Vertrou in die belofte van jou verlossing

deur ds. Jaco Lemmer
Een van die hartseerste waarhede van die tyd waarin ons leef, is dat meeste sogenaamde “Christene” die Christelike geloof as ’n rit op ’n plesierboot sien. Hulle dink mens kan sit en rus en bestellings by God plaas, en Hy is daar om elke wens waar te maak.
Die realiteit van die Christelike geloof is egter dat ons in ’n oorlog is (Efesiërs 6:12) en ons Generaal (Jesus) roep ons op om hierdie geveg te veg met die wapenrusting van die geloof wat Hy moontlik gemaak het. Dit is waaroor Efesiërs 6:10 en verder gaan. Dit gaan oor hierdie oorlog waarin ons gewikkel is met die Satan en sy medewerkers.
Een van die belangrikste stukke van die wapenrusting wat ons moet aantrek in hierdie oorlog is die helm van verlossing.
’n Helm in die Bybelse tyd
Die helms in die Grieks-Romeinse wêreld waarin Paulus geskryf het, was gewoonlik van leer of yster (sien 1 Samuel 17:5, 38 en 2 Kronieke 26:14). Die helm was natuurlik dik genoeg om die kop (brein) van die soldaat te beskerm teen pyle en spiese wat moontlik na sy kop gestuur kon word.
Die helm was nie net vir beskerming nie, maar ook vir versiering. Gewoonlik sou die helm jou nasie se kenmerkende versiering opgehad het wat jou ook identifiseer as ’n soldaat vir hierdie spesifieke nasie.
Die helm van verlossing
As Paulus praat van die helm van verlossing het hy ook hierdie bogenoemde eienskappe in gedagte in ons geestelike oorlog. Die helm van verlossing word geneem (of ontvang kan die woord in die oorspronklike ook beteken) en aangesit.
Verlossing word natuurlik aan ons gegee as ’n vrye geskenk van die Vader en ons moet glo. Die verlossing van Jesus Christus wat ons s’n word deur die geloof alleen, dien as kritiese geestelike beskerming.
Soos die borsharnas die hart beskerm, beskerm die helm ook een van die belangrikste organe, naamlik die brein. Netso beskerm die verlossing wat ons deur Jesus ontvang ook van die belangrikste dele van ons geestelike lewens: Die feit dat ek seker kan wees dat ek verlos is en dat God my verseker van verlossing, is een van die kragtigste verdedigings teen die aanvalle van Satan.
Hoe dra ek die helm van verlossing?
Die vertroue wat ons het in die beloftes van byvoorbeeld Filippense 1:6 is die aansit van die helm van verlossing: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Ook die beloftes van Psalm 138:8 en Petrus 1:5 is waarmee ek die pyle van twyfel afweer.
Die helm van verlossing is dus die beskerming teen twyfel in my geloof, maar dit is ook iets beeldskoon waarmee ek aanval teen die Satan. Die helm kan ook gebruik word as ’n wapen of versiering in die oorlogsituasie. Die liedere van verlossing wat ons sing en wat ons uitroep laat die Satan sidder van vrees en dit identifiseer ons as die eiendom van die Koning.
Wanneer ons saam met die Apostel Paulus sing “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Korintiërs 15: 55) gebruik ons ook die helm van verlossing as wapen teen die vyand.
Wanneer ons sing “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38-39) dan is daar geen twyfel wie ons aan behoort en dat ons deur die verlossing in Jesus aan God die Vader behoort vir ewig.
In die oorlog waarin ons gewikkel is, is die helm van verlossing krities belangrik. Ons trek hierdie helm aan deur ons verlossing te verstaan en die beloftes wat God gegee het te gebruik teen die aanvalle van die Satan.