Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie
deur Philip Wepener
Pilatus het vir Jesus gevra: “Is U die koning van die Jode?” (Johannes 18:33b). Jesus het hom geantwoord dat Hy die Koning is en dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Johannes 18:34, 36a). Wat beteken hierdie woorde?
Jesus sê vir Pilatus dat sy koninkryk nie ’n aardse koninkryk is nie. As dit so was, soos Hy self sê: … “sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36b). As Jesus se koninkryk ’n aardse koninkryk was, sou sy koninkryk ’n groot bedreiging vir Pilatus, die keiser, Rome en die hele Romeinse Ryk gewees het. Sy eie onderdane, die Joodse volk, sou probeer het om Hom te bevry.
Jesus getuig van die waarheid
Die Romeinse Ryk van destyds het gedink dat waarheid in die keiser, Rome, politieke mag en oorheersing, soldate en wapens lê. Jesus se koninkryk is egter oneindig magtiger en is op waarheid gebaseer. Hierdie waarheid is ’n struikelblok vir die wêreld, want dit getuig van Jesus se koninkryk.
Jesus het na wêreld gekom om die waarheid te getuig (Johannes 18:37b). Hy het mense opgeroep om in Hom te glo en hulle voorberei om aan sy koninkryk deel te hê. Alhoewel sy koninkryk nie van dié wêreld is nie, het Hy sy koninkryk bekend gemaak sodat ons nou as ware burgers van sy koninkryk lewe.
Jesus wil Pilatus van die waarheid leer
Voor Pilatus het Jesus dieselfde gedoen. Jesus se woorde aan Pilatus was ’n uitnodiging om na Hom te luister en die waarheid te leer (1 Timoteus 6:13). Jesus het meer belangstelling in Pilatus getoon as om Homself verder onskuldig te verklaar en te verdedig.
Pilatus wou egter nie die waarheid weet nie. Hy het weggedraai van die Waarheid se stem, Jesus wat voor hom staan, met ’n siniese vraag: “Wat is waarheid?” Met hierdie vraag sê Pilatus nie dat daar geen waarheid is nie, maar dat Jesus se koninkryk onkenbaar is.
Al is “wat is waarheid?” sterk in ons dag en tyd; elkeen het sy of haar eie sogenaamde waarheid, word die Waarheid ontken; dié ware Een wat gesê het:
Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.
Johannes 18:37b
Die Waarheid self sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”
Jesus se koninkryk gaan nie deur ’n wêreldse opstand of van die aarde kom nie. Nee, sy koninkryk gaan van die hemel af neerdaal en dit sal by sy wederkoms gebeur (Openbaring 21:2).
Jesus se koninkryk is nie aan politieke mag en mense onderworpe nie, maar alle mag en mense is aan Hóm onderworpe. Die wêreld is wankelbaar en tydelik, maar die Koning se koninkryk is standvastig en vir ewig. Die wêreldryke verander, maar sy koninkryk bly onveranderlik.
Al ervaar ons verskriklike ontkenning in die wêreld, nogtans is ons burgerskap in ons Here Jesus se koninkryk verseker. Vind daarom jou rustigheid en troos in sy hemelse koninkryk en getuig hierdie waarheid, selfs voor ongelowige goewerneurs soos Pilatus.