Moenie ligtelik ʼn gelofte maak nie

Deur Ds. Coen Vrey.

Verstaan ons werklik wat dit beteken wanneer ons ’n belofte aan God maak?

Die gelofte by Bloedrivier op 16 Desember 1838 is nie die enigste gelofte wat gelowiges al aan die Here gemaak het nie. Baie van ons het ook in ons eie geskiedenis al geloftes aan die Here gemaak. Om ʼn gelofte aan die Here te maak is ʼn wonderlike gebeurtenis. Dink maar aan die dag toe jy openlik voor die gemeente jou geloof in God bely het. Of dalk is jy getroud, en kan terugdink aan die dag toe jy beloof het om jou huwelik tot eer van God te onderhou. So is daar nog ʼn hele paar geloftes of beloftes wat ons al aan God gemaak het. Besef ons regtig wat dit beteken om aan die heilige en jaloerse God ʼn gelofte te maak? Ons moenie ligtelik ʼn gelofte aan die Here maak nie.

Hoe om nié ’n gelofte te maak nie

Om te verstaan wat dit beteken om te belowe dat ons die Here gaan dien, is dit eers nodig om te sien hoe so ʼn belofte nié gemaak moet word nie. In Josua 24 lees ons dat daar twee maniere of gesindhede is wat nie by die maak van ʼn belofte moet wees nie:

  • Die belofte moenie net op emosie berus nie

In Josua 24:14-15 lees ons hoe Josua die volk vermaan. Hy herinner hulle dat hulle die Here moet vrees, en moet kies wie hulle dien. Die volk antwoord: “Dit is ver van ons, dat ons die HERE sou verlaat om ander gode te dien” (Josua 24:16). En nadat hulle ook redes uit hulle geskiedenis aangevoer het, sê hulle: “Ook ons sal die HERE dien, want Hy is onse God” (Josua 24:18). Die volk se antwoord op die vermaning is die een wat ons verwag en tog is Josua nie tevrede met hulle gelofte nie. Hulle emosies is opgewek nadat Josua deur die Here hulle herinner het aan wat Hy alles vir hulle gedoen het. Die volk sê maklik ja. Maar wat gaan in die dae daarna gebeur, wanneer elke dag met sy daaglikse probleme daar is? As niemand hulle aan God se groot en kragtige dade herinner nie?

  • Die belofte moenie uit eie krag gedoen word nie

ʼn Mens kan sommer sien hoe opgewek die Israeliete is, hulle gaan die Here dien. Dan is dit asof Josua koue water oor hulle uitgooi wanneer hy sê: “Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is ʼn heilige God, Hy is ʼn jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie” (Josua 24:19). ʼn Emosionele gelofte wil met die eie krag van die mens onderhou word. Maar dit kan nie gebeur nie, want God is heilig en Hy eis onverdeelde trou aan Hom. Dat God heilig is, beteken dat Hy geheel en al anders as ons sondaars is. Omdat Hy so volmaak goed en vol liefde is, haat Hy alle sonde en verkeerde dinge. Daarom tree Hy ook so volmaak regverdig op. Die geloof in Hom beloon Hy uit genade, maar die sonde straf Hy regverdig.

Wees getuie van jou gelofte

Nadat die volk gehoor het dat ʼn gelofte op grond van emosies en eie krag nie waarde het nie, hou hulle steeds vol dat hulle die Here sal dien. Josua antwoord hulle: “Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself die HERE gekies het om Hom te dien. En hulle sê: Ons is getuies” (Josua 24:22). Israel moes besef dat hulle self getuies daarvan is dat hulle gekies het om die Here te dien. Sou hulle afvallig word en vreemde gode dien, is hulle self getuies daarvan dat dit net hulle eie skuld sal wees as hulle gestraf word. Maar God is regverdig, Hy gee aan hulle die krag om dit te onderhou.

Onthou die volgende as jy ‘n gelofte maak

  • Die probleem is nie emosies in ons diens aan die Here, dis ’n probleem wanneer dit net op emosies gebou word.
  • Wanneer jy nie meer so emosioneel opgewek voel nie, of nie meer net tussen gelowiges is nie, is dit maklik om aan te gaan soos al die ander mense doen. Dan dink ons die Here moet maar tevrede wees met wat ons gee.
  • Almal wat die gelofte maak om God te dien, moet weet dat God heilig is en eis dat sy dienaars ook heilig moet wees.
  • God het deur sy heilswerk in sy Seun en deur sy Gees die gevolge van die sondeval in die gelowiges omgekeer. Daardeur mag ons in die geloof tot die heilige God nader en Hom dien.
  • Iemand wat meen dat hy uit eie krag die Here kan dien, het ʼn verkeerde siening van ʼn gelofte. So ʼn mens volhard nog hardnekkig in die sonde en is verknog aan homself en sy eie sondige aard. Hy rebelleer teen God en staan buite Christus.
  • Dit is die Gees wat ons gewillig maak om te besluit. Wanneer ons dan deur die Gees in staat is om die sonde af te sterf en ons doen dit ook, dien ons die Here gewillig.

Kom jou gelofte na

Die Here ons God kom nie net al sy beloftes na nie, jy word ook oorweldig deur die ontsag en verwondering wat Hy afdwing. Jy sien sy krag. Hy maak sy kinders se pad wonderbaarlik oop. Wat mense as onmoontlik beskou, is vir Hom ʼn eenvoudige moontlikheid. Kyk weer ʼn oomblik terug op jou lewe. Alles wat jy het en is, is aan God te danke.

Wanneer Josua sê “ek en my huis, ons sal die HERE dien,” (Josua 24:15) doen hy dit nie uit eie krag nie, maar omdat God in hom die krag werk om dit te doen. So moet ons ook besef ʼn gelofte aan die Here kan nie op grond van emosies gemaak word en ook nie uit eie krag gemaak en onderhou word nie.

Maar hoe dien ʼn mens nou die Here gewillig en kom jy jou verantwoordelikheid na?

  • Wy jouself geheel en al aan die Here toe.
  • Gebruik jou hele liggaam en al jou kragte om net God te vereer, maak nie saak waar jy is nie.
  • Alles wat jy doen en sê moet dit vir die mense rondom jou duidelik maak dat jy die Here dien.
  • Onderwerp jou gewillig aan die Here.
  • Bid dat die Gees jou daarin sal lei sodat jy dit gewillig sal kan doen.

Hierdie artikel is verwerk uit ‘n preek van Ds Coen Vrey van Gereformeerde Kerk Bellville. As jy die volledige preek wil lees, klik hier.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui