Beskerm die huwelik met die 7de gebod
Die sewende gebod geld vir alle mense, nie net getroudes nie. Lees hier wat dit beteken dat jy nie mag egbreuk pleeg nie.
deur Riaan Wattel
As jy ongetroud is kan jy maklik verby hierdie gebod kyk, maar dit is nie net belangrik vir mense wat alreeds getroud is nie. Dit is op alle mense van toepassing sou hulle nou enkellopend of getroud wees. Dit praat nie net oor egskeiding nie, maar enigiets wat afbreek maak aan die huwelik wat die Here ingestel het tussen man en vrou.
Egbreek beteken om die egtheid van die huwelik te breek. Om dit wat die opregtheid daarvan bewaar te verlaat.
Die doel van die huwelik
Die huwelik is duidelik van uiterste belang, anders sou die Here nie in sy wet direk daarna verwys het nie. Dit is een van die eerste gawes wat die Here aan die mens gegee het. Hy het die man en vrou gemaak, want dit is nie goed dat die man alleen is nie. Nog meer beeld die verhouding tussen man en vrou vir ons die verhouding tussen Christus en sy kerk uit.
Die verhouding binne die huwelik is bedoel om tussen een man en een vrou te wees soos Christus en sy kerk. Dit is hoe God dit aan die mens gegee het en wil dat die huwelik in alle opsigte so bly. Daarom verbied hierdie gebod enigiets wat afbreek maak aan die huwelik. Dit verbied alle onkuisheid.
Onkuise gedrag in die Ou Testament en nou
Om kuis te wees beteken om selfbeheersd te wees ten opsigte van gedrag en drange. Ons sien in Levitikus 20:10-21 ’n reeks gevalle van onkuise gedrag waarna die Here spesifiek verwys: ’n man wat met sy moeder gemeenskap het, iemand wat saam met iemand anders se vrou slaap, mense wat met diere gemeenskap het.
Onkuise gedrag was nie vreemd vir die mensdom daardie tyd nie en vandag ook nie. As jy deur die voorskrifte in Levitikus gaan lees is die kanse goed dat jy al ten minste van een so ’n geval in ons moderne samelewing gehoor het. Onkuise gedrag is getroude mans of vrouens wat buite-egtelike verhoudings het. Dit is ook jongmense wat saam slaap voor hulle getroud is. In werklikheid is dit nie net saam slaap wat ’n oortreding van hierdie gebod is nie, dit is enige daad wat seksueel van aard is buite die huwelik.
Die kuise gedrag wat die huwelik beskerm
Hierteenoor is kuise gedrag geken aan selfbeheersing. Mense wat binne die huwelik is tree met selfbeheersing op om die wonderlike van die huwelik te bewaar. Hulle laat nie toe dat daar eers aanleiding is tot onkuise gedrag nie. Hulle kuier nie by plekke of mense wat hulle weet ontrou is nie. Judas: 23 leer dat gelowiges selfs die klere wat met sonde bevlek is haat.
As ons dit van toepassing maak op kuisheid beteken dit ons moet onsself heeltemal weghou van onkuise gedrag en praatjies asof dit ’n aansteeklike siekte is (en dit ís aansteeklik). So ’n houding is ook in voorhuwelikse verhoudings geldig.
Die huwelik is ’n besondere gawe wat sekere voorregte inhou. Dit is verkeerd om hierdie voorregte te probeer neem voor die huwelik. Ons kan dan nie deelneem aan sulke gedrag nie. Dit beteken ook die dinge wat daarna lei. Vryery kan maklik te ver gaan, hou eerder jouself in toom tot eer van God. Dit is om te geniet binne die huwelik, en dan daarbinne steeds met selfbeheersing.
Beskerm die huwelik met jou gedrag én jou gedagtes
Ons wil egter nie net die huwelik met ons gedrag beskerm nie, ons wil dit ook met ons gedagtes beskerm. Soos alle sondes begin egbreuk/onkuisheid in ons gedagtes. Om na iemand te kyk (in persoon of op die internet) en onkuise dade met hulle te wil doen is alreeds egbreek (Matteus 5:27-28). Dit geld ewe veel vir mense binne en buite die huwelik.
Om na pornografie te kyk is egbreek, want jy verlang daarmee na iets wat jy nie kan kry nie. Pornografie is ’n hoogs aansteeklike plaag wat jongmense regoor die wêreld aansteek. Die huwelik is soveel ryker en meer vreugdevol as hierdie tydelike drange. Hoe kan iets vergelyk daarmee om die vreugde wat God aan ons gee binne die perke wat hy daarvoor stel te geniet? Ons vermy dan, met God se doel in die oog, alle dinge wat aanleiding gee tot onkuisheid in ons gedagtes en dade soos ’n aansteeklike siekte.
Die troos as jy die gebod oortree het
Min van ons kan met eerlikheid sê dat ons nog nooit die sewende gebod oortree het nie as ons na hierdie standaarde daarvan kyk. Maar daar is vir ons ’n besondere troos in 1 Korintiërs 6:9-11. Paulus maak ’n lys van al die mense wat nie die koninkryk van God sal erf nie – egbrekers is op hierdie lys. Maar hy skryf dan aan die gemeente: So was sommige van julle ook. In Christus is daar verlossing vir al ons oortredings. Sy bloed was ons skoon en reinig ons sodat hierdie oortreding ons nie meer besmet nie. Ons kan nou voluit vir Hom leef met ’n skoon gewete!