Die merkwaardige profetes Anna

Alhoewel Anna nie ’n moeder is nie, is sy ’n merkwaardige vrou wat God gedien en Jesus, die Messias, verkondig het. Lees hier meer.
deur ds Daniël Myburgh
Die mense van die Bybelse tyd het ’n heel ander beskouing van gesinne gehad as meeste van ons vandag. Die pa was die énigste hoof van die huis aangesien ’n vrou as minderwaardig teenoor ’n man beskou is. In vandag se tyd deel meeste gelowige ouerpare hierdie verantwoordelikheid. In die Bybelse tyd was dit die pa van die huis se verantwoordelikheid om sy kinders van die Here te leer (Deuteronomium 6: 6-7), maar in vandag se tyd leer meeste kinders by ma’s Wie die Here is.
Kinders is ’n seën van God
Om gelowige ouers te hê, is sekerlik een van die grootste seëninge waarvoor énige kind kan vra. En om ’n ma te hê wat vir ’n mens tyd het en wat moeite doen om jou kennis van die Bybel te verbreed, is ’n wonderlike voorreg. Maar wat as ’n vrou nooit die geleentheid kry om ’n ma te wees nie? Hoe behoort ons gesindheid te wees wanneer ’n gelowige vrou biologies nie kán kinders kry nie?
In die Bybelse tyd was kinders – net soos vandag – beskou as ’n seën van die Here. Gelowiges van daardie tyd het gemeen dat dít die manier is waarop God ’n vrou seën – deur vir haar kinders te gee. En as ’n vrou ’n ma van ’n seun (of seuns) kan word, dan is dit ’n besónderse seën (vgl. Psalm 127).
Wat as paartjies nie kinders het nie?
Maar wat van ouers wat nét dogters het? Meer as dit – wat van ouers wat nie kán kinders kry nie? Is hulle minder geseënd? Het die Here hulle minder lief? Is dit God se manier om ’n mens te straf, deur jou onvrugbaar te maak?
Te danke aan Christus is die antwoord op al hierdie vrae ’n duidelike: “nee!” Dit is dalk hoe die Ou-Testamentiese gelowiges gedink het, maar dit is nie hoe ons daaroor behoort te dink nie. Wanneer God die sonde straf, dan straf Hy dit met die ewige dood (Genesis 2: 16, 17) en nie met siekte of ’n biologiese tekortkoming nie. Dogters is net soveel werd vir die Here as seuns – en dit behoort ook só te wees vir hulle aardse ouers.
Drie unieke vrouens in die Nuwe Testament
In Lukas 1 en 2 lees ons van drie besondere vroue wat elkeen ’n unieke roeping van die Here ontvang het. Ons lees, eerstens, van Elisabet wat die ma van Johannes die Doper geword het. Daarna lees ons van Maria, die een wat gekies is om Jesus Christus se ma te wees. En laastens lees ons van Anna – die onbekendste van die drie.
Net drie verse in die héle Bybel beskryf dit wat Anna gedoen en gesê het (Lukas 2:36-38). Ons lees dat sy ’n profetes was. Dit beteken dat God besondere openbarings aan haar bekend gemaak het. Soos Gulda (2 Konings 22:14-20) en Debora (Rigters 4) het God aan haar sekere boodskappe gegee wat sy aan beide gelowiges én ongelowiges moes gaan oorvertel.
Anna, die profetes
Vanuit hierdie paar verse kan ons aflei dat Anna nie kinders van haar eie gehad het nie. Ons lees ook dat sy al ’n bejaarde weduwee was. Met wie in haar gesin sou sy dan oor die Here gepraat het? Aan wie sou sy dan die boodskappe van die Here oorgedra het?
Sy was stoksielalleen. Eensaam en verlate. Sy het nie die ondersteuning en beskerming van ’n man in die huis gehad nie. Sy was maar net sewe jaar getroud en van toe af is sy alleen. En juis daarom het sy haar vertroue alléénlik in die Here geplaas.
Anna het ten volle op God, haar Vader, vertrou vir haar beskerming en versorging. Ons lees dat sy konstant in die Here se teenwoordigheid was en dag en nag gebid het – vir haarself én vir ander (vgl. 1 Timoteus 5: 5). Met haar ganse ingesteldheid het sy God geloof en geprys. Met haar leefstyl het Anna haar Skepper en Onderhouer gedien (vers 37).
Anna sien uit na die Messias se koms
Hierdie profetes het uitgesien na die geboorte en die Koms van die Messias, Jesus Christus. Sy het vasgehou aan die belofte dat Hy binnekort gebore sou word. En toe sy hoor dat Hy wél gebore is en dat sy ouers, Maria en Josef, Hom Jerusalem toe gebring het om Hom aan die Here te wy, het sy onmiddellik tempel toe gegaan om God te dank dat die Verlosser gebore is. Laastens lees ons dat sy met al haar medegelowiges oor die Kindjie gepraat het (vers 38).
Wat kan ons by Anna leer?
Hoekom is Anna se verhaal vir ons belangrik? Waarom word sy in die Bybel genoem? Want sy het haar roeping as gelowige vrou uitgeleef, selfs al was sy sonder ’n man en sonder kinders. Sy was nie minderwaardig weens die feit dat sy ánders as Maria en Elisabet was nie. Die Here het ook aan háár besondere genade bewys – Hy het háár ook geseën. Nie noodwendig met kinders van haar eie nie, maar met ’n ware geloof en met buitengewone vertroue teenoor God.
Selfs al is dit dalk vir jou biologies onmoontlik om kinders te kry, is dit steeds vir jou moontlik om God se Woord aan ander te verkondig. Dit is steeds vir jou moontlik om (dalk meer effektief as ander mense) te besef dat jy alleenlik van Gód afhanklik is. Selfs al is jy nie self ’n ma nie, kan jy vir soveel kinders in die gemeente en gemeenskap voorbidding doen. En laastens kan jy God-Drie-enig verheerlik deur konstant mét Hom en óór Hom te praat.
