Die liefde van ’n goeie vriendskap
In sy genade gee die Here vir ons ware vriende, vriende wat nader as ’n familielid kan wees. Leer meer oor die liefde van ’n hegte vriendskap.
deur ds. Jan-Louis Lee
Een van die grootste seëninge in die lewe, is om hegte vriendskappe te kan vorm. Hoewel die band met jou familie ’n baie belangrike en onontbeerlike deel van jou lewe bly, spandeer ’n mens dikwels baie meer tyd saam met vriende. Jou vriende het ’n groot invloed op jou lewe. Vriendskappe vorm dikwels rondom belangstellings en gedeelde ervarings en is dikwels ’n ondersteuningstelsel wanneer jy deur die golwe van die lewe geslaan word.
Vriende vir wie jy groot liefde het
Dit gebeur dat die Here soms ’n spesiale vriend of vriendin oor jou pad stuur. Meer as ander, is so ’n persoon bewus van jou meer private gedagtes en gevoelens. Dit is jou “beste” vriend, tipies daardie persoon wat jy sal kies om jou kontakpersoon in ’n noodsituasie te wees, iemand wat, sonder dat jy hoef te verduidelik – amper altyd presies jou gemoedstoestand kan opsom en diensooreenkomstig sal optree.
Ongelukkig het die wêreld die tipe liefde waarmee ons as vriende mekaar liefhet, in baie gevalle met ’n ander tipe liefde verwar – die liefde van man en vrou vir mekaar in ’n romantiese verhouding. Die gedagte dat jy dalk ’n homoseksuele tipe liefde kan voel vir ’n persoon van die ander geslag, maak dat ’n mens soms huiwerig is om werklik ten volle te investeer in ’n bepaalde vriendskap. Dit plaas dikwels ’n sluier van skaamte oor hoe jy ’n bepaalde vriend of vriendin aanpak.
Tog – en dit is belangrik om mooi te verstaan, is liefde vir ’n persoon van dieselfde geslag nie per sé ’n homoseksuele liefde nie; is dit nie per definisie verkeerd nie en is dit selfs nie iets waaroor ’n mens skaam moet wees nie. Dit is juis die liefde van Dawid en Benjamin vir mekaar, wat dikwels by wyse van bedenklike Skrifverklaring as ’n homoseksuele tipe verhouding verklaar word, wat hierdie tipe gedagte laat neerslag vind.
Hoe lyk vriendskaplike liefde?
Die Bybel leer ons dat ons opregte broederliefde teenoor mekaar moet openbaar, en mekaar met ’n rein hart, innig moet liefhê (1 Petrus 1:22). Ons moet met wysheid ons vriende soek (Spreuke 12:26) en ons moet met nederigheid en teerheid mekaar dien (1 Petrus 3:8). Vriende kan wel soms mens se ondergang beteken, maar daar kan vriende wees wat in alle omstandighede so naby jou leef dat hulle selfs nader is as jou broers (Spreuke 18:24). Yster slyp yster, en vriende vorm mekaar. Dink só aan jou vriendskappe: Wanneer jy jou lewe aanpak met gesonde vriendskappe wat God eer kan dit jou geloofsgroei positief beïnvloed – en dit kan selfs geloof in ander stig.
Dit wat ons saambind, en wat ons liefde vir mekaar begrond, is ons liefde en verbintenis aan Christus. In sy grote genade gee Hy mense wat op dieselfde tydvak, in dieselfde plek en binne bepaalde belangstellings wat ek deel, ook hierdie aarde bewandel.
Wanneer ons met die regte begronding mekaar as gawe uit die hand van die Here ontvang, smee ons ’n hegte vriendskap in ware broederliefde. Ja, selfs so heg dat ons in selfopofferende liefde onsself groot moeite sal aandoen ter wille van ons vriende, en baie groot struikelblokke uit hulle pad uit sal ruim, sonder om ’n enkele daad van vergoeding terug te verwag. Dit is hierdie liefde wat die Here juis van ons verwag as ons mekaar so lief moet hê soos ons onsself liefhet.