Wat sê die Bybel oor alleen bly?

In 1 Korintiërs 7 praat Paulus, wat nooit getroud was nie, oor die huwelik. Lees hier wat hy sê, én hoekom ons God altyd eerste moet plaas.

deur ds Jacques Kuhn

Lees gerus vir agtergrond 1 Korintiërs 7 & Genesis 2:18-25.



Om in verhoudings te leef is deel van die mens se alledaagse lewe, ’n werklikheid. Op verskillende terreine van die lewe het ons te doen met verhoudings tussen ouers en kinders, man en vrou, kollegas by die werk, die petroljoggie wat elke keer jou kar vol maak, ensovoorts. Dit noem ons intieme en vriendskaplike verhoudings.  

Maar wat sê die Bybel oor iemand wat alleen bly en nooit trou nie? Sal jy, in al die verhoudings wat mens deur die loop van die lewe beleef, by ’n punt kom waar jy verlief raak?

God skape nie die mens om alleen te wees nie

Wel om die vraag te beantwoord moet ons terugkeer na hoe God ons as mens geskape het. Die Here wys ons self uit Genesis 2:18, hoe God self sê:

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.

Die Here wys vir ons dat Hy die mens geskape het om juis nie alleen deur die lewe te gaan nie. Om ’n beste vriend, verloofde en dan huweliksmaat te hê om saam jou deur die lewe te gaan. Mekaar te ondersteun. ’n Stuk hemel op aarde te beleef van die effek wat se ware selfopofferende liefde God vir ons het, soos geopenbaar in Romeine 8. Liefde wat soos Efesiërs 5 sê: jou sal lei om jou lewe vir jou huweliksmaat af te lê, sodat hulle sonder vlek of rimpel of iets dergeliks sal wees.  

Natuurlik gebeur dit in die lewe dat mense nie die huwelik in so ’n lig beleef nie, weens die sonde en die versugtinge van hierdie lewe. Dit gebeur dat mense nie hulle beste vriend en huweliksmaat ontmoet nie. Die uitwerking daarvan is in die hande van die Here. Dit is sy wil wat moet geskied en ons kan net vir ons kinders, kleinkinders bid, dat God op sy tyd die regte man oor jou dogter se lewe en vrou oor jou seun se lewe sal bring.

Paulus noem die huwelik’n genadegawe van God

Paulus het gesê: “Dit is goed vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe,” (1 Korintiërs 7:1). Hy sê ook dat hy wens elkeen kan soos hy wees (1 Korintiërs 7:7). Hy stel dit so kragtig, omdat hy as prediker self nie in die huwelik bevestig was nie. Paulus was as enkellopende man in diens van God om, soos ons weet, soveel gemeentes te bedien met die Woord van God. Want God het deur sy Heilige Gees hom gebind tot dienswerk vir God (Handelinge 20:22-24).

Paulus bely egter ook dat die huwelik ’n genadegawe van God is (vers 8). Genade wat beteken, God gee die teenoorgestelde as wat jy verdien. En gawe wat beteken, jy ontvang ’n geskenk.

Hierdie geskenk is om te kan trou of om weerhou te word om te trou en glad nie die begeerte te hê om te trou nie. Dit word deur God aan elkeen afsonderlik uitgedeel, soos Hy dit behaag. Ons kan nie ’n huwelik of verhouding maak werk/ forseer as dit nie God se wil is of sy geskenk aan ons is nie. Dan maak ons meer seer, skade en tree ons liefdeloos op eerder as om gehoorsaam aan God te lewe.

God moet eerste wees vir getroudes én ongetroudes

Die kern egter van die getroude of ongetroude se lewe moet diens wees aan God. Ongetroudes en getroudes moenie in sondes van die vlees val, waar die wil en Woord van God opsy geplaas word nie. God moenie tweede kom nie. Hy moet eerste wees.

God moet die sentrum, die belangrikste in jou lewe wees (vers 32-34). Of jy nou enkellopend is of getroud, in ’n verhouding en ’n huwelik of nie. Dit gaan hier oor geloof in God wat in dade moet verder voortvloei. Jou verhouding met God is die saak wat sentraal staan. Elke dag tyd te spandeer as kind met jou Hemelse Vader.  

Want toe Jesus ons van die sondes verlos het, het Hy ons in staat gestel om vrye toegang tot God te hê. Het Hy ons verhouding wat eers gebroke was weens sonde herstel. Het God ons wat moes gestraf word vir ons sonde en sondeskuld vergewe en is ons kinders van God gemaak. Ons is nie meer die Here se vyande nie, weens Christus se kruisdood. Christus het dit wat tussen ons en ons Hemelse Vader se verhouding gestaan het kom wegneem.

Fokus op God en jy sal jou naaste liefhê

Daar kan nou en mag nou niks meer in die weg staan van jou verhouding met God nie. Dit klink dalk baie erg, maar selfs nie eers jou vrou of kinders mag tussen jou en jou verhouding met God kom nie. Want jou eerste liefde is God en dan jou aardse geliefdes.

Daarmee sê ek nie ons moet nie ons pligte as huweliksmaats nakom of as ouers nie. Maar dat wanneer ons fokus op God is, sal my liefde vir my naaste outomaties begin realiseer soos God dit in sy Woord verlang. Ons moet toegewyd, gefokus, gedissiplineerd ons tyd wat ons het in die lewe gebruik om God te verheerlik (vers 35).

Jou hele wese moet God dien

Paulus sluit aan by wat hy alreeds in 1 Korintiërs 6:19-20 openbaar het, toe hy gepraat het oor die saak dat mens se liggaam die tempel van God is en dat ons liggame nie aan onsself behoort nie, maar aan God.

Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

God vereis dat ons nie net met ons liggame nie, maar met ons hele lewe God getrou moet dien. Of jy nou enkellopend is, in ’n verhouding is, verloof is of getroud is. Jy leef nie enkellopend in die oë van God nie, want jy is getrou aan Hom. Jy is sy bruid. Hy het sy lewe vir jou afgelê, sodat jy nie agter afgode verdwaal raak nie, maar as sy bruid vir Hom sal lief wees. Selfopofferend lief wees, deur kerk toe te gaan, huisgodsdiens te doen, Bybelstudie te doen, te bid, sy Woord gehoorsaam uit te leef.

Jou wil en lewe is ondergeskik aan jou Hemelse Vader se wil. Hy sal jou beste vriend, jou huweliksmaat oor jou pad stuur, of Hy sal bestem dat jou gawe is om alleen te wees. Vind vrede in die wil van God en bly steeds Hom getrou dien.

Ons almal behoort aan God

As dit God se geskenk aan jou is dat jy getroud is, kinders het of selfs agterkleinkinders, maak seker jy en jou vrou, jou kinders, kleinkinders en agterkleinkinders leef in eerbied en ontsag vir God. Om in verhouding met God te leef, getrou aan Hom. Want ons is sy bruid, ons is sy kerk. Of jy nou ’n enkellopende gelowige is of ’n getroude gelowige – Jy behoort aan God as gelowige.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui