Moet ons “lewe spreek”?
Hoe moet jy antwoord as iemand sê dat jy lewe moet spreek en negatiewe sinne moet vermy? Ds. Jan-Louis Lee kyk wat die Skrif daarvan sê.
deur ds. Jan-Louis Lee
Jy het seker al
gehoor dat mense dié uitdrukking gebruik: “Spreek lewe!” Dit het selfs dalk al
met jou gebeur dat jy iets sou sê soos: “Ek is besig om verkoue te kry”; of
“hierdie gaan ‘n rowwe week wees” en dan word jy onkant gevang deur iemand wat
jou vermaan: “Moenie dit uitspreek nie!”
Mense wat dít sê, bedoel daarmee dat jou woorde skeppende krag het, dat dit wat
jy sê, gaan gebeur. Daarom moet jy nooit negatiewe dinge sê nie, want dit gaan
die situasie vererger. Jy moet eerder sê: “Ek is ryk, ek is geseënd” en dan
gaan jy skatryk word. As jy siek is, moet jy eerder sê: “Ek is gesond” en dan
sal jy genees word.
Waar kom hierdie beweging vandaan?
’n Amerikaanse Baptis, Essek Kenyon het in die 19de eeu sy siening van die mens se vrye wil met “New Thought”-metafisika vermeng en gesê dat die mens ’n god is, en dat jy jou deur jou denke van siekte en armoede kan bevry. Jou woorde het skeppende mag, soos God, met jou woorde skep. Veral dan op die terrein van die materiële. Jy kan deur woorde ’n beslissende invloed op jou lewenstandaard hê. Die situasie waarin jy jou vandag bevind, is die gevolg van dinge wat jy in die verlede oor jouself uitgespreek het. Jy moet daarom net aanhou om God se Woord hardop uit te spreek, sodat dit wat jy vir jouself sien gebeur, ’n realiteit word. Jy het dan die mag om jou diepste hartsbegeertes te laat waar word. Die “Word of Faith”-beweging het hieruit ontstaan, en bekende predikers is voorstanders van hierdie leerdwaling. Kortom moet jy die Bybel bestudeer en gaan kyk na watter dele op jou spesifieke situasie van toepassing is en dan hardop verklaar: “Hierdie waarheid behoort aan my. Ek eien dit vir myself toe.” Dit is verder besonder belangrik dat jy dit hardop verklaar, want daar lê krag in jou woorde.
Is daar ’n Bybelse basis vir lewe spreek?
Daar word baie
Skrifgedeeltes aangehaal om te probeer bewys dat hierdie ’n leerstelling is wat
deur die Bybel ondersteun word. Jesaja 55:11 en Romeine 4:17
word dikwels aangehaal as ondersteuning van dié beweging. As ons egter na hierdie
teksverse kyk is dit God wat in beide aan die woord is. Dit het alles met ons
geloof te doen en het geen toepassing op die woorde van mense nie.
Een van die belangrikste leerdwalings kom uit ’n verkeerde siening van Spreuke
18:20-21. Ons kyk in meer diepte na wat hierdie vers ons leer.
“Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe…” (Spreuke 18:20-21, 1953-Vertaling).
Jou woorde wys jou hart
Spreuke is deel van ’n groep boeke wat ons Wysheidsliteratuur noem. Ons leer in Spreuke van wysheid wat van God af kom. Wysheid is om in diens van die Here te leef, die teenoorgestelde daarvan is om weg van God te wandel en jou nie deur sy Woord te wil laat leer nie. Spreuke leer ons om ons woorde versigtig te kies; want dit dui die toestand van ons harte aan. Spreuke 17:27 tot 18:21 leer ons oor wysheid in terme van ons monde, spraak, denke en optrede:
- Wyses praat spaarsamig en met insig.
- Jy moenie jou ore aan skinderstories uitleen nie.
- Getrouheid of luiheid dui aan of ons dwaas of wys is.
- Luister na alle feite voor jy jou oor iets uitspreek.
- Let op na die krag van jou woorde.
Die krag van jou woorde
Die Spreukedigter leer ons die
krag van ons woorde; nie skeppende krag soos God nie; maar dat dit mense kan
seer maak. Enkele verse vroeër het die digter self aangedui hoe lewe en dood in
die krag van die tong sit (sien Spreuke 18:5 en 8). Dus, die “vrug van ons
mond” wat ons van lees in vers 20 is die gevolge van ons woorde – of dit
nou goed of sleg is. Ons woorde het daadwerklike gevolge en ons kan mekaar
daarmee opbou of afbreek.
Wat ons eintlik in Spreuke 18 het, is niks anders nie as ‘n samevatting van die
voorafgaande gedeelte – en ons kan nie anders as om dit te eien as ’n
verklaring van die negende gebod nie: “Jy mag nie vals teen ’n ander getuig
nie” (Deteronomium 5:20).
Om lewe te spreek is ’n dwaling
Die Here leer ons onder geen omstandighede hier dat ons woorde skeppende mag het nie. Dit is nie Bybels om lewe te spreek nie. Die Here gee boonop nêrens in enigeen van die 66 boeke van die Bybel vir ons ’n voorbeeld van iemand wat lewe spreek nie.
Daarom moet ons sê: “Spreek Lewe” is ’n leerdwaling. Daar is geen Bybelse basis voor nie en dit is onverantwoordelike Skrifverklaring om dit reg te probeer bewys. God is die enigste een wat skep deur te spreek.
Net God kan lewe spreek
Genesis 1 leer ons
hoe God alles geskep het: “Toe het God gesê … en dit was so…” Die woord
vir skep wat hier gebruik word, word net vir God gebruik. Dit dui aan dat Hy
uit niks skep, dat Hy bo die natuurwette verhef is en dat Hy die hele geskape
werklikheid tot bestaan geroep het (kyk onder andere na Psalm 33:9).
Toe God klaar geskep het, was daar nie sprake van iets wat onvoltooid is wat
die mens met sy woorde nog moes kom aanvul nie. Net God se woorde het skeppende
krag, dit is net God wat lewe gee deur te spreek.
Wat dan net so belangrik is om te onthou is dat God die mens geskep het met die
doel om Hom te eer – die mens is in ’n ereposisie geplaas, sodat ons doen en
late Hom alleen sal behaag.
Verder leer Johannes 1 ons van dieselfde
skeppingsdaad as Genesis 1 deurdat God deur sy Woord geskep het. Ja, dat Hy
geskep het deur te praat, maar dat Hy deur Jesus Christus, die Lewende
Woord, alles tot bestaan geroep het.
Die Bybel sê dat alles deur Hom ontstaan het. “Uit Hom en deur Hom en tot
Hom is alle dinge” (Romeine 11:36).
God is soewerein
Wat ons baie duidelik met hierdie saak moet raaksien is die feit dat die leerdwaling in wese die leuen is van die satan aan die vrou in die paradys: “… julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees…” (Genesis 3:5). Die verlokking ontstaan vir die mens om soos God te kan wees.
Elkeen wat vashou aan die leer van “spreek lewe” glo dit. Dat jy soos God kan skep, dat jy self God is, dat jy ’n invloed op die werklikheid het en wat jy sê, moet gebeur. As die mens “god” wil speel, dan kom hy net te staan voor sy isolasie en vrees sonder God se teenwoordigheid. En so is die leuen in die sondeval ontmasker: Jy is nie soos God nie. Jy het nie die kennis wat God het nie. Jy het wysheid vir die dood verruil.
Hoekom is “spreek lewe” so gevaarlik?
Dit plaas ’n ongelooflike las op die gelowige; want as jou geloof nie sterk genoeg is nie, gebeur die dinge wat jy spreek kwansuis nie. Dit gaan nie oor hoe groot ons geloof is nie; maar die allesomvattende krag van ons Verlosser! Dit verwoes die feit dat Christus ons deur lyding en swaarkry opbou en nader aan Hom bind – want dit openbaar volgens die spreek lewe-benadering gebrekkige geloof. Benader iemand wat probeer lewe spreek, deur die Woord aan hulle te verkondig. Bly by die waarheid wat die Skrif jou leer en moenie daarvan afwyk nie. Verkondig die waarheid van God se evangelie, dat blote, sondige mense nie kan skep deur te spreek nie.