Hoe gebruik mens jou geloof as ’n skild?
deur Adriaan Broodryk
As soldaat in God se weermag van gelowiges op aarde, is dit belangrik om die regte wapenrusting te dra. Die gelowige moet ook weet hoe om elkeen van hierdie items te gebruik. In hierdie gedeelte, leer ons oor geloof as die skild in die hand van die soldaat van God.
Hoe is ’n skild in die Bybelse tyd gebruik?
Die skild is ’n klipharde voorwerp wat hoofsaaklik as ’n persoonlike beskermmiddel gebuik word. Dit word aan die voorarm vasgemaak en dan voor die draer se bors gehou – veral in die geval van ’n aanval.
Waanneer jy na iemand kyk wat ’n skild swaai, sien jy ook dat dit die eerste punt van verdediging van ’n persoon in ’n oorlogsituasie is. Die skild word gebruik om die aanslag van die vyand te verhoed of stadig te maak. Hetsy dit ’n skerpsnyende swaard of vlieënde pyl is wat na die soldaat op pad is.
Om seker te maak dat die soldaat nie deur die aanval beseer word nie, mag dalk selfs belangriker wees as wanneer die soldaat self aanval.
Ons sien verder dat die skild nie net voor die bors gebruik word nie, maar dat dit ook gebruik kan word om jou kop, jou sy en selfs jou bene te beskerm. Omdat die skild as ’t ware so mobiel is, kan dit uiteindelik ook gebruik word om jou mede-soldaat te beskerm.
Ons het al telkemale op TV-programme en flieks gesien dat soldate sy-aan-sy gaan staan en ’n muur met hul skilde vorm om die mense agter hulle te beskerm.
Hoekom word die wapenrusting as beeld gebruik?
Die apostel Paulus het in alle waarskynlikheid die beeld van die wapenrusting gebruik omdat die inwoners van die antieke stad Efese oorlog geken het. Hulle het geweet hoe om soldate op te lei. Hulle het geweet hoe elkeen van die wapens in die wapenrusting van ’n soldaat gebruik moet word.
God gee vir jou geloof as ’n skild
Noudat ons weet hoe die skild in benarde situasies gebruik kan word en waarom Paulus hierdie beeld gebruik, kyk ons na hoe geloof as die optimale skild teen die boosheid van die wêreld gebruik kan word.
Net soos die skild die eerste lyn van verdediging is, is geloof die eerste ding wat God aan ons gee (Romeine 1:16-17). Hy gee dit aan sy kinders, sodat hulle nie in hierdie wêreld sonder enige beskerming hoef te leef nie. Geloof is die gawe van God om alle teenkanting en vervolging in hierdie wêreld af te weer.
Hoe heerlik om te weet dat die Vader, deur sy kragtige werking die Heilige Gees stuur om geloof in ons aan te wakker. Kan daar ’n beter wete as dit wees? Ons het nie nodig om hierdie skild self te maak nie. Die Koning self gee vir ons hierdie skild. Hy gee vir ons geloof in Hom.
Die skild is God se voorsienigheid
Ons bely vanuit die Nederlandse Geloofsbelydenis van die voorsienigheid van God. In Artikel 13 bely ons dat daar niks oor ons kan kom wat God nie self bestuur en regeer nie (Matteus 10:29-30). Om dit te kan weet is ’n absolute troos. Geen boosheid sal jou, as gelowige, kan oorval nie! God gee hierdie gawe aan jou om te verseker dat jy en jou mede-gelowiges teen boosheid beskerm is.
Die skild kan die Koning beskerm
Dit is ook belangrik om te onthou dat jou skild en die linie wat jy saam met jou mede-gelowiges vorm, ook die Koning beskerm. Die geloofskild stel jou in staat om God se heilige Naam te beskerm, (Heidelbergse Kategismus, Sondag 36). God se heilige Naam moet in woord en in daad beskerm word!
Die skild is jou bewys dat God jou beskerm
Terwyl ons vir die Here Jesus Christus wag om weer op die wolke terug te kom (Openbaring 1:7), het God ons gelukkig nie aan ons eie genade oorgelaat nie. Ons moet verstaan hoe lief die Vader sy kinders het. Hy het immers se Seun gestuur om vir ons die duurste prys van verlossing te betaal – met sy bloed (Johannes 3:16).
Juis daarom het God ons met die geloofskild toegerus. Hy het elkeen van ons, sy kinders, innig lief en enige bose aanslag sal nie deug nie. Uiteindelik is die geloofskild die wete dat God ons beskerm en altyd sal beskerm.
Jy is ’n soldaat in God se weermag. God het jou gekies om in sy Koninkryk te dien. Hy het jou toegerus om die bose se aanvalle af te weer en om ook jou mede-gelowiges te beskerm. Die geloofskild stel jou ook in staat om God se heilige Naam te beskerm. Onthou hoe kragtig jou geloof in God is wanneer jy weer deur die bose aangeval word!