Die Woord van God as wapen

Die laaste item van die wapenrusting in Efesiërs is die swaard van die Gees, oftewel, die Woord. Lees hier wat ons daarmee moet doen.


deur ds. Daniël Myburgh

In hierdie artikel gaan ons na die laaste item van die wapenrusting van God kyk. Tot dusver het ons al raakgesien hoe noodsaaklik hierdie wapenrusting vir ’n gelowige is. ’n Gelowige het ál hierdie items van die wapenrusting nodig om sy/haar fisiese liggaam te beskerm. Maar die item wat ons volgende gaan bespreek, is nie werklik iets wat ’n mens se liggaam beskerm nie.

Dit wat ons in hiérdie artikel gaan bespreek, is totaal ánders as die gordel/belt, borsharnas, skild, skoene of helm. Hierdie item se doel verskil ook heeltemal van al die vorige items – en tog is dit steeds deel van die volle wapenrusting van God.

Die Woord van God as deel van die wapenrusting

Die laaste item wat Paulus in Efesiërs 6 beskryf, is “die swaard van die Gees”. Hierdie item van die geestelike wapenrusting het eintlik twee name: dit word ook “die Woord van God” genoem. Iets wat nou al vir ons duidelik geword het, is dat hierdie items van die wapenrusting van God nie letterlik is nie maar eerder figuurlik.

Die Here verwag nie van ons om soos gepantserde soldate aan te trek nie, maar eerder om ons geloofslewe te beskerm. Daarom word daar ook soms van die “geestelike” wapenrusting van God gepraat, sodat ons sal onthou dat hierdie gedeelte verskeie metafore bevat sodat ons dit makliker kan verstaan.

Só praat ons dan van die geestelike wapenrusting wat ons moet aantrek om ons harte (borsharnas) en ons gedagtes (helm) te beskerm, want ons weet dat ons stryd hier op aarde tog nie teen vlees en bloed (fisiese mense) is nie, maar teen elke bose gees wat in die lug is (Efesiërs 6:12). Wanneer ons dít verstaan, dan verstaan ons ook beter wat die Here deur Paulus bedoel as Hy sê dat die Swaard van die Gees die Woord van God is.

Die Woord van God is skerp

’n Ander Skrifgedeelte wat hierdie gedagte vir ons selfs nóg meer verstaanbaar maak is Hebreërs 4:12:

Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Hier lees ons óók dat die Woord van God met ’n swaard vergelyk word. Wat is die doel van ’n swaard? Dit is ’n baie doeltreffende wapen wat ’n lem met ’n skerp punt en twee snykante het.

Hebreërs 4:12 sê dat die Woord van God lewend en kragtig is. Die inhoud van die Bybel is God se Woorde (Johannes 1) en dus is die Bybel nie maar net ’n Boek soos enige ander boek nie. Dit wat ons in die Bybel lees, is God Drie-Enig se Woorde aan ons, en omdat Hy van ewigheid tot in alle ewigheid leef, is sy Woorde (inhoud van die Bybel) ook lewendig. Omdat Hy almagtig is, is die inhoud van die Bybel ook kragtig.

Wanneer ’n geroepe bedienaar van die Woord ’n opregte preek maak uit die Bybel, dan is dit nie die predikant se woorde wat ons tydens die erediens hoor nie, maar Gód se stem. En hierdie Boodskap van God is dan só kragtig dat dit kan deurdring selfs tot in die hardste hart.

God se Woord sny tot die ewige lewe of die ewige dood

In Genesis 15:10 lees ons van ’n skerp lem wat selfs deur senings en bene kan sny, en net só effektief sny God met sy Woord. Vir iemand wat uitverkies is en die Evangelie in geloof aanvaar, sny God se Woord tot die ewige lewe. Dit beteken dat daardie persoon deur die inhoud van die Bybel vir Christus sal leer ken en sy/haar verlossing in Hom sal verstaan en werklik glo dat hy/sy gered is.

Maar, vir iemand wat teen God se genade rebelleer, sny God se Woord tot die ewige dood. Dit beteken dat daardie persoon duidelik God se oordeel-stem sal hoor in die Bybel (Romeine 1:18–32) en voor ’n keuse sal staan: óf hy/sy kom tot bekering óf die ewige dood is hul voorland.


Die Here vra van ons élkeen om die volle wapenrusting aan te trek sodat ons onsself teen die Bose kan beskerm. Al die ander items van God se wapenrusting is daar om ons te beskerm, maar die Here gee ook iets in ons hande waarmee ons teen die Bose kan veg en dit is sy Woord. Gelowiges veg nie met fisiese wapens nie, maar gee vir hul vyande antwoorde uit God se Woord.

Mag ons daarom ons hoop bly vestig op Hóm Wie ons verkondig. Christus het reeds die duiwel én die dood oorwin en Hy heers nou tot in alle ewigheid (vergelyk verál Openbaring 1:16).  


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui