Wat dan as ek nie trou nie?

As die doel van die huwelik is om die probleem van alleenheid op te los, wat dan as ek nie trou nie? Lees hier meer oor die gawe van alleenheid en hoekom iemand dalk nie sal trou nie.


deur ds. Werner Brotherton

Voordat ons kan ondersoek hoekom iemand ongetroud sal bly of wil bly, kyk ons eers na hoe en hoekom die huwelik ingestel is. Verbasend genoeg is die huwelik nie deur mense ingestel nie, maar deur die Here. Dit was nie ’n maklike manier om verantwoordelikhede uit te sorteer nie. Die Here het die huwelik ingestel (Genesis 2) as ’n fondament vir alle samelewings. Ons kan sê dit is die basis vir die samelewing wat die Here neergelê het: dat ’n man ’n vrou wil hê en anders om.


Hoe en hoekom is die huwelik ingestel?

Die Here het die huwelik ingestel met die woorde: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Daar is egter eers ’n interessante geskiedenis voor die Here die huwelik ingestel het. Nadat die Here aan Adam gesê het dat hy nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie sê Hy die volgende: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Genesis 2:18). Die Here het dit egter nie dadelik gedoen nie. Eers moes Adam name gee aan al die diere en self tot die besef kom dat hy alleen is (vers 20). Daarna maak die Here die vrou uit Adam se ribbebeen. Tog lê die groot verstaan vir die instel van die huwelik in vers 18: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Die huwelik is ingestel om ’n probleem op te los: die probleem van alleenheid.


Die gevolg van die sonde op die huwelik
Die sonde het baie dinge kom verwoes waaronder die huwelik ook ly. Laat ons eerste net uitwys dat die huwelik ingestel is voor die sondeval, daarom bly dit die norm dat ’n man en vrou moet trou. Dat dit eintlik ’n uitsondering is dat sommige mense nooit trou nie. As gevolg van die groot skade wat die sonde veroorsaak het, het die Here sommige geroep om ongetroud te bly om spesifiek in sy koninkryk te werk. In Matteus 19:11-12 en 1 Korintiërs 7:7 sien ons dat daar wel mense is wat nie trou nie. Paulus noem dit selfs ’n gawe en Christus sê dat as iemand dit kan doen, hy dit moet doen. Tog moet ons onthou dat dit nie die reël is nie, maar die uitsondering. Die dissipels het die afleiding gemaak dat dit beter is om nie te trou nie as gevolg van die egskeidings wat deur die sonde meegebring is. Dit beteken nie dat dit skielik beter is om nie te trou nie. God se woord bly staan: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.


Geroepe om alleen te bly

Tog is daar aan sommige die gawe gegee om vergenoegd en tevrede alleen te leef, maar slegs as dit met die oog is om in die koninkryk te werk. Die Here gee nie nuttelose gawes nie, en die gawe van alleenheid is daar om ten volle vir die Here te werk. Dit is daarom baie belangrik dat ons bid en diep nadink oor ons gawes en ons roeping. As jy geroepe is om te trou, doen dit, as jy nie is nie, moenie trou nie. (Natuurlik beteken dit nie dat ons skielik kan saambly en kyk of dit werk nie!)


Die Here sonder elkeen af vir ’n spesifieke doel en daarom mag ons nie neerkyk of anders dink van hulle wat nie getroud is nie. Ons moet hulle juis insluit in wat ons doen. Omdat Genesis 2:18 die algemene reël neerlê vir die meeste mense, moet ons die gawe van alleenheid juis raaksien en erken vir wat dit is: ’n gawe.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui