Net dwase maak op hulself staat!

Is jy ’n beheervraat? Die Here is in beheer! Lees hier hoekom ons op God se voorsienigheid kan staatmaak.

deur Adriaan Broodryk

As mense neig ons daartoe om beheervrate te wees. Baie van ons hou ’n situasie fyn dop en poog om die uitkoms daarvan self te bepaal. Dit maak die lewe soms makliker verteerbaar. Die waarheid is egter dat ons nie oor die mag beskik om regtig die uitkoms van ’n situasie te kan bepaal nie.

Die digter van Psalm 127, die wyse koning Salomo, het triomfantlik erken dat hy nie al sy bedrywe so goed kon bestuur as dit nie vir die Here was nie. Alles, laat hy ons leer, is tevergeefs as die Here nie sy hand daaroor hou nie.



Wat gebeur as die mens in beheer wil wees?

Op die beste van dae wil ons graag dié wees wat in beheer is. Die probleem is egter dat hierdie menslike begeerte ons verhouding met die Here skade kan berokken. As ons vir ’n oomblik stilstaan en regtig na alles rondom ons kyk, dan kan ons hierdie tragiese neiging baie mooi raaksien.

Ons sien hoe gemeenskappe swaarkry en seerkry as gevolg van gesaghebbendes wat vergeet het hoe om saam met die Here te wandel. Ons sien hoe mense mekaar manipuleer om hul eie sin te kry. Dit is glad nie lekker om dit te sien nie, maar ons kan ook iets goed hieruit leer: jy en ek kan eenvoudig nie sonder die leiding van die Heilige Gees nie.


God is in beheer

Met Jesus se Verlossingsdaad, het Hy ons elkeen in staat gestel om te kan sien en beleef dat God aan die stuur van alle dinge ten alle tye is. In geloof bely ons dat God die hoogste gesag beklee. Ons bely dat God nie die werk van sy hande laat vaar nie. Dit sluit elkeen van ons en ons ganse lewens in. Ons het nie nodig om self plannetjies te maak nie. Net so, hoef ons nie alleen deur die lewe te gaan nie. Met ander woorde, God los ons nie om self die stryd van die lewe aan te durf nie.


Ek moenie op my self staatmaak nie

In Psalm 146 lees ons dat die gelowige (en natuurlik die mens) nie sy hoop op prinse moet sit nie, (146:3). Daarby moet ek dan natuurlik weet dat ek ook nie op myself kan staatmaak nie! Sonder God het ek in elk geval nie die krag óf die wil om te doen wat ek moet, én om te doen wat reg is nie.


Ek is geseën deur God as ek op Hom hoop

Totius (Prof. J.D. du Toit) het verder uit die oorspronklike Hebreeus vertaal dat “hy wie se hoop op die Here sy God is, welgeluksalig is.” So ’n grootse seëning van God, dat daar nie op daardie stadium ’n Afrikaanse woord bestaan het wat kon aandui hoe groot God se guns oor die persoon is wat in Hom alleen vertrou nie.


Gee jou oor aan God se voorsienigheid

Tog weet ons dat dit heelwat makliker gesê is as om dit te doen. Die konstante kommer oor die uitkoms van ’n situasie is menslik, maar ook baie nadelig vir ’n mens se gesondheid. As gelowiges het ons die opdrag gekry om na ons gesondheid om te sien. Ons mag nie toelaat dat ons gesondheid agteruitgaan as gevolg van dinge wat nie die moeite werd is om oor bekommerd te wees nie.

Die eenvoudigste manier om seker te maak dat jy rus sal kry oor ’n situasie en om gesond daarvan weg te stap, is om jou hand in die Here s’n te plaas. Jy moet jouself aan God se soewereine voorsienigheid oorgee.

Nie net ’n bietjie nie, maar ook nie baie nie, maar absoluut. Totaal.


Bid om die Here se leiding

Om dit dan te weet, is ook om te weet dat ek nie net agteroor kan sit nie. Die Here span ons elkeen vir sy plan van soewereine voorsienigheid in. Word stil en vra die Heilige Gees vir leiding.

Dit is goed om jouself telkens te herinner dat God jou na rus lei (Psalm 23); dat Hy vir ons sorg en ons nie sonder Hom kan gaan nie (Psalm 127); en dat ek die absolute vertroue en hoop by Hom kan kry (Psalm 146).

Hierdie is nie goeie nuus wat ek net vir myself kan hou wanneer ek dit leer of weer opnuut hoor nie. Hierdie Blye Boodskap moet aan almal vertel word.

As jy sien daar is iemand wat ook hul eie plannetjies probeer maak, vertel hulle van die Lewende God se voorsienigheid. As jy self deur ’n tyd gaan waar jy met beheer sukkel, herinner jouself dat God net ’n smeekgebed weg is. Hy sal jou mooi wys waar jy moet gaan en wat jy volgende moet doen.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui