Hart van sonde, hart van verlossing

Glo jy hierin? Glo jy in die gekruisigde, maar ook opgestane Here wat in jou plek kom sterf het, sodat jy weer kan lewe? Gaan lewe hierdie waarheid in ’n wêreld wat dit ongelooflik vind.

deur ds Karel Steyn

Lees Jesaja 52:13 tot 53:12.

Wat gaan jy alles hierdie naweek doen? Of altans, waaroor gaan Paasnaweek vir jou? Baie van ons is só bly vir die vakansiedae, dat ons heeltemal die betekenis van dié tyd vergeet. Ons word só oorval deur die boodskap van sjokolade-eiers en hasies dat ons vergeet waaroor Paasfees werklik gaan.


Die mens is dwaas

Aan die eenkant is dit dalk skokkend, maar tog ook nie: Vir die mensdom is die gedagte van ’n God wat in ’n persoonlike verhouding met jou staan net só geloofwaardig as ’n haas wat eiers bring. Dit klink vir die wêreld se ore soos onsin dat daar ’n God is wat sy plek as God sal opoffer om die mense, wat sy plek wil inneem, te bevry van hierdie drang om god te speel. Tog is die dwaasheid van die mensdom die wysheid van die uur waarin die dienaar van God, Jesus Christus, gekruisig word.

Lees die teksgedeelte en hoor hoe word hierdie menslike dwaasheid en Goddelike wysheid in Jesaja beskryf. Jesaja tree as ’n profeet op en hy moet aan die volk bekend maak wat die Here se plan met sy volk is. Toe Jesaja hierdie boodskap aan die volk gebring het, was die volk in ballingskap weens hul ongehoorsaamheid aan God. Die Here wou die volk deur hierdie woorde troos en maak aan hulle bekend hoe hierdie ballingskap tot ’n einde gaan kom. God gaan hulle nie net uit die fisiese ballingskap red nie, maar uit die geestelike ballingskap waarin hulle vasgevang is!

Om dit vir die volk – en selfs vir ons vandag nog – duidelik te maak, maak God in hierdie gedeelte vir ons twee dinge bekend: Eerstens wys Hy vir ons wat die hart van sonde is, en tweedens wat die hart van die verlossing is.


Die hart van sonde

Reeds vroeg in die boek Jesaja begin God om aan ons die hart van die sonde bekend te maak en wanneer ons na hierdie paar verse luister, dan hoor ons dit ook. God begin hierdie gedeelte deur te sê wie God se Kneg of Dienaar is. Hiermee wys God nie na ’n mens nie, maar na die Mens – Hy wys ons na Jesus Christus wat God se koninkryk aan die wêreld moes kom bekend maak.

Maar God leer ons verder deur hierdie gedeelte dat ons Hom verag het. Hy was deur mense verag en verstoot, Iemand vir wie ons ons gesigte weggedraai het. As ons dink dat God nie hier met ons ook praat nie, kan ons maar net luister na wat Johannes 1:10-11 leer, dat Christus na hierdie wêreld toe gekom het en dat ons, sy eiendom, Hom nie wou aanneem nie. Ons leer uit Romeine 2:1 dat daar geen verontskuldiging vir enige mens is nie. Wanneer ons al hierdie dinge besef kom ons by die hart van die sonde uit. Die mens wil God se plek inneem en ons wil self god speel. Juis hier kry ons met die hart van sonde te doen. Hier waar ek en jy God se plek wou inneem. Waar ons wou heerser speel oor ons eie lewens.


Die hart van verlossing

Die Here maak dit duidelik in hierdie gedeelte van Jesaja: Daar is nie een mens wat op eie stoom gered kan word nie. Daarom maak God ook in hierdie gedeelte vir ons die hart van verlossing bekend. Die hart van verlossing hoor ons daarin dat God kom en die mens se plek inneem. Dit is net wanneer God die mens se plek kom inneem, wat dit vergewe kan word dat die mens God se plek wou inneem!

In die middel van hierdie gedeelte word die vraag gevra: “Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?” (Jesaja 53:1) Ja, Christus het nie gekom soos ’n boom wat langs ’n waterstroom geplant is nie, maar soos ’n plant wat in droë grond wortel skiet. Hy het in ’n onvrugbare, droë wêreld Mens en Verlosser kom word, sodat Hy aan ons stromende lewende water kon bied.


Die wêreld glo nie

Ondanks alles bly hierdie vraag staan: “Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?”, want die wêreld glo nie! Vir die wêreld is die gedagte van ’n haas wat sjokolade-eiers bring meer aanvaarbaar en geloofwaardig as die boodskap van die gekruisigde, opgestane God wat die mens se plek kom inneem, sodat die mens se strewe na God se plek vergewe kan word.


Glo jy?

Glo jy hierin? Glo jy werklik in die gekruisigde, maar ook opgestane Here wat in jou plek kom sterf het, sodat jy weer kan lewe? ’n Gelooflike waarheid vir elke kind van God! Jou Here het vir jou tot sonde geword. Hy het vir jou gesterf, sodat jy kan leef! Gaan lewe hierdie waarheid in ’n wêreld wat dit ongelooflik vind.


Jy kan ook ’n Bybelstudie oor hierdie gedeelte doen, hier.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui