Gebed as lofoffer van ons dankbaarheid

God vra nie van jou betaling vir jou verlossing nie; Hy vra nie geweldige offers nie. Hý vra dat jy deur gebed aan Hom ’n offer sal bring. Lees hier meer.


deur ds. Lohan Linde

In Hebreërs 13 lees ons op grond waarvan God van ons die offer van die lippe verwag. Ons lees daar van die grootste gawe wat ooit in die skepping aan die mense gegee is: God se eie Seun, wat vir jou en my in die dood oorgegee is.

Het jy enige benul wáárvan jy gered is? Weet jy wát jy verdien het? As Jesus nie vir ons gely het nie, was ons ewig verlore, vir ewig sonder God, sonder hoop, oorgegee aan die vlam van God se ewige regmatige toorn teen ons sonde, waar jy jou tong kou van pyn en selfverwyt. Dít is wat Jesus vir jou deurgegaan het, om jou daarvan te verlos.

En, het jy enige benul van die rykdom wat Hy daardeur vir jou verwerf het? Dink net – versoening en vrede met God, kindskap, die ewige heerlikheid, vrede in jou lewe, iets om voor te lewe, ’n sinvolle lewe, ontelbare broeders en susters wat net soos jy aan sy liefde deel het?

God vra net een ding van jou

Nou vra Hy één ding van jou in antwoord op die onnoemlike lyding wat Hy vir jou deurgegaan het, en die bo-aardse heerlikheid wat Hy daardeur vir jou verwerf het. Wat dit is, lees ons hier in vers 15:

Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.

Hebreërs 13:15

As jy meen dat Jesus se offer iets werd is; as jy iets kan verstaan van wat dankbaarheid beteken vir die ondeurgrondelik kosbare verlossing wat Hy vir jou verwerf en aan jou geskenk het, praat dan met Hom! Dank Hom! Prys Hom! Verheerlik sy Naam!

Sien jy God se groot genade in jou lewe raak?

Het jy geen gebedslewe nie? Ignoreer jy God die grootste deel van jou lewe? Is ’n halfuur per dag, selfs vyf minute per dag, te veel gevra om aan gemeenskap met Hom te bestee? Dan kan jy tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat alles wat Hy vir jou gely het, vir jou niks werd is nie. Sy liefde vir jou, sy selfvernedering vir jou, sy geduld met jou, die reiniging deur sy bloed, dit alles is vir jou nie eers “Dankie!” werd nie.

God vra nie van jou betaling vir jou verlossing nie; Hy vra nie geweldige offers nie; die verlossing kos jou niks.

Daar was ’n miljoenêr wat die helfte van sy besittings aangebied het aan iemand wat hom sy gesondheid sou kon teruggee. Hy sou dit met graagte daarvoor gee. God gee jou veel meer as dit: Hy gee jou die ewige lewe en heerlikheid en eer en blydskap; Hy stort die skatkis van die hemel oor jou uit – verniet, dit kos jou niks; dis reeds betaal met die bloed van Jesus.

God vra ’n offer van lof

Al wat Hy van jou vra in antwoord daarop, is die offer van die lof van jou lippe. Hy sê net: “My kind, praat met My! Bid! Moet my nie ignoreer nie!” Jy is mos gered om gemeenskap met God te hê, nie waar nie.

Is dit ’n opoffering om van ’n kind te vra om met sy pa te praat? Is dit dan nie ’n voorreg nie? As ’n kind ’n wonderlike pa het, op wie hy trots is, dan sal dit mos nie eers nodig wees om hom te sê om met sy pa te praat nie. Dis mos ’n voorreg; hy sal mos gedurig met sy pa en oor sy pa praat. As jou pa die president of die koning was, op wie jy trots was en wat jou baie liefgehad het, sou dit dan nodig wees om jou aan te moedig om sy geselskap op te soek?

Luister voor jy praat

Maar, is jy nie trots op jou hemelse Vader nie? Is jy nie lief vir Hom nie? Is dit nie ’n wonderlike voorreg dat Hy ook van jou geselskap hou nie? Dis belangrik, in die gesprek met God, dat jy ook na Hom sal luister en nie net verwag dat Hý na jóú moet luister nie.

Eintlik moet jy éérs na Hom luister, en dan is jou gebed ’n antwoord op sy woorde. Jy luister na God in hierdie gesprek met Hom deur biddend die Bybel te lees, in die verwagting en oortuiging dat jy daarin die stem van jou Vader hoor. So werk die Heilige Gees.

En terwyl jy eerbiedig na die Here se Woord luister, maak die Heilige Gees die gebed, jou antwoord op jou Vader se Woord, in jou hart wakker.

Moenie die Heilige Gees bedroef nie; moenie die liefde van Jesus vertrap en God jou Vader en Verlosser ignoreer nie! Hy vra van jou een ding bo alles: die lof van jou lippe. Dit is die hoogtepunt van elke dag in jou lewe.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui