Waarvoor is voorhuwelikse kategese?
Aangesien God die huwelik ingestel het, verwag Hy van gelowiges om in die huwelik rég op te tree (Genesis 2:21-25). Al hoe ons dit kan doen, is om op die regte manier vir die huwelik voor te berei. En dit is presies waarna die term “voorhuwelikse kategese” of “voorhuwelikse berading” verwys.
deur ds Daniël Myburgh
Wat is voorhuwelikse kategese?
Voorhuwelikse kategese is om vanuit die Here se Woord onderrig te word oor presies wat ’n Christelike huwelik behels. Dit is om alle moontlike vrae en situasies te probeer bespreek vóórdat die huwelik gesluit word.
Dit is om biddend en met ’n oop Bybel te gesels oor sekere sake wat moontlik tydens die huwelik mag opduik en hoe jy en jou voornemende huweliksmaat dit gaan hanteer. Want jy dink jy ken jou aanstaande huweliksmaat, maar is dit werklik die geval? Al spandeer julle ook hóéveel tyd saam – en gesels lekker – is daar sekere sake (én sondes) wat nét deur die Bybel oopgevlek kan word.

Liefde kan jou blind maak vir die ander se foute
Wanneer ’n mens verlief is, dan sien ’n mens nie die ander persoon se foute en tekortkominge raak nie. Die spreekwoord sê nie verniet dat die liefde blind is nie! Ongelukkig steek baie mense hul negatiewe eienskappe van mekaar weg – net om ná die huwelik ontnugter te word. Jy dink jou aanstaande huweliksmaat is só of só, net om ’n paar jaar later die teenoorgestelde agter te kom.
Iets anders wat baie keer gebeur, is dat een (of beide) van die partye aktief die ander een se foute ontken. Baie mense meen dat hulle hul huweliksmaat ná die troue sal verander. En daarom aanvaar hulle vóór die huweliksluiting sekere gedrag, wat vir hulle normaalweg onaanvaarbaar sou wees, omdat hulle meen dat hulle hul verloofde sal kan “verander” wanneer hulle eers getroud is.
Die hartseer realiteit is dat dit meeste van die kere nié die geval is dat een huweliksmaat die ander se denke en optrede kan verander ná die huwelik nie. Dit is net God se Woord en sy Gees wat dít kan doen.
Belangrike vrae tydens voorhuwelikse kategese
Tydens voorhuwelikse kategese word die paartjie dan gelei na gesprekke wat onderwerpe bespreek wat hulle nie noodwendig sélf oor sal praat nie. Tipiese onderwerpe wat tydens hierdie sessies bespreek word, is of jou aanstaande ’n ware gelowige is of nie? Dit is die belangrikste vraag wat jy vir jouself moet kan beantwoord indien jy oorweeg om met iemand te trou (vgl. o.a. 2 Korintiërs 6:14, 15).
Ander tipiese vrae waaroor ’n mens sal gesels is die volgende: “Hoe hanteer ek konflik in die gesin?” “Wat is jou siening oor dissipline?” “Indien dit die Here se wil is, sal jy eendag kinders wil hê of nie? Indien wel, hoeveel kinders?” Hoe voel jy ook kerkbywoning en hoe belangrik is die kerkverband waaraan jy tans behoort vir jou?”
Hierdie is maar net ’n paar basiese vrae wat bespreek kan word. Natuurlik sal daar baie meer sake na vore kom soos die gesprekke gevoer word. En soos wat daar vertroue gewen word. Een van die belangrikste sake waarom voorhuwelikse berading noodsaaklik is, is sodat beide partye van die voorgenome huwelik oop en eerlik met mekaar is. So weet hulle elkeen presies waarvoor hulle “ja” sê op die dag van hul troue. En ál manier waarop ’n mens by die dieper geheime kan uitkom is as die Woord en die Gees ’n mens stroop van al jou voorgee en leuens.
Waarom is voorhuwelikse kategese nodig?
En dit is die rede waarom voorhuwelikse berading so belangrik is. In ons nietigheid dink ons baie keer ons kén iemand deur en deur, maar dan is die teendeel waar. Soos wat jy vir jou huwelik voorberei behoort jy konstant te besef dat jy en jou aanstaande vanuit twee verskillende agtergronde en gesinne kom, en dat julle met mekaar gáán verskil oor bepaalde sake van die lewe.
Om te sorg dat hierdie verskille nie sal veroorsaak dat dit in ’n egskeiding ontaard nie, is voorhuwelikse kategese uiters belangrik. Want dit gee jou en jou verloofde die geleentheid om vóóraf te gesels oor bv. hoe julle jul geld gaan bestee of wat jou liefdestaal is.
Die belangrikste doel van huweliksvoorbereiding is om biddend te bepaal wat God se doel en wil met die huwelik is. Jou predikant sal jou daarin kan begelei sodat jy en jou verloofde vroegtydig daarby kan uitkom.
Wees realisties oor die huwelik se uitdagings
Selfs al is jy dolverlief moet jy altyd realisties en nugter wees oor die uitdagings wat ’n huwelik kan inhou. Besef dat jy én jou verloofde in sonde ontvang en gebore is en dat daar áltyd probleme in julle huwelik sal wees indien beide van julle nog nie tot wáre bekering gekom het nie (vgl. o.a. Romeine 3:9-24; Efesiërs 2:1-10).
Tog gee die Here aan ons die gawe van voorhuwelikse kategese. Daardeur kan ons Hom én ons aanstaande beter leer ken. En ons kan ons voorgenome huwelike in gehoorsaamheid aan God Drie-enig aanpak.