God sorg, sê Jesus se bergprediking

Ons weet nie wat more inhou nie, maar God doen. Ons moet ons beywer om onder die wil van God te lewe. Lees hier meer.

deur ds Lohan Linde


Verbeel jou dat jy een van dié mense was.
Om jou is daar tienduisend mense. Jy probeer kyk wat voor jou is.
Is ek by ’n konsert? Die skare raak stil? Die persoon voor jou skuif so ’n bietjie.

En daar, op die berg, sien jy Hom. Christus, jou verlosser,

en Hy preek.

Dink aan die mense se reaksie op die voorbeelde wat gebruik is, wat ons in Matteus 6 lees. Die voëls wat rondom en bo hierdie skare vlieg, die gras waarop hulle sit, die lelies wat teen die berg groei. Dit is alles dinge wat deel was van hulle daaglikse bestaan, hulle omgewing, hulle kon daarmee assosieer.

Hierdie is nie geleerde mense nie, inteendeel, hulle was almal waarskynlik vissers of boere. Hulle het gehoor van hierdie wonderlike Leermeester en nou is hulle hier om na Hom te kom luister.

En nou sê Hy vir hulle, hulle wat geen benul het waar vanaand se kos vandaan gaan kom nie, want hulle was heeldag besig om vir Christus te luister, dat hulle hul nie hoef te bekommer oor hulle lewe, en oor wat hulle gaan eet of drink nie.

Hy praat seker nie van my nie, ek is ’n armsalige visserman,

kan party dalk by hulself dink. Maar Christus praat duidelik nie hier van ryk mense nie. Hy praat van die wat net-net die pot aan die kook hou. Die wat hulself bekommer oor hul gesin se volgende ete, of sy volgende loon.

Christus wys hierso wat belangrik is in die lewe.

Die Koninkryk van God, die Wil van God, die lewe onder sy heerskappy, dit is die dinge wat saak maak. Nie liggaamlike goed nie. Want, dié mense het ’n kans van ’n leeftyd, om vir Christus te hoor preek, en om jou dan oor ander dinge te kwel sou net ’n skande gewees het.

Jesus sê vir ons in vers 25:

Daarom sê ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe nie.

Hoe kan ons, ons dan nie oor ons lewe bekommer nie?

Vra Christus hier van ons ’n onmoontlike ding? Of ken God ons net beter as wat ons onsself ken?

Kom ons kyk na wat Christus bedoel met hierdie bekommer. Die bekommernis wat hier genoem word is soos om te stres voor ’n eksamen of dalk ’n vergadering by die werk waar jy ’n voorlegging moet doen.
Jou eindeksamen dalk. Of ’n werksonderhoud.

Maar in plaas daarvan dat hierdie stres, hierdie bekommernis, jou aanspoor om te begin leer, of te begin voorberei, verlam dit jou. Dit is so erg dat jy nie kan konsentreer nie. En hoe meer jy jou bekommer oor hierdie ding, hoe minder kry jy gefokus daarop.

Dit is nogal vreesaanjaend om so iets te ervaar, en net die gelukkiges onder ons het dit nog nie ervaar nie.

Die bekommernisse waarteen Jesus ons waarsku is dus teen die tipe bekommernisse wat fokus wegvat van God af, en dit op die aardse dinge rondom ons plaas.

Ons prioriteite moet ook Koninkryksgerig wees, dat ons weet wat belangrik is, en wat minder belangrik is.

Die voorbeeld wat hier aan ons genoem word is seker een van die mooistes in die hele Bybel:

Jesus sê dat ons na die lelies moet gaan kyk.

Hulle het nie ’n werk om hulle oor te bekommer nie, hulle bekommer hulle nie oor geld nie, maar selfs die roemryke Salomo was nie geklee soos een van hulle nie.
Die lelies versier die gras van die veld.
Die gras van die veld wat vandag nog groei, maar more afgesny word en in die son lê en verdroog, en dan vir voer gebruik word, of om vuur mee te maak.

God klee die gras dan met lelies, hoe sal Hy ons dan nie klee as ons onsself aantrek met sy Geregtigheid en soek na sy Koninkryk nie?


Die Koninkryk van God beteken die heerskappy van God.

Daar waar Hy regeer, en as Jesus dan vir ons sê om dit te soek, beteken dit dat ons onder die regering van ons Almagtige Vader moet lewe.

Dus moet alles wat ons doen tot eer van die Regering van ons Vader wees. Dit is daarom dat Jesus hier vir ons sê dat ons ons moet beywer om onder die wil van God te lewe. Die wil van God moet bo-aan ons lysie van prioriteite wees.

Christus het nie vir ons gesterf sodat ons nou kan maak soos ons wil nie. Nee, Christus het vir ons gesterf sodat ons kan vry wees, vry van bekommernisse, bekommernisse van wêreldse dinge.
Dat al waaroor ons onsself mag bekommer die wil van God is en die soeke na sy geregtigheid.

Dit is ’n wonderlike ding wat Jesus hier aan ons belowe, dat God alles weet, dat Hy weet wat ons nodig het en wat ons tekort kom.


Ons weet nie wat more vir ons inhou nie, maar ons weet dat God ons Vader is, en dat Hy ons alles sal gee wat ons nodig het, en al wat God van ons vra is om ons dankbaarheid te betoon deur God die regmatige plek bo-aan ons prioriteitslys te gee.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui