God voorsien aan elkeen se behoeftes!

Wanneer die volk in Eksodus deur die woestyn trek, dink hulle dat Moses vir hulle moet sorg. Lees hier hoekom ons soos die volk moet én kan ons vertroue in God plaas.

deur ds Adriaan Broodryk


Dit is deel van die natuur en ook eg menslik om te wil oorleef. Die dryf na oorlewing kan die mens soms rasend maak wanneer jy nie sien wat jy vir hierdie taak nodig het nie. Dink jou nou in hoe die Israeliete gevoel het toe Moses hulle die dorre woestyn in gelei het! Die mense het onder mekaar gemurmureer en selfs teen Moses en die tweede-in-bevel (Aäron) in opstand gekom.

“Hoe gaan ons oorleef?”
“Waarvan gaan ons oorleef?”
“Jy, Moses, het ons darem in die moeilikste van situasies geplaas. Daar was minstens kos in Egipte!”

Die volk kyk na Moses vir hul oorlewing

Desperaatheid kan veral lelik raak as die mens nie weet waar sy hulp vandaan gaan kom nie. En dit is juis dit: die volk was onder die indruk dat Moses die kragte ontvang het om ’n mate van voorspoed aan die volk te verskaf. Ons sien hierdie gedagte in die volgende hoofstuk voortleef: selfs Moses was onder die indruk dat God hom die kragte gegee het om water uit ’n rots te slaan.

Dit is wel nie die waarheid nie. Dit was nooit Moses wat moes voorsien nie. Die voorsienigheid van God se genade is wat die volk aan die gang gehou het. Ook ons vandag.


Voedsel in die Bybel – as beeld én oorlewing

Die gebruik van voedsel in die mens se geskiedenis is bitter belangrik. Ons sien dit dwarsdeur die Bybel. Ons gebruik selfs die voorbeeld van brood om ons daaglikse behoeftes van die Here te vra. Later in dié artikel leer ons meer daaroor.

Wanneer ons hierdie gedeelte (Eksodus 16) van die Skrif bestudeer, moet ons onthou dat die ruimte waaruit die Israeliete kom en waaraan hulle gewoond was, deur landbou redelike oorvloed geniet het. Van wat ons weet was die laaste knellende hongersnood bykans vier eeue vantevore. Vandaar het die mense in Egipte die Nylrivier weer as lewensaar gebruik. Lande is voorberei, vore is gegrou en voedsel is verbou.

Dink jou nou in: ons trek uit ’n land van betreklike oorvloed – na die “Land van melk en heuning” – maar al wat ons sien is ’n dorre woestyn. Geen water, geen kos, geen voorspoed.


Moses weet om God te vertrou vir oorlewing

Eg menslik, raak die mense bekommerd. Eg menslik, soek hulle antwoorde tot die vraagstuk by hul leier. Die volk plaas hul vertroue in Moses. Wat hulle nie besef nie, is dat Moses ook maar net ’n mens is. Hy het nie beheer oor enige magiese kragte nie.

Wat Moses wel besef, is dat voorsienigheid net van God af kom.

Hoe moes Moses nie die Here vir uitkoms gesmeek het nie! Hoeveel beter as die hele volk nie na die Here gedraai het nie!

Die Lewende God het die pleidooi van Moses gehoor en Hy het voorsien. Daar is genoeg vir elke dag se behoeftes om oorlewing voorsien. Die volk kon die oggend manna opgetel het en in die skemer kwartels.

Manna is gebruik om brood te berei en kwartels het die nodige vleis vir die dag voorsien. Daar is natuurlik ook ’n beperking vir hoeveel elkeen mag ontvang en hoe dit gebruik moet word.


God voorsien – net genoeg vir elke dag

Om dit te verstaan, moet ons egter na die sondige natuur van die mens kyk. Die mens kan bra gulsig wees. Veral wanneer jy nie vertroue het in die voorsien van die volgende dag nie. Ons is baie lief om op te gaar en om te mors. Die les wat die Here die volk en ons leer, is dat Hy vir elke dag sal sorg! Ons het nie nodig om oor môre bekommerd te wees nie.

Hierdie gedagte kan ons ook aanspoor tot luiheid, maar ons vertroue in God roep ons op tot werksaamheid. Om te werk en te vertrou is pragtige deugde van die Here.

God se voorsiening sluit selfs ’n rusdag in!

Soos daar vir elke dag voorsien word, het die volk die verantwoordelikheid om op die sesde dag (waarskynlik die hedendaagse Vrydag) dubbeld die rantsoen bymekaar te maak. Die gedagte agter hierdie bevel is ook een van wonder!

Op die sewende dag is die mens nie veronderstel om hom oor sy behoeftes te kwel nie. God leer ons baie duidelik dat Hy op die sewende dag rus. Hy het alles geskape. Hy het sy werk gedoen en daarom was dit goed. Daarom het Hy gerus.

Die volk moes deur hul versameling van kos op die sesde dag besef dat hulle ook op die sewende dag kan rus. Want hulle is nie meer slawe nie! Dit is in hul Godgegewe vermoë om ook op die sewende dag te kan rus en te sien dat hul werk deur die week goed was. Daarom dat die Here hulle die gawe gegee het om vir daardie dag te kon rus. Elkeen het wat hy nodig het.


God voorsien ook wat óns nodig het

Of die volk van die tyd dit besef het of nie, dit is iets wat ons vandag baie duidelik kan sien. Ons sien dit in die Skrif. Ons sien dit in ons lewens. Almal van ons weet veel te meer waar ons daaglikse behoeftes voorsien word.

Ons Here, Jesus Christus, het ons immers kom leer.

Ons moet bid vir ons daaglikse voorsiening

Jesus het vir ons die weg kom baan. Hy het die Vader en die Vader se voorsienigheid duideliker as ooit te vore kom openbaar. Hy leer ons dat ons die vrymoedigheid moet hê om tot die Vader te bid. Vir alles. Om in besonder tot God te bid vir ons daaglikse behoeftes. Hy sal altyd vir ons genoeg gee. Al wat Hy van ons nodig het, is dat ons op Hom (en Hom alleen) moet vertrou.

Dit is nie die wêreld wat aan jou gaan voorsien nie. Slegs God.

Laat ons daarom bid: “… gee, Vader, ons daaglikse brood en laat ons nie die dag van môre vrees nie…”


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui