Wys my sosiale media dat ek ’n Christen is?

Ons tegnologie het nou wel nie in die Bybelse tyd bestaan nie, maar die Bybel gee ons nogtans genoeg leiding vir wanneer ons sosiale media gebruik. Lees hier meer.

deur ds Werner Brotherton


Elektronika en sosiale media is deel van ons lewens. As gelowiges lewe ons nie in ’n vakuum nie, maar leef ons in ’n tyd en op ’n plek waar die Here ons geplaas het. Ons leef juis nou, in hierdie tyd, omdat die Here so besluit het.

Hierdie digitale era het so vinnig op ons neergekom dat ons nie kan byhou om te bedink hoe ons dit moet hanteer en benader nie.

Maar, wat ons moet onthou is dat ons God ook in ons uitlewing te midde van die digitale era moet volg. Wat wel vertroostend is, is dat die beginsels van die Skrif nie verander het nie, al verander die tye. Ook vir vandag bly God se Woord onveranderd en die norm van alles wat ons doen, is en sê.


Dink jy sosiale media is goed, sleg of neutraal?

Sosiale media kan nie neutraal wees nie. Dit is nie geprogrammeer om neutraal te wees nie, dit is geprogrammeer om algoritmies te wees. Dis juis bedoel om jou te beïnvloed, om met jou gevoelens te werk, en is daar om jou te verslaaf.

Wat ons verslaaf is dopamien wat afgeskei word. Dopamien, vir die wat nie weet nie, is die goedvoel-hormoon, of ons kan ook sê die beloning-hormoon. Die nadeel van te veel dopamien is dat dit na angs, te veel energie met ’n skielike val in energie, bekommernis (stres), slapeloosheid en aggressie kan lei.

Dis maar ’n kort opsomming, en net een van die nadele wat ons van sosiale media kan noem. Ons moet egter ook onthou dat ons sosiale media tot eer van God kan gebruik.


Beoordeel nou of jou gebruik van sosiale media volgens God se Woord goed en reg is. Dink oor die volgende vrae:

1. Wat wys jy van jouself op sosiale media?

Deel jy graag iets op sosiale media? Sou jy dit deel as jy onthou dat die Here dit ook kan sien? Wat motiveer jou om dit te plaas of deel?

1 Korintiërs 10:31 sê dat ons alles moet doen tot eer van die Here. Daarom moet jy met elke plasing vra: Sal dit die Here eer? Wys dit dat ek aan die Here behoort?

2. Kan jy maar net sê wat jy wil?

Omdat ons met sosiale media nie van aangesig tot aangesig kom nie, maar agter ’n skerm sit, het mense die geneigdheid om sommer net te sê wat hulle wil.

Filippense 2:3-5 antwoord ons:

Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

3. Soek ek aanvaarding of goedkeuring van ander?

Gaan kyk jy elke keer hoeveel opmerkings of “likes” daar al op jou plasing is? Dan plaas jy jou waarde in die verkeerde hande. Wie bepaal ons waarde? Dis beslis nie mense nie! Ons hoef onsself net aan God se Woord te meet.

4. Is dit wat jy plaas waar?

Ons moet seker maak dat ons nie leuens versprei nie. As wat jy plaas nie waar is nie oortree jy die 9de gebod.

5. Hoe reflekteer jou plasing Jesus?

Wat jy deel maak saak. Dit maak jou hart bekend. Soms plaas ons ’n verkeerde ding en moet ons gereed wees om om vergifnis te kan vra.


Hoe doen ons verantwoording oor wat ons plaas?

Apostels het vir hulle tyd geskryf. Nooit sou hulle kon dink hoe die wêreld sal verander nie. Dit was sekerlik nie in hulle gedagtes nie. God het wel bedoel dat sy Woord ons vandag nog onderrig. En sy Woord is steeds genoeg.

Laat hierdie woorde van 1 Petrus 3:15 jou lei in jou gebruik van sosiale media:

Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees …

Die woord “altyd” in hierdie vers moet ons ook herinner dat dit oor ons tyd gaan. Dink doelbewus aan hoe jy jou tyd gebruik.


Jou tyd behoort aan die Here

Hoeveel uur spandeer jy elke dag op jou foon? Google wys dat mense ongeveer 2 ure en 30 minute op ’n dag op sosiale media is.

Ons tyd behoort aan die Here! Die Bybel sê ook dat ons die tyd moet uitkoop, wat beteken dat ons ons tyd op ’n wyse manier moet gebruik. Wat is die eerste ding waarna jy gryp in die oggend? Word jy van sekonde 1 af afgetrek van die Here af?

Die probleem is nie noodwendig dat ons ons selfone gebruik nie, die vraag is eerder wat ons in die plek daarvan afskeep: ’n Goeie beginsel is: Bybel voor tegnologie!


Soek in alles die eer van die Here

Die Bybel moet ons lei in elke deel van ons lewe, wat ons digitale en sosiale media gewoontes insluit. In alles moet ek altyd vra: Wat doen dit aan die beeld van die Here?

As ek sê ek is ’n gelowige, moet dit oral gesien kan word, ook in sosiale media. Tegnologie en sosiale media is dus nie net sleg nie, maar ek moet dit weldeurdag gebruik en altyd daarin die eer van die Here soek.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui