Die Bybel is werklik God se woorde

Ontdek wat 2 Timoteus 3:16-17 beteken wanneer dit sê dat die hele Skrif deur God ingegee is.
deur ds. Werner Brotherton
Die Bybel is darem maar ’n wonderlike boek om te hê. In die Bybel leer ons Wie alles geskep het. Ons leer dat ek, met alles wat ek het en is, aan die Here behoort. In die Bybel leer ek van die wonderlike verlossing in Jesus Christus wat ek so, so nodig het.
Is die Bybel nog relevant vir my?
Tog ontstaan die vraag dikwels of die Bybel nog relevant is. Moet ons die Bybel nie dalk anders begin verstaan nie? Moet ons die Bybel nie in vandag se konteks verstaan nie? Daar is so baie kwessies in die Bybel wat vandag soveel verdeeldheid veroorsaak, is dit nie dalk beter om die Bybel op ʼn nuwe manier te lees nie?
As jy so begin voel, moet jy beter verstaan wat die Bybel werklik is. Die Bybel is nie maar ’n menseboek waarmee ons kan doen wat ons wil nie. Dit is nie maar nog ʼn storieboek waarmee ons aan die slaap raak nie. Die Bybel is die Woord van God.
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk toegerus” (2 Timoteus 3:16-17).
Wat beteken dit dat die Skrif deur God ingegee is?
In 2 Timoteus 3:16 en 17 staan daar iets baie belangrik. Die hele Skrif is deur God ingegee. Wanneer ons in die oorspronklike taal gaan kyk is die woord vir ingegee of inspireer werklik ʼn interessante woord. Dit beteken letterlik ingeasem of ingeblaas. Die hele Bybel is deur God ingeasem.
Wanneer ons gaan kyk na die woord vir Gees sal ons sien dat dit ook vertaal kan word met wind of asem. Dit beteken dat die hele Bybel onder leiding van die Heilige Gees deur mense neergeskryf is. Ja, die Bybel is deur mense geskryf met al hulle gebreke, al hulle vaardighede. Tog is die Bybel ook 100% deur die Heilige Gees geskryf.
Wanneer daar Bybel gelees word, is dit die Here wat praat. Die mense wat die Bybel geskryf het is al dood. Maar die Heilige Gees is waarlik God, en Hy leef waarlik. Die Heilige Gees wat binne ons bly (1 Korintiërs 6) werk binne ons wanneer ons met die Bybel besig is.
Ondersoek van die Skrifte
“Hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).
Kyk net wat ʼn voorbeeld vind plaas in Handelinge 17:11. Hulle ondersoek die Skrifte of dit wat aan hulle gepreek word werklik so is. Die Skrifte was hulle Ou Testament. Uit die Ou Testament het hulle gaan kyk en sien dat Christus werklik in die Ou Testament voorspel was. Wat ons nog hieruit leer is hoe belangrik die Bybel vir hulle was.
Gebruik die Bybel
Die Bybel dra alle gesag oor ons lewe. Wanneer ons ’n preek luister, ’n artikel lees, ’n film kyk, of hoe ook al, moet ons dit aan die Bybel toets. Om te sê die Bybel dra gesag oor my hele lewe beteken dat die Bybel die eerste sê in my lewe het.
Paulus wys vir ons hoe bruikbaar die Bybel is (2 Timoteus 3:16-17). Die Bybel is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. Ontsettend bruikbaar. So baie wat jy met een Boek kan doen!
Waarvoor het ons dan die Bybel nodig?
Hierdie vraag word ook in die teksvers beantwoord: “sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk toegerus.” Die Bybel maak ons volkome vir elke goeie werk toegerus. Die Bybel leer my hoe ek voor God kan lewe. Die implikasie hiervan is dat ek my eie wil eenkant toe plaas. Ek kyk nie hoe ek die Bybel kan omseil nie.
Onderwerp jou aan die Bybel
Die Bybel is altyd
dieselfde. Die Bybel is helder en duidelik en hoef nie anders gelees te word as
2000 jaar gelede nie. In die Bybel hoor ons: So sê die HERE. So sê die HERE oor
my hele lewe.
Maar wat beteken dit vir my? Dit beteken dat die Bybel die sê het oor elke deel
van my lewe. Die Bybel moet bepaal hoe ek dink oor my geld, hoe ek ʼn lewensmaat
soek, in watter kerk ek is, hoe ek my roeping by die werk uitleef. Alles wat jy
doen moet jy aan die Bybel se gesag onderwerp. Om te sê die Bybel is gesagsvol
beteken dat ek met my hele lewe voor die Bybel buig en my lewe volgens God se
Woord inrig.