Wag … en die doel van wag
In Handelinge lees ons van die tyd tussen Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Net soos Jesus vir die dissipels sê om te wag, moet ons ook leer hoe om te wag.
deur ds. Lohan Linde
My dogtertjie kom maak my vroeg die oggend wakker: “Pappa, pappa! Gaan ek ’n verjaarsdagpartytjie mag hou? Wat het die president gesê? Gaan ek kan terug skool toe?” “Nee, my liefie, ongelukkig gaan jy ’n grendel-partytjie moet hou, en dit gaan net ons wees, oor skool toe gaan, dit weet ons nog nie eers nie, dalk een van die dae!”
Ons gaan moet wag … Wag dat die grendeltyd verby is. Wag om weer ons vriende te sien. Wag om partytjies te hou. Wag om ouma en oupa te sien. Wag om uit te eet (gaan ons ooit weer kan uiteet?!) of wag om fliek toe te gaan. Ons moet wag voor ons nuwe babas in ons families kan sien, ons moet wag vir soveel. Wag vir hierdie virus om sy gang te gaan, wag om weer na normaal terug te keer, as daar ooit weer iets soos normaal gaan wees.
Dit het my laat wonder, hierdie woordjie wag. Veral as mens kyk na die tydperk nadat Jesus opgestaan het, tot en met die uitstorting van die Heilige Gees.
Die dissipels moes wag
In Handelinge 1 vers 4 en 5 sê Jesus direk vir die dissipels om te wag. “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Die dissipels word beveel om te wag in Jerusalem, om te wag op die gawe wat aan hulle belowe gaan word.
’n Mens moet seker ook so bietjie geduld betoon aan die dissipels. Hulle het Jerusalem ingegaan voor Paasfees met die idee dat Jesus gaan koning word, kleinletter koning, aardse koning, waar hulle elkeen ’n groot minister sal wees met mag om oor die volk te regeer. Jesus sterf en Hy word gekruisig. Mismoedig gaan kruip die dissipels dan weg. Dit is nie eers dat hulle nou wil wag nie, hulle het nie eers ’n doel nie, geen rigting nie, geen hoop nie, geen toekoms nie. Toe staan Jesus op en oorwin die dood. Skielik word al daardie twyfel en hartseer en hopeloosheid verander in die hoogtepunt van blydskap, van vreugde en hoop. Soveel so dat hulle nou weer begin hoop op iets hier op aarde, iets hier rondom hulle, dat iets nou aan hulle land en regering verander gaan word.
Jesus sê in Handelinge 1 vers 4 en 5 dat hulle moet wag vir die Heilige Gees om te kom, Jesus impliseer daarmee dat Hy gaan weggaan, en die volgende vers is daar weer dieselfde vraag as vroeër. Handelinge 1:6 sê: “Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’” Jesus sê daarop: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7). Hy gee sy finale bevele aan hulle en dan word Jesus in die Hemel opgeneem.
Wag net nog ’n bietjie
Jesus beveel hulle om net nog bietjie te wag, sodat hulle die doel sal sien. Wanneer die Heilige Gees uitgestort word, sal hulle verstaan. Verstaan waarom hulle moes wag, verstaan waarom Jesus na die aarde moes kom, waarom Jesus gekruisig is, waarom Jesus opgestaan het. Dan sal hulle verstaan dat dit eintlik niks met hierdie wêreld en regerings en lande uit te waai het nie, maar dat dit oor soveel meer gaan. Die Goddelike Koninkryk, die plek waar God regeer tot in alle ewigheid, en hoe almal wat glo reeds daaraan deel het.
Ons moet ook leer wag
Wag verander mens se perspektief, mens se ingesteldheid, jou hoop, jou dryfveer. Wie is ek? Wat gaan van my word? Wat is ek werd? Wat gaan hierdie volgende tyd met my gebeur by die skool, universiteit, werk, huis? Gaan daar weer iets soos normaal wees?
Hierdie vrae wat ons vra, voel vir ons nou belangrik, voel asof dit nou die enigste ding is in die wêreld wat saak maak, maar onthou, die Here Jesus het vir sy dissipels gesê, wag, en sien wat gebeur. En kyk net wat hét gebeur! Die Heilige Gees het hulle vervul, sodat hulle kon sien, kon glo, kon getuig.
So ook met ons, as ons nie nou die antwoorde het nie, kan ons vir God vra om ons wysheid en insig te gee, perspektief te gee. Dan moet ons weet dat selfs as die antwoord is om net eenvoudig te wag, sal God ook hierdie situasie waarin ons onsself nou bevind, vir ons ten goede laat uitwerk.
Vertrou net, doen alles wat God jou nou beveel, en wag … dan sal jy sien!
“Pappa, ek sal met liefde saam met my gesin ’n partytjie hou, die groot partytjie kan maar wag tot volgende jaar!”
“Ja, my kind, daar sal weer groot partytjies wees!”