Neem voor om die Here in alles te ken

In Spreuke 3 sien ons die sleutel om met wysheid te leef. Laat dit jou help om jou voornemens te stel. Lees hier.
deur ds Werner Brotherton
Aan die begin van ’n nuwe jaar het ons gewoonlik voornemens om in sekere opsigte van ons lewe te verbeter. Dit voel vir ons soos ’n nuwe begin. Maar, soms tref die harde werklikheid: Hoe doen ek dit? En meer nog, hoe doen ek dit uit die geloof?
Die boek Spreuke gee vir ons baie mooi leiding hiervoor. In Spreuke gaan dit oor wysheid, en wysheid is die kuns of vaardigheid om te leef. Aan die begin van die nuwe jaar kan ons dus vra: Hoe lyk dit om met vaardigheid tot eer van die Here te leef? Hoe leef ek met wysheid?
Leef met wysheid
Die sleutel om met wysheid te leef staan baie mooi opgeskryf in Spreuke 3:5-8.
Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
Deur die boek Spreuke kry ons twee opdragte wat elke nou en dan herhaal: “Vrees die Here” (vers 7) en “vertrou op die Here” (vers 5). Dit wil vir ons voel of die twee gedagtes mekaar weerspreek, maar dit is juis die teenoorgestelde. Hulle komplementeer mekaar baie mooi.
Vrees en vertrou die Here
Ons vrees die Here oor sy grootheid en sy heiligheid, maar op dieselfde tyd vertrou ons op Hom juis oor sy grootheid, heiligheid, goedheid en genade. Ons sien iets van hierdie vrees en vertroue net na die uittog uit Egipte. Die volk sien hoe wonderlik die Here die Rooisee voor hulle oopkloof. Hulle sien hoe hulle verlos word van hulle vyande wat hulle agtervolg.
In Eksodus 14:31 lees ons:
Ook het Israel die magtige daad gesien wat die Here aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die Here gevrees en geglo in die Here en Moses, sy kneg.
So kan ons ook terugkyk na ’n jaar en die groot dade van die Here sien. En omdat ons die Here ken uit sy Woord en werke lei dit na vertroue vir wat in die nuwe jaar wat voorlê. Wanneer ons onsself afvra wat die Here van ons wil hê is die antwoord baie eenvoudig: Vrees die Here en vertrou die Here.
Vrees en vertrou, én ken die Here in wat jy doen
Die opdrag in ons teksgedeelte om die Here te vertrou staan egter nie alleen nie. Vers 6 gee ook nóg ’n opdrag: Ken die Here in al jou weë. Dit klink baie soos die gelowige van Psalm 1 waar ons ook leer hoe om die Here te ken. Ons moet met vreugde die Wet (Woord/Bybel) van die Here ken en dit dag en nag oordink.
In die praktyk van ons lewe beteken hierdie vers dat ek in alles wat in my lewe gebeur die Here moet ken: of dit nou groot besluite is wat ek moet neem; of die afsterwe van ’n geliefde; of ook wanneer iets goed gebeur, soos ’n beter werk; ensovoorts. In dit alles moet ek vra wat die wil van die Here is, en sy wil leer ek in die Bybel ken.
Maak ’n voorneme om meer Bybel te lees
Dit beteken dat saam met al my ander voornemens moet ’n voorneme wees om meer tyd in God se Woord te spandeer. Die persoon wat werklik in wysheid leef is iemand wat nie sy vertroue in homself sit nie, maar in die Here alleen. Met jou hele hart, in al jou weë. Geen deel van ons lewe kan geskei wees van die Here nie.
As dit met jou goed gaan, vertrou jy op die Here as die bron van alle goedheid. Wanneer allerhande beproewinge jou tref vertrou jy op die Here om uitkoms en bewaring. Spreuke 29:25 som dit vir ons baie mooi op:
Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.
So word ons beskut in Christus. In Hom lê al ons verlossinge. In Hom is ons ewig behoue, ook in die nuwe jaar wat voorlê.