Wêreldvrede is ‘n opdrag

Deur ds. Ockert Struwig
Ons hoor weekliks hoe wêreldleiers poog om vrede tussen verskillende nasies en volke te bewerkstellig. Dit is ’n vredesberaad hier en ’n konferensie daar. Daar word gepraat oor vrede en gebid vir vrede, maar daar gebeur soveel dinge wat die vrede kom steel.
Dink maar aan jou eie omstandighede. Iets wat ons almal seker een of ander tyd tref is die onvrede in jou persoonlike verhoudings. Spanning tussen man en vrou, ouers en kinders. Konflik en wrywing by die werk! Mense wil net nie met mekaar vrede maak nie. Dit lyk my die moeilikste woorde om te sê is: Jammer, vergewe my, of, kom ons maak vrede.
Vir bykans 2000 jaar tot vandag toe word die Evangelie van Vrede verkondig (Handelinge 10:36, Efesiërs 6:15), maar dit is asof die mens dit hoor maar net nie daaraan aandag gee nie. Miskien is dit omdat mense die begrip vrede nie reg verstaan nie.
Wat is vrede?
- Vrede het nie ’n prys nie.
- Vrede kan nie gekoop word nie.
- Vrede is nie ’n goedkoop handskud en nou is alles sommer weer reg nie.
Vrede is soos ’n klein saadjie wat ontkiem en groei en uiteindelik ’n groot boom word. Dit is iets wat hier binne jou begin. Hierdie vrede is nie maar ’n vrede ter wille van nie, hierdie saad van vrede ontkiem as gevolg van ’n besondere verhouding met God. Soos hierdie verhouding groei, kring die vrede uit na buite.
’n Opdrag vir vrede
Hebreërs 12:14-16 sê: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.”
In hierdie teksgedeelte kry ons elkeen ’n besondere opdrag van God. Hierdie opdrag is so belangrik dat dit vandag nog net so geldig is soos toe dit aan die Hebreërs gegee is. As ’n mens die boek Hebreërs lees, dan kom jy agter dat die boodskap van die Bybel nie altyd baie gewild was nie. Die Bybel praat van dinge waaroor die wêreld heeltemal anders dink. Die Bybel noem dikwels dinge wat teen die normale denke van die mens ingaan.
Hierdie Hebreërs het sekerlik ook lank en diep oor hierdie opdrag van die Here nagedink. Dit was:
- ’n Tyd van swaarkry en verdrukking deur die Romeine (10:33).
- ’n Tyd van polarisasie en groepvorming (10:39).
- ’n Tyd van twyfel en ongeloof (10:35).
Al hierdie dinge het die gelowiges oorgekom en baie van hulle het gevoel:
- Ag, wat is dit alles werd (11:1)?
- Waarom moet ek so swaarkry en dit net omdat ek ’n Christen is (6:12)?
- Wat het van die vrede op aarde geword wat aan ons beloof is?
Miskien het hierdie Hebreërs ook gedink dat daar vrede in hulle lewens sal kom as hulle omstandighede verander. As hulle tog net bevry kan word en los kan kom van hulle onderdrukkers. As die moordenaars en die twissoekers net kan pad gee.
Vrede begin by jou
Dalk dink jy …
- as my omstandighede tog net kan verander.
- as ons tog net die misdaad en die korrupsie van die regering onder die knie kry.
- as ons net die skelms onder ons kan uitroei.
- as … hulle net kan verander … dan sal ons vrede hê.
Maar God sê vir elkeen van ons. Dit is eintlik ek en jy wat moet verander!Dit is eintlik ek en jy wat moet verander.
- As daar nie vrede in jou lewe is nie, dan is dit ernstig tyd om te besin oor jou geloof en jou toewyding aan die Here.
- As daar onvrede in jou omgewing en in jou verhoudinge met enige ander mens of mense is, dan het jy nog nie die opdrag van die Here in Hebreërs 12 ernstig opgeneem nie.
God beveel elkeen van ons om ons vir vrede te beywer. Om in vrede met alle mense te leef, is ’n direkte opdrag van die Here. Om my te beywer vir vrede word nie aan my eie keuse oorgelaat nie. Dit is ’n bevel van die Here.
As die Here vir ons sê “Jaag die vrede na …” beteken dit ons moet daarop fokus. Dit moet ons doelwit wees. As ons die betekenis wil verklaar, beteken dit: Hardloop agter dit aan met dringendheid (urgency) en intensheid (intensity).
“Beywer julle vir vrede …” beteken nie maar om vrede te maak net ter wille van die vrede nie. Nee, my motivering vir vrede moet kom uit my verhouding met Jesus Christus. Dit is die Vredevors self wat ons hierdie opdrag gee. Hy is die Bron van vrede. Met sy kruisdood het Hy vrede tussen ons en God die Vader bewerk. Hy vra nie iets wat onmoontlik is nie. Deur die Heilige Gees het Hy die saad van vrede in elkeen van ons kom plant. Deur Sy kragtige werking stel Hy ons instaat om ons te beywer vir vrede met alle mense.
Daarom sê die Here Jesus self (Matteus 5:9): “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
As ek myself ’n Christen noem, as ek my Here se voorbeeld navolg, dan behoort ek nie anders op te tree as om my te beywer vir vrede met alle mense nie. As ek myself ’n Chisten noem dan moet ek weer al my verhoudinge onder die soeklig gaan plaas. In die eerste plek my verhouding met God, maar ook my ander verhoudinge. Ja, selfs my verhouding met my vyand!
Leef jy dalk in onvrede met God, of met iemand anders?
Is daar dalk iemand in jou familie of iemand in die gemeente dalk waarmee jy ’n probleem het? Is daar iemand daar buite, iemand wat die haat en woede en die lelike in jou wakker maak?
- Gaan maak vrede met hom of haar of hulle.
- Gaan maak vrede, want God eis dit van jou. Dit is God se opdrag vir jou.
- As ons nie streef vir vrede in ons persoonlike verhoudings nie, hoe sal ons ooit vrede in ons lewe of in ons land kan hê?
- Vrede, ook wêreldvrede begin hier, in my verhouding met God en dan kring dit al hoe wyer uit.
- Vrede is nooit die gevolg van ’n konferensie of ’n wêreldberaad nie.
- Vrede begin in ’n lewende verhouding met God.