Die geestelike oorlog in jou
Hoewel daar oorlog in die wêreld is, is daar ook ’n oorlog in die gelowige. Lees oor die vyand wat jou probeer takel, en hoe om dié vyand te verslaan.
deur ds. Jan-Louis Lee
Daar was in die geskiedenis waarskynlik nog nooit ’n tydvak waarin daar geen vorm van oorlog of konflik êrens op die aarde was nie. Die laaste jaar of wat is oorheers deur die oorlog tussen Oekraïne en Rusland, met die verbysterende aanval in Israel van 7 Oktober 2023 wat tot dusver nog elke dag in die nuus was – soveelso dat mense praat van die openingstonele van die Derde Wêreldoorlog.
En omdat dit ’n amper universele en bekende verskynsel is, is dit ’n kragtige beeld om toe te pas in ons geloofslewe.
Die daaglikse oorlog wat woed
Ons lees in Efesiërs 6:12 van ’n oorlog wat elke dag woed:
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug …
In teenstelling met die sigbare oorloë wat wêreldmoondhede teen mekaar voer, is hierdie ’n onsigbare oorlog in die harte van God se kinders. Maar net omdat dit onsigbaar is, beteken dit nie dat die vyand minder geslepe en die oorlog minder bloeddorstig is nie.
Die vyand in ons daaglikse oorlog
In ons belydenis, Heidelbergse Kategismus Sondag 52, kry ons ’n belangrike kykie na presies wie ons aanvallers in die stryd is. Die gewig van die oorlog is van die begin af duidelik, want wanneer ons bely dat ons elke dag in ’n stryd teen versoekinge gewikkel is, bewoord die kategismus dit as volg:
Daarby hou ons doodsvyande … nie op om ons aan te val nie…
Vyande wat daarop uit is om met venyn en woede jou dood te maak, en as dit moontlik was, jou verlossing van jou te steel.
1. Die duiwel as vyand
Die eerste meedoënlose vyand is uiteraard die duiwel. Die draak, die slang, die listige een wat met brandpyle jou probeer oortuig dat jy te ver heen is. Die vader van die leuen in wie daar absoluut geen waarheid is nie. Hy is in ’n voortdurende stryd teen God en sy kinders omdat hy uit die hemel gewerp is met die wete dat hy min tyd het (Openbaring 12:7-12). Hy spits sy aandag op die kerk toe soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy in sy strik kan vang.
Van die beste taktieke van die duiwel is om met ’n halwe waarheid ons te probeer oortuig dat God nie bestaan nie, dat daar nie iets soos die duiwel is nie, of dat daar nie ’n vaste waarheid is nie.
2. Die wêreld as vyand
Die volgende vyand is die wêreld. Nie God se pragtige skepping nie, maar die verdorwe wêreld waar die Satan regeer. Dit is hierdie wêreld wat ons probeer oortuig om in ’n bepaalde stroom agter die nuutste ‘mantra’ of ‘waarheid’ aan te sloer en eintlik maar te maak soos wat jy wil.
3. Jou sondige natuur as vyand
Die laaste doodsvyand is amper die ergste. Jy kan na buite baklei en stry, maar hoe maak jy as die man of vrou in die spieël dinge wil doen, begeertes het, sondes wegsteek en anders wil leef as wat God bepaal. Dis soms dubbeld so erg om staande te bly as jou eie, sondige en swakke natuur jou in die steek laat.
Ja, inderdaad ’n woedende stryd van proporsies buite dit wat ’n mens selfs sal wil erken.
Hoe veg jy teen hierdie vyande?
Maar hoe gemaak? Boonop – hoe gemaak as dit voel of jy te ver heen is?
Dit is interessant dat daar in baie geloofskringe vandag die idee bestaan dat die stryd wat woed nog in die weegskaal is. Dat God op een of ander manier nog kan verloor, en dat daar werklik, soos in Chris de Burgh se bekende liedjie, Spanish Train, ’n stryd woed tussen God en die Satan oor die siele van mense.
Maar dit is nie so nie. Romeine 8 verduidelik in afmetinge wat buite ons verwysingsraamwerk is – hoogte, diepte, wydte – dat niks Christus se oorwinning aan die kruis ongedaan kan maak nie. Hy het oorwin en as ek in die wingerdstok geënt is, is ek gered.
En tog woed die stryd hier op aarde nog in al sy felheid. En daarby is ons Hemelse Vader intens betrokke.
God gee ons die wapenrusting
Wanneer Paulus die brief aan die Efesiërs skryf, is hy onder permanente bewaking van Romeinse soldate en gebruik dan daardie wapenrusting van die tipiese Romeinse soldaat om die erns van die oorlog van elke gelowige by hulle tuis te bring.
Dis ’n merkwaardige stuk toerusting wat die Here gee, en die doel van hierdie wapenrusting is om ons staande te hou wanneer dit mag voel of ons wil val. Ons ontvang die gordel van waarheid, die borswapen van geregtigheid, vlytige skoene wat die evangelie kan bedien, die skild van geloof wat ons beskerm teen die pyle van die Satan, en die helm van verlossing. Bowenal kan die gelowige ook aanval met die swaard van die Gees – die Woord.
Geen deel van ons liggame is blootgestel aan aanval nie, en elke deel van ons geestelike lewe word in hierdie gedeelte gedek.
Verslaan die vyand met gebed
Maar terwyl ons dikwels fokus op die elemente van die wapenrusting, vergeet ons hoe die Here ons leer om die stryd te stry. Dit staan ook daar in Efesiërs 6, want dit is onlosmaaklik deel van die wapenrusting: Gebed. Bid in elke geleentheid in die Gees; bid dat daar woorde mag kom om vrymoedig die evangelie te bedien. Bid met volharding en smeking, want dit is hoe jy die aanklagte en die aanvalle van die vyand verslaan.
Ons het verlede maand Hervorming gevier, en ons weet dat Luther, die man wat die vonk in die kruitvat met sy 95 stellinge begin het, dikwels deur sy doodsvyande getakel is. En in gebed het hy die volgende pragtige woorde kon bely:
Dan, wanneer die duiwel jou sonde in jou gesig teruggooi, en daarmee verklaar dat jy die dood en die hel verdien – sê dít:
Ek erken dat ek dood en die hel verdien. Maar wat daarvan? Ek ken die Een wat gely en regverdiging ter wille van my gebring het. Sy Naam is Jesus Christus, Seun van God – en waar Hy is, daar sal ek ook wees.