Nederig en versekerd deur die geloof

Hoe vind jy die balans tussen nederigheid en selfversekerheid? Lees hier hoe dit nie in onsself lê nie, maar in die Persoon van ons Here Jesus Christus.


deur ds Werner Brotherton

As gelowiges kan ons baie maklik die gevaar loop om te dink dat die Bybelse gedagte van nederigheid beteken dat ons moet toelaat dat die wêreld oor ons loop. So asof ons die heeltyd moet dink dat ander beter as ons is. Hoe moet ons dan die opdrag van Romeine 12:3 verstaan wat sê dat ons nie meer van onsself moet dink as wat ons behoort te dink nie?

Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van die geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Romeine 12:3

Dit beteken nie dat die wêreld maar oor ons kan loop nie. Dit beteken nie om skaam oor onsself te wees en geen opinie in die lewe te hê nie. Ons antwoord lê juis in die woorde dat ons nie meer van onsself moet dink nie. Dit beken dat ons ’n bepaalde siening oor onsself moet hê. Ons moet verstaan hoe ons lyk en waar ons in die wêreld staan.


Die opdrag is om nederig te wees

Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees… meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.

2 Timoteus 3:2 en 4

Om nie meer van jouself te dink as wat jy behoort nie beteken om nederig te wees. Dit is die teenoorgestelde daarvan om hoogmoedig te wees wat beteken om ’n liefhebber van jouself te wees soos 2 Timótheüs 3 leer. Hierdie woord vir liefhebber kan ons ook vertaal met selfsugtige liefde. Dit is om ons liefde net vir onsself en op onsself te gebruik. Die ware woord vir liefde beteken juis om aan die belange van ander te dink. Om eerder aan ander se belange te dink is die begin daarvan om jouself neer te lê en nederig te wees. Dit beteken wel dat ons dan sonder selfsug ander se belange bo ons eie moet stel.

So skryf Paulus aan die gemeente van Korinthe dat hulle nie in hulleself roem nie. Hulle is nie hoogmoedig nie. Hulle wil ’n aangename reuk wees vir die wêreld tot eer van God. Hulle roem lê nie in hulself nie, maar in die gemeente van Korinthe, wat ten diepste die werk van die Here is. Hulle roem in die werke van die Here.

Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die lewe.

2 Korinthiërs 2:15-16

Hoe kan ons as gelowiges werklik nederig word?

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.

Mattheus 5:3 & 4

Hierdie antwoord vind ons in Jesus se bergprediking: Om arm van gees te wees en te treur oor die sonde. Hierdie twee eienskappe lê baie na aan mekaar. Om arm van gees te wees het niks met finansies te make nie, maar met ons gees. Ons wese. Nog makliker gesê: dit het te doen met hoe ons onsself sien. Dit beteken dat jy jouself moet sien soos jy voor God is: in sonde en ongeregtigheid gebore.

Sonder God se genade is ons vir die ewige duisternis bestem. Dit is waarom ons die Wet van die Here nodig het: om ons te wys op ons sonde en nood om genade. Dit dryf ons daarna om Christus te soek, want ons kan nêrens in onsself verlossing en vergifnis vind nie as buite onsself in Jesus Christus.

Om arm van gees te wees dra letterlik die betekenis om soos ’n bedelaar voor God te wees. Ons is soos bedelaars wat smeek om vergifnis. En die wondere is dat ons dit in Christus ontvang nog voor ons gevra het! Steeds wil God hê ons moet dit van Hom vra om so ons afhanklikheid van Hom te wys.

Wanneer ons ons sonde voor ons sien saam met ons verlossing lei dit ons daarna om te treur oor die sonde. Ons treur oor ons eie sonde, en ook die sonde van ander. Ons treur oor sonde omdat dit direk teen God se heiligheid ingaan. Om ons sonde te sien en daaroor te treur lei ons om nederig te wees. Dit lei ons daartoe om nie meer van onsself te dink as wat ons behoort nie.


Ons nederigheid lê in Christus

Maar! Om arm van gees te wees beteken nie om te min van onsself te dink nie. Ons mag nooit dink ons is niks werd nie, ons is dan deur Christus verlos! Om ons te verlos het Hy met Sy lewe betaal! Hoe groot is dit! Daarom mag jy nie min van jouself dink nie, maar ook nie te veel nie. Jy is soveel werd dat Christus vir jou gesterf het! Maar ons nederigheid lê daarin dat ons weet ons het net soveel genade nodig soos enige ander persoon.

Ons nederigheid en sekerheid lê nie in onsself nie, maar in die Persoon van ons Here Jesus Christus, want Hy is ons geregtigheid en ons behoort aan Hom. Aan ons behoort die koninkryk van die hemele. Mag die Here elkeen van ons daartoe help om in die geloof, arm van gees, na die kruis te vlug, want daar lê ons sekerheid.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui