Mag ons kant kies in ’n oorlog?
In hierdie artikel gee Kruispad Bybelse riglyne vir wanneer oorloë en millitêre optredes geregverdig is.
deur ds Marnix Boersema
Gesprekke gons oor die huidige oorlog tussen Israel en die Islamitiese Hamas. Soos met enige oorlog, wil mense hulle skaar by die groep wat hulle meen reg is, terwyl hulle die ander party afskiet as die booswig.
Die vraag waaraan ons wil aandag gee is of ’n Christen werklik ’n kant kan kies? Mág ons sê, die een party in die oorlog se optrede is geregverdig, maar die ander nie?
Wees stadig om te praat
Oorloë is gewoonlik baie kompleks en daar is baie rolspelers en faktore, soos godsdiens, politiek, mag en geld. Dit sal vir ons, as Christene, wys wees om vanuit die staanspoor te aanvaar dat ons waarskynlik nie al die inligting het nie. Dit sal ook wys wees om nie té vinnig te beoordeel en ’n kant te kies op grond van ons eie interpretasie of subjektiewe ervarings nie.
Kom ons behou dus ’n nederige gesindheid, met die erkenning dat God alwetend is en ons nie. Ons oë sien nie ver genoeg nie en ons insig is gans te beperk. Dit beteken egter nie dat ons geen uitsprake mag maak nie – God openbaar vir ons heelwat oor oorloë in die Bybel.
Sommige oorloë is geregverdig
In ’n oorlog kan albei partye natuurlik verkeerd wees, maar daar kan inderdaad ook ’n regte en ’n verkeerde optrede wees.
God verbied nie alle oorloë en millitêre optredes nie, inteendeel, Hy beveel dit in sommige gevalle (Genesis 14; Deuteronomium 20; Josua 10).
Ons gaan nie in hierdie artikel verder daarop in nie, maar let net daarop dat ons nie sommerso die oorloë van Israel in die Ou Testament kan vergelyk met die oorloë van hedendaagse Israel nie.
Ons wêreld is sondig
In ’n ideale, sondelose wêreld, sal oorloë nie gebeur nie en nie nodig wees nie. Maar, as ons ’n Bybelse wêreldbeeld het, dan weet ons hierdie wêreld waarin ons leef is nie die ideaal nie. Dit is sedert Genesis 3 ’n gevalle en sondige wêreld. Francis Schaffer het eens gesê:
In a fallen world some kind of force will always be necessary.
Schaffer is ongelukkig reg, maar dit help ons ook om te verstaan wat die funksie van ’n weermag is. Die Here gee ’n weermag as ’n mag wat veronderstel is om te verdedig en boosheid te beveg!
Die owerheid kies om oorlog te maak
Romeine 13 sê die owerheid “dra die swaard”. Die owerheid is ’n dienaar van God wat dus “met die swaard” die doodstraf moet toedien of dan met millitêre optredes die “kwaaddoener moet straf” (Romeine 13:4). ’n Weermag is ’n mag wat God gee, om geregtigheid in hierdie wêreld vol sonde te laat geskied (Romeine 13:4).
Daar is nog baie oor oorloë te sê, maar dit nou eers daar gelaat. Om terug te kom na ons aanvanklike vraag: kan ons kant kies in ’n oorlog?
Ons het reeds bevestig dat ’n weermag se optrede binne bepaalde omstandighede wel Bybels geregverdig is. Die vraag is natuurlik, wanneer is dit geregverdig en watter optredes is geregverdig?
Bybelse riglyne vir ’n geregverdige oorlog
Hier is ’n paar Bybelse riglyne vir oorloë en millitêre optredes wat wél geregverdig is.
1. Verdediging & Geregtigheid
Wanneer ’n weermag optree ter verdediging van die land en sy inwoners of die bevordering van geregtigheid, dan is die weermag se optrede geregverdig. In so ’n geval tree die weermag op om die “reg … van die magtelose en behoeftige” te handhaaf (Spreuke 31:9).
2. Deur die owerheid beveel
Die Here het nie die “swaard” van Romeine 13 vir die individu gegee nie, maar slegs vir die owerheid. Dit is nie vir ons as landsburgers om reg in eie hande te neem nie. Dit is net die owerheid wat reg en geregtigheid mag handhaaf met geweld.
As individuele landsburgers is dit goed en reg om onsself te verdedig (Eksodus 22:2,3; Lukas 22:36), maar ons mag nie probeer om die swaard van die owerheid vir onsself te neem nie. (Let wel, die Bybel sê nie alle bevele van die owerheid is geregverdig nie, en nie alle oorloë wat deur die owerheid beveel word is geregverdig nie.)
3. Oorlog op regverdige wyse gevoer
Selfs al is ’n oorlog geregverdig, beteken dit nie die weermag mag oorlog voer soos hulle wil nie. Die Here sê bv. in Deuteronium 20, dat Israel tydens oorloë nie die vyand se land so moet verniel en vernietig dat dit nie meer kos vir hulle kan lewer na die oorlog nie (20:19).
Onskuldige landsburgers wat nie direk betrokke is in die oorlog nie, mag ook nie voor die voet doodgemaak word nie – dit is onregverdige oorlogsmisdaad en moord.
4. Oorlog ná pogings tot vrede
Een van die regulasies wat die Here neerlê vir oorloë in Deuteronomium is dat oorlog nie die primêre strategie moet wees nie. Die volk moes eers vrede vir die vyand aanbied (Deuteronomium 20:10). Sou hulle egter die vredesaanbod weier, dan eers sou die volk kon oorgaan tot volskaalse oorlog.
Hierdie beginsel geld steeds, want ons is veronderstel om sover moontlik in vrede met alle mense te leef (Romeine 12:18). Om sommerso oorlog te voer sonder enige pogings tot vrede, kan nie geregverdig word nie.
Hierdie riglyne is oorgeneem en verwerk vanuit Geisler, N.L. se Christan Ethics, bl. 237-238
“Onskuldige landsburgers wat nie direk betrokke is in die oorlog nie, mag ook nie voor die voet doodgemaak word nie – dit is onregverdige oorlogsmisdaad en moord.”
Hierdie is nie noodwendig waar nie. In dieselfde Deut 20 en vele ander plekke word die banvloek uitdruklik beveel.