Is die Heilige Gees in die Ou Testament?

Deur ds. Gerard Meijer

Ons assosieer dikwels die Heilige Gees met gebeure in die Nuwe Testament. Tog is die Heilige Gees op elke bladsy in die Ou én Nuwe Testament. Lees hier hoe die Heilige Gees oral teenwoordig is.


’n Mens kan nie die Gees van God ontvlug nie. Ons lees daarvan in Psalm 139:7 “Waar sou ek heengaan van u Gees?

God Drie-enig skep

’n Mens se kop begin draai as jy dink oor alles wat die Heilige Gees reeds in die dae van die Ou Testament gedoen het. Hy sweef oor die waters van die wêreldvloed (Genesis 1:2). Hy is by as God skep. Wat Hy presies by die skepping gedoen het, word nie vir ons duidelik gemaak nie. Maar een saak staan vas: Hy werk saam. Hy is aktief teenwoordig. God Drie-enig skep. Hy is op ’n besondere manier teenwoordig as die mens geskep word. God het immers gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld” (Genesis 1:26). Dit is nie maar net ’n vreemde manier van praat nie. So praat God Drie-enig, die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die Heilige Gees het alles te doen met die skepping van die mens. Sonder die Gees kan die mens nie leef nie.


Van Adam af word die Gees bedroef

Dit word nog duideliker nadat die mens in sonde geval het. Man en vrou het die Gees van God bedroef toe hulle van die vrug geëet het wat hulle verbied was om te eet. Dit is ’n vreeslike ding om te doen as jy die Gees van God bedroef. Dawid pleit in Psalm 51:11 dat die Heilige Gees Hom nie aan sy lewe moet onttrek nie. Die oomblik as dit gebeur, stort jou lewe letterlik in duie. Koning Saul het dit ervaar. Die Gees van God het in hom gewerk (1 Samuel 10:10). Maar hy het nie die leiding van die Heilige Gees in sy lewe aanvaar nie. Koning Saul het oor en oor teen God in opstand gekom. Hy het hom bewustelik teen die Heilige Gees verset. Die gevolg was ’n ramp. Die Heilige Gees onttrek Hom aan koning Saul en ’n bose gees kom maak plek in Saul se binneste (1 Samuel 16:14).
Reeds in die Ou Testament word ons daarvan bewus gemaak dat daar twee G(g)eeste aan die werk is: die Gees van God en die bose gees. As die bose gees vir koning Saul beetkry, word sy lewe pikdonker.


Josef word deur die Gees gelei

Die Heilige Gees daarenteen laat ’n mens in die lig van God se genade lewe. Hy lei gelowiges om goeie besluite te neem. Meestal is dit duidelik sigbaar dat iemand deur die Gees van God gelei word. Josef is as jongman deur sy broers aan die Egiptenaars verkoop. In Egipte het hy vinnig bekend geword by die Farao en sy mense. Hy het hoogstaande werk gedoen en selfs drome uitgelê. Was dit omdat Josef so ’n briljante jongman was? O nee. Luister na Farao se getuigskrif oor Josef (Genesis 41:38): “Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?” Selfs die heidenkoning herken die werking van die Heilige Gees in Josef se lewe.


Die Rigters was vervul

So het die Heilige Gees ook in verskillende rigters se lewens gewerk. Die Gees van die HERE het op Otniël gekom; hy het Israel gerig (Rigters 3:10). Die Gees van die HERE het Gideon vervul ((Rigters 6:34). Gideon het die volk Israel agter hom bymekaargemaak om oorlog te maak teen die vyand. Die Gees van die HERE het op Jefta gekom; hy het Israel van die Ammoniete verlos (Rigters 11:29). Die Gees van die HERE het oor Simson vaardig geword; hy het ’n jong, brullende leeu kaalhande doodgemaak (Rigters 14:6). So loop die refrein dwarsdeur die donker rigtertyd. Hier en daar en oral kom die Gees van God oor mense. Die Gees hou nie op met werk nie.


Die profete verkondig sy heiligheid

Die profete van die Ou Testament het op ’n besondere manier oor die Heilige Gees gepraat. Jesaja sidder as hy dink oor die aaklige dinge wat in Israel gebeur. Hy noem die Heilige Gees die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging (Jesaja 4:4). Die Heilige Gees kan inderdaad uitruk en weggooi. Hy troos nie net nie, Hy vermaan ook.
Jesaja is baie diep onder die indruk van die heiligheid en almag van God se Gees. Die Gees word nie verniet Heilige Gees genoem nie. “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?” (Jesaja 40:13). Paulus se woorde in Romeine 11:34 sluit hierby aan: “Wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” Niemand nie! Ons het ’n diep respek vir die Heilige Gees.


Esegiël en Joël profeteer oor sy werk

Oor die kragtige werk van die Heilige Gees in die lewe van God se kinders profeteer Esegiël. “Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe Gees in julle binneste; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in julle binneste gee” (Esegiël 26:26-27). Esegiël verduidelik presies wát die Heilige Gees met die gelowiges gaan doen. Hy sal maak dat ons in die insettinge van die Here sal wandel en sy verordeninge sal onderhou. Joël se profesie sluit daarby aan. “Ek sal my Gees uitgiet op alle vlees en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitgiet” (Joël 2:28-29). Joël profeteer oor Pinkster.

God is van altyd af dieselfde en sal altyd bly.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui