Hoe gaan ek die koninkryk binne?

Dis belangrik dat ons nie net die koninkryk van God moet verstaan nie, maar ook weet hoe ons daarby inpas. Lees hier wie die koninkryk van God binnegaan, en hoe.

deur ds. Marnix Boersema


Ons fokus dikwels op wat die koninkryk van God is en hoe dit lyk. Ons bid ook soos Jesus ons gelees het dat hierdie koninkryk sal kom. Maar, ons moet verstaan hoe ons in hierdie koninkryk kan kom. Voordat ons kyk na hoe mens die koninkryk van God betreë, moet ons ook weet wie, en wie nie die Here se koninkryk ingaan nie.


Wie gaan nie die koninkryk binne nie?

Die Skrif gee veral twee beskrywings van mense wat nie die koninkryk sal ingaan nie (onder andere in 1 Korintiërs 6, 15 en Matteus 23). Ek verstaan dit so, dat dit twee maniere is om dieselfde tipe mens te beskryf:

1. Onregverdiges sal nie die koninkryk ingaan nie

“Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie,” (1 Korintiërs 6:10).

2. Vlees en bloed sal nie die koninkryk ingaan nie

Jesus self sê ook in Johannes 3:5, “voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”



Wie gaan dan die koninkryk binne?

Al sal alle mense nie die koninkryk binnegaan nie, is daar wel mense van oraloor wat in die Here se koninkryk ingaan. Die voorwaarde om toe te tree tot die Here se koninkryk is nie ’n bepaalde taal, geslag, ras, familie of finansiële status nie. Jesus sê in Matteus 8:11, mense van oraloor sal saam met Abraham, Isak en Jakob aansit in die koninkryk.

Dit is net vir sommiges gegee om die geheime van die koninkryk te ken (Luk. 8:10), sê Jesus vir sy dissipels. In Matteus 7 sê Hy net hulle wat ’n hoër standaard van geregtigheid handhaaf, hoër as die standaard van die Fariseërs, sal kan ingaan. Hy sê ook verder, nie almal wat sê “Here, Here” sal ingaan nie, maar slegs die wat die wil van die Vader doen.

Kan jy sien hoe smal en hoe nou die ingang tot die koninkryk is? Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan! Saam met Jesus se dissipels in Markus 10:26 vra ons ook nou: “wie kan dan gered word?”

Dit is presies die punt en die plek waar ons moet wees, want Jesus sê die koninkryk behoort aan die armes van gees in Matteus 5. Wat bedoel Hy met die “armes van gees?” Hy bedoel hulle wat hulle absolute hopeloosheid besef. Hulle wat alles van Hom, die Here, verwag en van Hom af pleit. Hulle wat alle pogings tot selfverlossing en geestelike selfhandhawing laat vaar het, wat hoop en vertrou op Jesus Christus. Dit is hulle, wat die Koninkryk van God binnegaan.

Mens kan iemand verhinder om in die koninkryk in te gaan

’n Mens kan ook iemand anders verhinder om in die koninkryk in te gaan. Jesus sê vir die Fariseërs dat hulle mensgemaakte maatreëls en valse leer mense verhinder om die koninkryk in te gaan (Matteus 23:6). Bid die Here, dat jy tog nooit deur valse leer en mense-wette iemand sal verhinder om die koninkryk in te gaan nie!


Hoe kan ek in sy koninkryk ingaan?

1. Slegs deur die wedergeboorte en nie uit eie krag nie (Matteus 18:3)

So wat is die regte antwoord, as ek vra: “wie kan in God se koninkryk ingaan?” Die regte antwoord is eintlik … niemand nie! Soos jy van nature is, kan jy nie in God se koninkryk ingaan nie. Iets moet eers verander. Jy moet verander!

Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!

Matteus 18:3

As jy dink aan ’n pap babatjie, of selfs ’n jong kleuter, dan is die kenmerkende eienskap van daardie kind, hul absolute afhanklikheid van die ouer. Hulle is hulpeloos sonder die ouer. Hulle het alles van die ouer nodig. Soms maak hulle hul ouers mal, want dit is net heeldag “mamma, mamma help hier, waar is dit, hoe doen ek dit?” Maar die kind kan nie anders nie, want sy is hulpeloos en afhanklik van haar ouer.

Dit is aan sulke mense, wat hul hulpelose afhanklikheid van die Here besef en leef, dit is aan sulkes wat die koninkryk behoort, sê Jesus. As jy dink jy kan jouself in die koninkryk inwerk, dat jy waardig is, dat jy dit verdien, of dat jy genoeg van die koninkryk weet, dan moet jy verander. Verander en word hulpeloos afhanklik van Jesus, soos ’n kindjie!

Jy moet tot in die diepste kern van jou wese verander. Jy kan nie in die Here se koninkryk ingaan soos jy is nie. Die Here moet deur sy Heilige Gees jou kom verander. Dit noem ons die wedergeboorte. Net die wedergeborenes sal die koninkryk sien, sê Jesus vir Nikodemus. En om wedergebore te word, kom net van God af. God wat dit in ons harte kom werk.

2. Deur die geloof in Christus en bekering van ons sondes

Dit is deur die wedergeboorte, wat ons ook die gawe ontvang om te glo. Deur die wedergeboorte van die Here se Heilige Gees, kom ons tot insig van ons totale afhanklikheid en swakheid. Dit is deur te glo in Christus en ons te bekeer van ons vorige slegte lewenswandel, dat ons in God se koninkryk ingaan. Daarom hoor ons heeltyd hoe Jesus die mense oproep: “bekeer julle en glo, want die koninkryk van God is naby!”


Opdragte in die Bybel om God se koninkryk te soek

Die wedergeborenes kan nou en wil ook gehoor gee aan die talle oproepe in die Skrif om daadwerklik die besluit te neem en te soek na die Here se koninkryk. Om ons lewe af te lê vir Christus en Hom te volg.

  • Ons moet geheel en al toegewyd wees om in die koninkryk in te gaan (Matteus 19:23,24).
  • Ons moet ’n enkele fokus hê op die koninkryk van God (Lukas 9:62).
  • Om sy koninkryk en geregtigheid te soek moet ons eerste prioriteit wees (Matteus 6:33).
  • ’n Mens gaan deur verdrukking in die koninkryk van God in (Handelinge 14:22).
  • Ons moet ons beywer om ons roeping en verkiesing vas te maak; so word ’n ingang in die koninkryk vir ons gemaak (2 Petrus 1:11).
  • Ons moet bid dat sy koninkryk sal kom (Matteus 6:10).

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui