As beeld van God behoort jy aan Hom

Vra jouself eerder wie s’n jy is, as wie jy is! Lees hier hoe ons as beelddraers van God antwoorde oor ons identiteit kry.


deur ds Ruan Steyn

Die wêreld is in chaos en die grootste rede daarvoor is dat ’n groot meerderheid van die mens identiteitsloos is. As hierdie mense hul identiteit vind, is dit geleë in sonde, afgode, ander mense of in hulself. Die Kerk het egter ’n belangrike boodskap om in die wêreld te verkondig: ons identiteit is nie in onsself of in ander mense geleë nie – ons identiteit is in God geleë, want Hy het ons in sy beeld geskape.

Wie is ek, vra ons

Meeste mense het al een of ander tyd vir hom/haarself gevra: “Wie is ek?” Ons het nie nodig om die antwoord vér te soek nie, want die Bybel gee vir ons ’n duidelike en troosryke antwoord: Ons is in God se beeld geskape. Ons lees in Genesis 1:26-27:

Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers…’ God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Om in God se beeld geskape te wees, beteken vier dinge:

  1. Dit beteken nie dat ek soos God lyk of goddelik is nie, maar dit beteken dat ek sommige eienskappe van God het. Die mens kan dink en redeneer, ons het ’n wil en ’n gewete, ons kan besluite neem, ons kan liefhê en omgee. Hierdie eienskappe onderskei die mens van die res van die skepping.
  2. Die mens kan ’n duidelike onderskeid maak tussen wat reg en verkeerd is. God het vir Adam en Eva ’n opdrag gegee om nie van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie. Nadat Adam en Eva van dié boom se vrugte geëet het, het hulle dadelik besef dat hulle sonde gedoen het en God se wet oortree het (Genesis 3:8). Die mens wat God se beelddraer is, het ’n morele verantwoordelikheid wat reeds by die skepping in die mens se hart gesetel is.
  3. Die mens is ’n geestelike/spirituele wese. Die mens is geskape om in ’n ewige verhouding/gemeenskap met God te lewe en om Hom alleen te aanbid. Geen ander skepsel leef in ’n verhouding met God soos die mens in verhouding met God leef nie.
  4. Die mens is God se verteenwoordiger op aarde. Die mens het die roeping ontvang om God se koningskap op aarde te verteenwoordig en om sy rentmeesters te wees. Om ’n rentmeester te wees, beteken om die eienaar se besittings en goedere op te pas en te bestuur asof dit jou eie is. Ons is God se rentmeesters wat sy skepping bestuur en oppas asof dit ons eie is. Ons reflekteer God se koningskap, soewereiniteit en heerlikheid deur ons rentmeesterskap/verteenwoordiging.

’n Gebroke beeld weens die sonde

Die sondeval het egter veroorsaak dat God se beeld in die mens deur die sonde verpletter is. Aan die een kant het die mens God se beeld behou ten opsigte van waardigheid en waarde. Die Here het dit duidelik gestel dat moord verkeerd is, aangesien die mens in sy beeld geskape is (Genesis 9:6). Die mens is steeds kosbaar.

Aan die ander kant het die mense se beeld skade gely in die vorm van geregtigheid en heiligheid in ons verhouding met God. Ons gedagtes, begeertes en optrede weerspieël nie meer die koningskap en heerlikheid van God nie, maar weerspieël ons sondige en verdorwe natuur.

Die sondeval het ook veroorsaak dat die mens nie meer oor die skepping heers en getroue rentmeesters van God is nie. Die mens het sy eie behoeftes en begeertes nagejaag en probeer om homself te verryk ten koste van God se skepping. Die sondeval is die rede waarom die wêreld in chaos gedompel is en waarom mense hul identiteit in hulself, in ander mense of in afgode soek en nie meer in die Here nie.

Van gebroke beeld tot herstelde beeld

Die goeie nuus is dat die gebroke beeld weer herstel kan word. Daar is hoop vir die mens, want God is genadig. Romeine 3:23-25 getuig daarvan:

Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word (2020-vertaling).

Christus het ons met God versoen en Hy het die beeld herstel deur die proses van heiligmaking. Die Heilige Gees lei ons om “julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as uwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Efesiërs 4:23-24, 83-vertaling).

Dit is deur die genade van God, op grond van Christus se verlossingswerk en deur die krag van die Heilige Gees, wat ons wedergebore word tot ’n nuwe lewe. Ons is herstel na die beeld van geregtigheid en heiligheid.


Vra eerder: Wie s’n is ek?

Wanneer ons na onsself kyk, hoef ons nie te wonder wie ons is nie. Ons het eintlik nie nodig om te vra “Wie is ek?” nie. Ons kan eerder vra: “Wie sʼn is ek?” Die antwoord daarop is duidelik: Ek is die Here s’n, want Hy het my in sy beeld geskape. Die Here lei ons om te besef dat ons waarde nie in onsself of in die waarde wat ander aan ons gee lê nie. Ons waarde lê in die feit dat ons vir God belangrik is; dat Hy ons “nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Efesiërs 1:4).

Die Here lei ons ook om te besef dat ons elkeen ’n doel op aarde het: om sy verteenwoordiger te wees. Ons verteenwoordig die Here deur sy koningskap en soewereiniteit uit te straal; deur ander mense lief te hê en vir hulle om te gee; om mekaar met ons gawes te dien; om die Here se besittings wat Hy aan ons toevertrou, met die nodige verantwoordelikheid en sorg te hanteer; om sy Naam oral bekend te maak.

Wees God se beelddraer in ’n wêreld vol chaos en vind jou identiteit in Hom!


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui