Laat staan jou minderwaardigheid in die geloof

Hoe om jou tiener-minderwaardigheid hok te slaan – kry hier lesse uit die dagboek van iemand wat op skool erg aan minderwaardigheid gely het!


deur ds Lohan Linde

My ma het altyd so geïrriteerd geraak met my in die kleuterskool. As ek begin kerm het, dan het ek wat sy genoem het, my “Niel”-stemmetjie gebruik. Niel was my beste maatjie, en ons het in alles mekaar mimiek. Dit is sekerlik so reg deur jou skoolloopbaan deur, is dit nie?

Jy kry mense in jou vriendegroep waarna jy opkyk, jy wil soos hulle wees, soos hulle optree, soos hulle aantrek. Alles in jou vermoë doen om “in” of “cool” of deel te wees.

So skaaf ons identiteit en ander se identiteite mekaar.

Veral Gr 8 en 9 is rowwe jare. Jy het nie ’n idee wie jy is nie. Jy begin in jou agterkop ’n vae buitelyn of prentjie vorm van wie jy eendag wil wees, maar dit voel asof alles in ’n blender gegooi word, en die knoppie gedruk word, en dit wat dan oor is as jy die masjien afsit, glad nie lekker lyk nie.

Jy vergelyk jou met die seuns en dogters rondom jou, en jy plaas jouself in die rangorde van hoe jy vermoed ander mense jou sien. Daar is die soet kinders, die stoutes, die rebelle, die pliggies, almal kry ’n sekere “label” wat hulle dan saam dra.

Die gevoel van minderwaardigheid

Die hoofopskrif in hierdie artikel gaan oor meerderwaardigheid en minderwaardigheid. Oor minderwaardigheid, veral op skool, kan ek julle persoonlik baie vertel. Om een of ander rede het ek altyd minderwaardig gevoel. ’n Groot gedeelte daarvan was my sogenaamde vriendekring. Wanneer mens in ’n klein skool is, is daar net een groep, en wanneer daardie groep se leier een is wat gesag afdwing deur ’n rebel en uiterste ongedissiplineerde buffel te wees, dan gaan almal maar net saam met die stroom gaan, en meer soos hy probeer wees. As jy dan besluit om dit nie te doen nie, nie so te wees nie, nie so op te tree nie, nie deel te neem aan die partytjies en gemors wat die mense uitdink nie, dan word jy outomaties na buite gestoot.

Dit is nie iets wat outomaties gebeur nie, dis meestal ’n proses van bietjies-bietjies. So word jy in ’n boksie geplaas, en jou selfbeeld word weggesteek of heeltemal afgekraak totdat daar niks oor is nie.

Dié gevoel sal ook verbygaan

Die wonder van daardie jare, veral Gr 8 en 9, is dat dit verbygaan. Gr 10 is op pad. Dit gaan beter word. Die probleme gaan nie weg nie, jou ouers verstaan jou nog steeds nie, buffels bly buffels en boelies bly boelies, maar ek kan kies. Ek kan sien wie ek wil wees, en waarheen ek op pad is. Die groep is nie meer so belangrik nie, want ek het ten minste een vriend of vriendin wat saak maak, wat help dra aan hierdie las van tienerwees.

Die minderwaardigheid bly wanneer ek myself met ander vergelyk. Maar selfs dit dra nie meer soveel gewig nie. Veral nie as ek na Bo kyk nie.

Geloof maak die verskil in jou lewe

Ek kry jongmense jammer wat nie besef hoe belangrik geloof is nie. Dit is jou heel eerste linie van weerstand. Weerstand teen groepsdruk, weerstand teen minderwaardigheid, weerstand teen alles.

Sonder hierdie eerste besef, gaan dit moeilik wees. Die eerste besef wat ons al leer in Heidelbergse Kategismus Sondag 1, Vraag 1: 

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c).


Besef dat jou identiteit aan Jesus behoort

My identiteit, wie ek is, behoort nie eerstens aan my nie, dit behoort aan Jesus Christus. Hy het Lohan kom vat en hom heeltemal verander. Hy het die hart van klip (alles wat ek is, en dink ek is) kom uithaal en my sý Hart gegee. Daardie hart kan verduur, want Christus het verduur. Daardie hart kan die haat van die wêreld antwoord met liefde, want Christus het dit gedoen. Daardie hart kan in die spieël kyk en sê: ek is genoeg, want ek behoort aan God.

My hoop is dat daar êrens iemand is wat na hierdie artikel kyk, en iets van hulself raaksien. Dit het my baie lank gevat om oor baie van my minderwaardigheidskomplekse te kom. (Ek dink ek was 35 voor ek gemaklik geraak het met hoe my liggaam gebou is en lyk.)

Die ergste is seker om te besef dat dit nie eers nodig was om so te voel nie. Wanneer die ander kinders op skool na my gekyk het, het hulle iets heeltemal anders gesien as wat ek self gevoel het. Kyk daar is Lohan, eerstespan krieket, rugby, hokkie, tennis- kultuurseun van die jaar, sportseun van die jaar, dux-leerling (soos ek gesê het, klein skooltjie). Geen rede om minderwaardig te voel nie, en tog, dit is deel van tienerwees en grootword.


Daarom, geliefde leser, kyk eers na Bo. Sien die hart raak wat binne jou is. Neem dit van hierdie oom dominee wat deur dit is, dit raak beter, dit gaan verby, maar dit is makliker om hierdie pad te stap saam met jou Here en Verlosser, Jesus Christus.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui