Die wysheid van Agur wat onwys voel
In Spreuke 30 kry ons die spreuke van Agur wat tot die slotsom kom dat die mens nie wys genoeg is om alles oor God te verstaan nie. Lees hier wat ons by hom leer.

deur ds Brahm Robinson
Spreuke 30 begin met die woorde van Agur wat handel oor die nadenke oor God. Die boek Spreuke gaan oor lewenswyshede. Dit leer jou hoe om jou lewe met wysheid in te rig. So ken ons almal byvoorbeeld die Spreuke van ’n dwaas en ’n wyse man, die Spreuke vir kinders se gehoorsaamheid, ensovoorts. Net voor die einde van die boek Spreuke, kry ons hierdie wysheid van Agur dat daar eintlik ’n beperking aan menslike wysheid is.
Wie was Agur?
Daar is niks oor Agur aan ons bekend nie. Hoewel die Bybel vir ons dit duidelik maak dat hierdie uitsprake van ’n persoon is oor dit wat hy persoonlik ervaar en moes verwerk het, is dit nie noodsaaklik om meer van hom te weet nie. Dit kan dus enige mens persoonlik wees.
Vir wie skryf Agur?
Agur begin sy spreuke met die woorde (soos in die 1983-vertaling staan), dat hy dit aan twee mense skryf, naamlik Itiël en Ukal. Volgens die vertaling skryf Agur die spreuk aan twee mense wie se name ‘moeg’ en ‘uitgeteerd’ beteken. In die meer letterlike vertalings, word die woorde nie as eiename vertaal nie.
Dit is die uitspraak van die man: Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan.
Spreuke 30:1 (2020-vertaling)
Hy het dit dus nie noodwendig aan spesifieke persone geskryf nie. Dit dui eerder op ’n beskrywing van Agur se emosies en gemoedstoestand. Itiël en Ukal word dan vertaal dat hy sê hy is uitgeteerd en moeg. Agur sê hy het homself moeg gemaak en hy versmag (1933-vertaling).
Agur was moeg en uitgeteer as gevolg van sy denke
Wanneer ons dink aan iemand wat moeg is, dan dink jy aan iemand wat die grense van wat hy fisies kan doen oorgesteek het, en nou moet rus. Jy kan nie verder gaan nie. Jy is moeg want jy het dalk te lank wakker gebly of te vêr gehardloop. Mens sien iemand wat nie meer kans sien om verder te gaan nie en eers moet rus.
Maar tog in die res van die gedeelte wat volg, is dit duidelik dat Agur nie swaarkry omdat die Here te veel liggaamlike spanning oor sy pad gebring het nie. Agur was moeg as gevolg van sy eie denke – sy verstand – Hy was uitgeteerd en moeg. Hy was met ’n stryd in sy gedagtes besig om die Wese en werke van God volledig te probeer verklaar. Hy het gestoei om God uit te redeneer. Agur wou ’n uiteensetting in sy gedagtes kry om God daarin te plaas, sodat hy presies vir God kan verstaan. Hy is besig om vanuit dit wat hy weet, God se grootheid of perke vas te stel.
Agur kom tot die besef dat hy onwys is
Maar Agur kom noodwendig tot die gevolgtrekking wat hy net daarna sê: hy is onwys. Eintlik dat hy te dom is. Met hierdie onwysheid of domheid bedoel hy nie letterlik dat hy verstandelik gestremd is nie. As dit die geval was sou hierdie uitspraak sekerlik nie in die boek “Spreuke” opgeneem gewees het nie.
Maar, met die dat hy homself vergelyk dat hy nie eers genoeg verstand het om ’n mens te wees nie of soos die nuwe vertaling dit aandui dat hy meer dier as mens is, bedoel hy dat hoe meer hy daaroor dink, hoe dommer voel hy. Hy as mens het nie die verstandelike vermoë om God se Wese en werke uit te redeneer nie.
Aanvaar dat God groter is as wat jy kan dink
Agur maak eintlik die belydenis dat hy sy limiete in sy denke bereik het en homself moeg gemaak het. Maar God is nog soveel groter as wat ’n mens kan dink. God is oneindig groter as die grootste gedagte van God wat ’n mens kan dink. Agur se denke oor God is nie eers vergelykbaar op ’n skaal met God nie.
Daarin lê wysheid: dat ons moet verklaar dat God in sy heerlikheid vêr bo menslike begrip is. As ons God se wese of bestaan wil verklaar, moet ons net eenvoudig die knie buig dat ons nie meer kan weet as wat Hy aan ons openbaar nie.
Paulus sluit in Romeine sy argument oor God se raadsplan wat vêr bo menslike rede is, so af:
O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
Romeine 11:33-36