Wees onderdanig aan die regering

Dis soms moeilik om nie opstandig te raak teen ’n regering wat God ontken nie. Lees hier wat God van jou verwag.

Verwerk uit preke van ds. Danie Snyman

Hoe gehoorsaam ek ’n heidense regering? Dis ’n vraag wat by mens opkom as jy aan die land en sy sake dink. Daar’s egter Christene wat voel dat politieke sake niks met hulle te make het nie. Hoekom sal jy belangstel in wie die regeringsleier in Suid-Afrika gaan wees, as jy in elk geval geen sê daarin het nie? Wat het dit tog met jou siel en jou saligheid te doen?
Ons godsdiens gaan nie net oor ons siele of liggame, of ons verlossing en saligheid nie, dit gaan ook oor hoe ons as verloste mense in hierdie wêreld van God moet lewe. As jy ’n kind van God geword het, maak dit saak hóé jy as sy kind in sy wêreld leef.

’n Mens kan jou indink dat dit vir die Christene in Rome ook ’n belangrike vraag was: Hoe moet ons, wat Jesus Christus as Koning oor ons lewens het, staan teenoor hierdie heidense keiser en sy magte?
Rome was destyds die hoofstad van die magtige Romeinse ryk. Politiek sou daar hoog op die agenda wees, want dis waar die Romeinse senaat en die keiser was.
Vanaf Romeine 12 lees ons hoe ’n verloste, nuutgemaakte mens, prakties nuut in hierdie wêreld moet lewe. In die middel van hierdie onderrig is daar Romeine 13:1-7 wat vir ons sê hoe ons burgerlike owerhede en regerings moet sien en hanteer.
Kom ons kyk na wat God deur die Bybel van die owerhede en ons as onderdane verwag.


Onderdane kry opdragte uit die Bybel

Romeine 13:1

Elke mens moet Hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.

Titus 3:1

Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees …

1 Petrus 2:13-14

Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes …


God het beslis dat daar owerhede moet wees
Dis God wat besluit het dat daar owerhede moet wees. Hy het die instelling gemaak dat sekere mense in die menslike samelewing gesag het om sekere dinge te doen en selfs die reg het om mag af te dwing. Dis ’n ordereëling wat Hý getref het. Dis nie iets waarop die mensdom in ’n referendum besluit het, of wat baasspelerige persoonlikhede uitgedink het nie. Dit kom van God af.
Dit is nie net God se wil dat daar owerhede moet wees nie, Hý beskik ook watter spesifieke owerhede op ’n spesifieke tyd oor ’n spesifieke dorp, stad, provinsie, volk of staat regeer.


Die Here gee reëls vir onderdane

Die Here verwag van onderdane om hulle aan die regeerders te onderwerp. Dit beteken onder andere dat jy:

  • aan hulle respek moet betoon;
  • die belasting wat hulle jou oplê moet betaal;
  • hulle wette moet gehoorsaam – of jy daarvan hou of nie, behalwe natuurlik wanneer hulle wette jou dwing om in stryd met God se wet op te tree; en
  • nie oproer veroorsaak of revolusie stook of burgeroorlog aanhits nie.

Christene is veronderstel om goeie landsburgers te wees. Nie net omdat hulle hard werk en eerbaar leef en vredeliewend is en almal se voordeel soek nie, maar ook omdat hulle respek het vir wet en orde en owerhede gehoorsaam.
Die Here verwag egter nie net van ons om ons aan die owerhede te onderwerp nie, maar ook en veral dat ons vir almal wat regeer en wat gesag uitoefen, moet bid (1 Timoteus 2:1-2). Ons moet beslis bid dat hulle goed sal regeer, en tot geloof in Christus sal kom.


Het jy al ooit vir bekering vir ons regering gebid? Lees hier waarvoor jy vir die regering moet en kan bid.


Owerhede ontvang spesifieke voorskrifte

Dis belangrik om te besef dat dit nie net onderdane is wat reëls en regulasies het nie. Die owerhede ontvang ook riglyne om volgens te werk. Daar is sekere grense vir hulle getrek wat hulle nie mag oorskry nie, byvoorbeeld:

  • Die owerheid behoort op te tree teen dié wat volgens Gód se norme kwaad doen en hy behoort dié te prys wat God se wet gehoorsaam.
  • Die owerheid behoort die grens tussen goed en kwaad volgens die Bybel te trek.
  • Die owerheid kan net optree teen dié wat kwaad dóén en nie teen dié wat kwaad dínk of wens nie.
  • Owerhede regeer net oor die uiterlike gedrag van mense, nie oor hulle innerlike nie. Net God wat weet wat in mense se binneste aangaan en kan hulle daaroor oordeel.
  • Owerhede is dienaarsvan God, nie klein godjies in eie reg wat mense links en regs kan hiet en gebied nie.
  • Owerhede mag nie hul eie belange dien nie, en ook nie gehoorsaam wees aan wat die meerderheid van die burgers wil hê nie. Hulle moet doen wat reg is.
  • Jesus Christus is die Koning van alle konings. Alle konings en alle ander owerhede behoort vir die Here te luister – in die uitvoering van hulle regeertaak en in hulle persoonlike lewe.

In kort: Dink só aan owerhede
Owerhede is ’n instelling van God; dis spesifieke mense wat deur God se beskikking dié spesifieke taak gekry het; maar dit bly mense wat self ook aan God onderworpe is.


Of ons nou wil of nie – solank ons in hierdie wêreld leef, leef ons ook onder wêreldse owerhede, al is ons verlos van sondes en volgelinge van Jesus Christus en kinders van God.
Kinders van God is altyd in diens van God. Hulle moet hulle aan die owerhede wat Hy daargestel het, onderwerp. Terselfdertyd moet hulle bly bid en vra dat Hy vir die land, die provinsie en die stad goeie, Christelike en verstandige owerhede sal gee.
Al is die werklikheid van ons land hoe ver van die ideaal af, mag ons as kerk nie ophou om die Bybelse waarheid te preek, te leer, te bely en na te streef nie.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui