Die feeste van die HERE in die Bybel
Levitikus vertel van die feeste van die Here. Lees in hierdie artikel ’n kort opsomming oor elkeen van die Israeliete se sewe groot feeste.
deur Barend van der Westhuizen
Vroeg in die Bybel lees ons reeds van die feeste wat deur die volk van die Here gevier word. Die HERE het self hierdie feeste ingestel. Met elke fees was daar ’n dieper betekenis vir Israell – van die feeste het saam die seisoene geval, en Israel het dan hul dankbaarheid betoon. Ander feeste het weer gebeure in Israel se geskiedenis herdenk, en weer het hulle dankbaarheid teenoor God gewys.
Die feeste word onder andere in Levitikus 23 beskryf. En ons sien dadelik dat dit die HERE se feeste is:
Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees.
Levitikus 23:1-2
Hierdie feeste het daarop gedui dat die HERE met Israel ’n verbondsverhouding gesluit het. Israel moes vir die HERE afgesonder gewees het as sy verbondsvolk. In hierdie feeste sien ons dan ’n groot deel van die HERE se genade en verlossing, maar ook van Israel se skuldbelydenis en dankbaarheid. Dit herinner ook daaraan dat die volk op die HERE vertrou het. Daarom wys die feeste nie net terug na die HERE se genade nie, maar ook vorentoe –na ’n heerliker werklikheid in die toekoms wat in Jesus Christus vervul is.
Hier is ’n kort verduideliking van elkeen van die sewe groot feeste:
1. Pasga
In die eerste maand, op die veertiende van die maand teen laatmiddag is dit die Pasga van die HERE.
Levitikus 23:5
Pasga gaan daaroor om die genade van God in herinnering te roep rakende die gebeure wat in Eksodus 12 beskryf word. Die HERE sou Egipte se eerstelingseuns met die dood tref. Die HERE het egter vir Israel, sy volk met wie Hy ’n verbond gesluit het, gesê dat hulle ’n lammetjie moet vat en dit moet slag. Hulle moes die bloed aan die deurkosyne smeer. Die engel van dood het dan verby die huise met die bloed gegaan.
Israel het dus die Paasfees gevier wat hulle herinner hoe die HERE se oordeel by hulle verbygegaan het en dat Hy hulle uit Egipte van die dood losgekoop het.
2. Die fees van ongesuurde brode
Op die vyftiende dag van hierdie maand begin die Fees van Ongesuurde Brood vir die HERE. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet.
Levitikus 23:6
Die fees van ongesuurde brode hou direk met Paasfees verband. Die dag na die doodsengel oor Egipte gegaan het, het Israel uit Egipte getrek. Israel moes vir sewe dae brode sonder suurdeeg eet. Suurdeeg het die brood gehelp om te rys, maar omdat Israel vinnig uit Egipte moes trek was daar nie tyd vir die brood om te rys nie.
Die dieper betekenis van ongesuurde brood lê egter daarin dat dit simbolies op sonde en boosheid gedui het. Soos die suurdeeg uit die brood en huise verwyder moes word, so moes Israel die sonde uit hulle lewe verwyder om vir God heilig te wees.
3. Die fees van eerstelinge
Wanneer julle in die land kom wat ek vir julle gaan gee en julle die graanoes insamel, moet jullle die eerste gerf van julle graanoes na die priester bring.
Levitikus 23:9
Die fees van die eerstelinge het aan die begin van die oes plaasgevind. Hierdie fees het op Israel se afhanklikheid van God gedui. Volgens Levitikus 23:9-14 was die eersteling die eerste deel van ’n Israeliet se oes wat hy vir die priester gebring het. Die priester het dit voor God geweeg en geoffer. Die Israeliet het ook ’n lammetjie en graanoffer gebring.
Volgens Deuteronomium 26:1-11 was daar deur hierdie offers erken dat God vir Israel vanuit Egipte gered het. Hy het ook die beloofde land waaruit hulle oes kom aan hulle gegee.
Deur hierdie eerstelingoffer het Israel dus erken dat God die land en oes voorsien het en dat Hy nog verder sal voorsien. So was Israel se fees ingerig om nie selfsugtig op eie kragte staat te maak vir eie gewin nie. Die dank vir die oes en vertroue van die oes draai rondom God. Dit kom uit sy hand en Hy behoort daarvoor geëer te word.
4. Fees van die weke
Vanaf die dag na die Sabbat, vanaf die dag waarop julle ‘n gerf as gewyde gawe gebring het, moet julle die dae aftel: Sewe volle weke moet dit wees.
Levitikus 23:15
Die fees van die weke was sewe weke na die fees van die eerstelinge gevier (Deuteronomium 16:19 en Levitikus 23:15). Volgens Levitikus moes die priester sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek en een jong bul en twee ramme as brandoffer bring. Die brandoffer moes ’n lieflike geur vir die Here wees. Hulle moes ook een bokram as sondoffer en twee jaaroud lammers as dankoffer voorberei.
Die fokus van hierdie fees was op dankbaarheid teenoor God vir die volle oes gewees. Hierdie fees in die Grieks staan ook as “pentecost” (pinkster) bekend aangesien die tydperk na die fees van die eerstelinge 50 dae was.
5. Die fees van die trompette
Die HERE het vir Moses gesê: Sê vir die Israeliete, Die eerste dag van die sewende maand moet vir julle ’n buitengewone Sabbat wees, ’n herdenkingsdag, aangekondig met geskal, ’n heilige byeenkoms.
Levitikus 23:23-25
Die fees van die trompette moes ’n rusdag, gedenkdag en heilige vierdag gepaardgaande met basuin/trompetgeklank wees (Numeri 29:1-6). Die Fees van die trompette het met ’n geblaas (geskal) van die trompette die laaste maand van die landboujaar aangedui; ’n maand waarin die groot Versoendag en Loofhuttefees ook sou plaasvind.
Die fees van die trompette het vir Israel aangedui dat hulle ’n afgesonderde tydperk betree. ’n Tyd waar daar versoening vir hulle sondes moes plaasvind. ’n Tyd van herinnering toe hulle in die woestyn op pad na die beloofde land rondgeswerf het. Die blaas van trompette het altyd aangedui dat God in Israel se lewe betrokke is (Eksodus 19:16 & 19; Josua 6:6; 2 Samuel 2:28; 1 Konings 1:34).
6. Die groot versoendag
Onthou net, die tiende dag van hierdie sewende maand is die Dag van Versoening. Julle moet ‘n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig en vir die HERE ‘n offergawe aanbied.
Levitikus 23:27
Die Versoendag het spesifiek oor verskeie offers vir die versoening van Israel se sondes gegaan. Hierdie fees was ’n baie belangrike fees wat in fyn besonderhede volgens Levitikus 16 beskryf word. Ons lees dat die hoëpriester slegs een keer ’n jaar op die tiende dag van die sewende maand in die allerheiligste van die tempel kon gaan – dit was op hierdie einste Versoendag.
Die hoëpriester moes eers homself was en spesifieke klere aantrek. Hy moes vir homself en sy eie huis offers bring soos wat hy die allerheiligste betree het. Hy het die verbondsark se deksel met die bul se bloed besprinkel. Dan het hy twee bokke voorberei vir die sondes van die volk. Een het hy geoffer vir die sondes van die volk en die bloed op die verbondsark se deksel besprinkel – so wys dit dat bloed moet vloei om vir Israel se sonde te betaal.
Die ander bok was die asasel. Soos wat die hoëpriester beide sy hande op die bok se kop geplaas het, het hy Israel se sondes bely. Daarna was die bok die woestyn in geneem – so verwyder God die skuld van Israel se sondes.
7. Die Huttefees
Op die vyftiende dag van die sewende maand is dit Huttefees – sewe dae lank tot eer van die HERE.
Levitikus 23:34
Die Huttefees het op die 15de dag van die sewende maand plaasgevind en het daaroor gegaan dat Israel hutte moes gebou en daarin gebly het. Dit moes hulle aan die dae herinner toe God hulle uit Egipte gelei het, en hulle in hutte gebly het. Ons lees hiervan in Levitikus 23:33-43 en Deuteronomium 16:13-15.
So het Israel hulle rondswerwe in die woestyn op pad na die beloofde land in herinnering geroep. Daar was ’n reeks offers tydens hierdie fees aan God gebring. Hierdie week moes deur vreugde en dankbaarheid gekenmerk word. Tydens hierdie fees moes Israel onthou dat alle gawes in die beloofde land nie as vanselfsprekend aanvaar moes word nie. Dit was uit die voorsienige hand van God. Dankbaarheid teenoor God was dus voorop.
Die fees wat die Israeliete gesamentlik gevier het was ook veronderstel om die nasie van Israel as God se volk saam te snoer soos met die uittog uit Egipte. Volgens Deuteronomium 16:14-15 het hierdie week ook die element van dankbaarheid en feesviering vir die jaar se oes ingesluit.