Is jou wapenrusting gereed vir die geloofstryd?

God roep ons om in die geloofstryd ons volle wapenrusting aan te trek. Lees hier wat dit beteken en hoe ons dit moet doen.

deur ds. Lourens Venter

Die apostel Paulus beskryf ons geloofslewe as “ons stryd…” Dit klink morbied en negatief om die geloofslewe so te beskryf. Kan dit wees dat geloof ’n stryd is? Moet geloof nie eerder iets wees wat ons bly maak en vreugde gee nie? Ons wil eerder hoor van God se liefde, as sy oordeel. Ons wil eerder hoor hoe romanties die verlossing van Christus is, hoe ons net in voorspoed en geluk sal lewe.

Hoewel ons nie ontken dat die Here na waters waar daar rus en vrede is lei nie, en dit ook is waarna ons streef nie, lees ons in die Bybel dat die Here ons herhaaldelik van die teendeel waarsku. Ons as mense staan in die gebrokenheid van die wêreld. Sommige is al moeg van al die bekommernis en onsekerheid, moeg om te stry om ’n bestaan te maak.

Hierdie lewenstryd is eintlik niks anders as ’n geloofstryd nie. En as ons so hard getref word in die lewe, verstaan ons wat dit beteken dat ons geloof ’n stryd is. Ons lewe deur die geloof en elke dag se bestaan is gegrond op dit wat ons glo.

Elke dag voel ons meer en meer die verdrukking van dit wat vir ons kosbaar is. Maar dan staan hier: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie…” Hoewel moeilike gebeure ons tref, is dit nie die hoofsaak waaroor ons geloofstryd gaan nie. Ons stryd is teen die sonde. Ons stryd is teen die owerhede en die magte, die wêreldheersers van die duisternis, die bose geeste in die lug.


Wat moet jy weet om die geloofstryd aan te pak?

In hierdie stryd word ons as kerk opgeroep om die wapenrusting van God aan te trek sodat ons kan staande bly. Hierdie is ‘n fundamentele deel van ons geloofsuitlewing. Ons moet elke dag gereed wees om geestelik oorlog te voer. Ons moet leer wie ons vyand is, en weet hoe om teen hierdie vyand te veg.

1. Ken jou vyand

Eerstens moet jy bepaal wat die stryd behels. Daar is baie Christene wat dink dat geloof nie ’n stryd is nie, en in valse gerustheid leef. Dié valse gerustheid is nie net gevaarlik nie, maar ook teenstrydig met die Skrif. Die Here self waarsku ons oor die vyand wat soos ’n wolf in skaapsklere rondsluip. Hy doen homself voor as die engel van die lig en kom en bied homself aan as die verlosser van hierdie wêreld.

Petrus waarsku die gemeentes deur te sê dat die duiwel soos ’n brullende leeu rondgaan gereed om enigeen te verslind wat oor sy pad kom. Ons stryd is egter nie net teen die duiwel nie, daar is nog vyande: Die wêreld om ons wat verlei met sy besittings en aanloklikhede.

2. Ken jouself

Ons moet onsself ken, en die gevare wat met ons eie begeertes saamkom. As ons nie weet wat die gevaar van ons eie hart en gedagtes is nie, val ons baie maklik in die strik van die bose. Wanneer ons deur die geloof tot die insig kom dat ons krag nie in onsself is nie, word die pad makliker om te stap.

Ons wil so graag self teen die sonde stry, maar die Here leer ons om kragtig te word in die krag van sy sterkte, nie in ons eie krag nie. Ons moet onsself voor die Here ken. Hy moet meer word, en ons minder. Dit is juis wanneer ons in ons swakheid neerbuig in nederigheid wat God se krag in ons volmaak word.

3. Beraam ’n plan

Om stryd te voer teen die bose beteken nie om self die geveg teen die duiwel en die wêreld aan te durf nie. Die Heilige Gees leer ons om deur die geloof te volhard in gebed en smeking.

Ons geloofsplan van aksie is dus nie om self die wêreld te probeer oorwin nie, maar om ons krag en vertroue in die Here te stel. Daarvoor moet ons die wapenrusting aantrek wat God aan ons gee. Hierdie wapenrusting is nie iets wat ons uit onsself kan aantrek nie, maar alleen deur die krag van die Heilige Gees.

Om ons heupe moet die waarheid as gordel gebind word, en as borswapen moet ons die geregtigheid aantrek. Daarbenewens moet ons die skoene van bereidwilligheid aantrek om die evangelie te verkondig. Met die skild van die geloof in ons hand kan ons die pyle van die Bose afkeer. Laastens moet ons die helm van verlossing aantrek en die swaard van die Gees in die hand neem, dit is die Woord van God.


Ons kan die bose oorwin. Maar nie in eie krag nie. God is die Een wat die stryd aanvoer. Hy is die Een wat die oorlog verklaar het. Christus het reeds die dood oorwin. Hy het reeds die oorlog gewen. Daarom kan ons stryd voer. Met die volle wapenrusting aan kan ons weerstand kan ons die stryd voer.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui