Rig jou oë op die Here – en staan vas

In 1 Korintiërs 16:13 kry ons vier opdragte – lees hier hoe dié opdragte ons die bemoediging gee om teen geestelike gevare vas te staan.


deur ds Ruan Steyn

Die Skrif waarsku gelowiges om waaksaam te wees vir geestelike gevare en lokvalle (vergelyk die teksverse in 1 Petrus 5:8; Markus 13:37; Handelinge 20:31). Die rede daarvoor is dat ons “stryd nie teen vlees en bloed is nie…, maar teen die bose geeste” (Efesiërs 6:12). Petrus beskryf die Duiwel as ’n “brullende leeu, op soek na wie hy kan verslind.”


Geestelike gevare kom geleidelik

Die Hebreër-skrywer waarsku die gelowiges in Hebreërs 2:1 om “soveel kragtiger vas te gryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie”. Die probleem met geestelike gevare is dat dit ons geleidelik lei om weg van die Here af te beweeg. Om weg te drywe verwys onder andere na ’n skip wat geleidelik en ongemerk van koers af beweeg – die gevolge word eers later gesien. Gelowiges dryf van die Here af weg wanneer hulle fokus nie meer op Hom is nie, maar eerder op die wêreld is.


Hou jou geloofsoë oop

Die Here lei ons deur die woorde van Paulus. En, Hy vermaan en bemoedig ons ook daarmee om ons geloofsoë oop te hou. Ons lees in 1 Korintiërs 16:13 van hierdie bemoediging:

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!


1. Wees waaksaam

Die eerste opdrag is om waaksaam te wees. Dit beteken om die veelvuldige bedreigings of geestelike lokvalle in jou lewe raak te sien. Die gelowige moenie toelaat om geestelik aan die slaap te raak nie. Anders gaan die gevare en lokvalle nie gesien word nie.

Waaksaamheid het ook te make met afwagting op die wederkoms van die Here (vergelyk Matteus 24:42). Gelowiges word bemoedig om hul oë op die wederkoms van die Here te vestig, sodat hulle nie onkant betrap word nie. Waaksaamheid is noodsaaklik vir ’n gesonde geestelike lewe.

2. Staan vas in die geloof

Die tweede opdrag is om in die geloof vas te staan. Dit is wat die Hebreër-skrywer bedoel wanneer hy sê dat die gelowiges moet “vasgryp aan wat ons gehoor het”. Dit verwys na hulle geloof in die Here en wat Hy in sy Woord openbaar.

Wanneer daar geestelike gevare in ons lewe is, moet ons onwrikbaar vasstaan in ons geloof waarvan Jesus die fondasie en hoeksteen is (vergelyk 1 Petrus 2:6). Wanneer ons in die geloof vasstaan, kan ons seker wees dat geestelike gevare ons nie soos golwe heen en weer gaan slinger nie (Efesiërs 4:14).

3. Wees manmoedig

Die derde opdrag is om manmoedig te wees. Paulus sê letterlik: wees soos ’n man. Daarmee word bedoel dat elke gelowige dapper, flink en onbevrees moet wees – veral wanneer geestelike gevare op hul pad is. Wanneer gelowiges manmoedig is, is hulle nie bang om teen die Duiwel en bose te stry nie. Hulle is ook dapper en bereid om hul kosbare geloof te verdedig.

4. Wees sterk

Die laaste opdrag is om sterk te wees. Die woord “sterk” verwys na die innerlike versterking van die hart. Daarom bid Paulus vir die gemeente in Efese dat die Here “deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word” (Efesiërs 3:16).

Hierdie innerlike versterking kan nie verkry word deur ons eie vermoë en gawes nie, maar slegs deur die werk van die Heilige Gees. Sterk wees beteken dus om in die krag van die Heilige Gees waaksaam te wees, in die geloof te staan en manmoedig te wees.


Rig jou geloofsoë op die Here

Elke generasie het sy geestelike uitdagings. Die aanslae van die bose is intens – veral in die tyd waarin ons lewe. Ons kan egter nie vasstaan as ons geloofsoë nie op die Here gerig is nie. Die oplossings is eenvoudig: bestudeer die Here se Woord sodat jy die nodige gereedskap en wapens het om die Bose teen te staan; en bid dat die Here jou die nodige krag sal gee om vas te staan sodat jy nie van Hom af wegdryf nie.


Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig en wees sterk, terwyl jy jou geloofsoë na die Here rig!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui