roep immers sommige om dokters, prokureurs of boere te wees, of om met kinders of gestremdes te werk, ensovoorts.

Die roeping wat ons van God ontvang gaan wel nog dieper (Kolossense 3:23). God wil deur jóú mense tot geloof in Jesus Christus bring. Al is jy nie ’n voltydse leraar nie, is jy deel van sy heilige priestervolk en ’n lig vir die wêreld. Sien daarom jou beroep of jou daaglikse werk as God se roeping en nie as ’n gewone “daytime job” nie. Verder wil God ook deur jou mense versterk, soos Hy Moses deur Aäron gedoen het.

Besef die erns van God se roeping. Maak dit ’n saak van gebed. Bid dat God jou sal versterk – jy kan op Hom vertrou dat Hy wil – en Hy jou sal aanwys waarvoor Hy jou wil gebruik. Vervul dan só God se roeping in jou lewe!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui