Wondertekens wys met ’n dieper betekenis na Jesus
In hierdie artikel leer ons wat ’n wonderwerk is en hoekom dit in die Bybel plaasgevind het. Daarna leer ons oor wondertekens en hoekom dit jou dieper moet laat kyk.

deur ds. Brahm Robinson
Wonderwerke! Dit is iets wat dadelik jou aandag trek en jou verbeelding aan die gang sit. Ons lees van baie wonderwerke wat in die Bybel gebeur het. Dink net hoe dit moes wees om deur die Rooisee te loop wat oopgekloof weerskante van jou staan. Of om te beleef hoe ’n melaatse genees word, ’n dooie opgewek word of giftige water drinkbaar word. Dink net aan die water in wyn of ‘n blinde wat weer kan sien. Dit is alles dinge wat die Here se wonderlike krag openbaar.
Wat is ’n wonderwerk?
’n Definisie van ‘n wonderwerk, is dat dit ’n gebeurtenis is wat van buite hierdie wêreld tot stand gebring is deur die wil van God. Wonderwerke wys dat dit nie net natuurkragte is wat in hierdie lewe aan die werk is nie. Vaste natuurwette word deur God se bonatuurlike krag onderbreek.
Wanneer het wonderwerke in die Bybel gebeur?
Meeste van die Bybelse wonderwerke het in drie periodes van die Bybelse geskiedenis gebeur: in die dae van Moses en Josua, gedurende die bediening van Elia en Elisa, en in die tyd van Christus en die apostels. Afgesien van daardie drie tydperke, is daar ‘n paar geïsoleerde bonatuurlike gebeure wat opgeteken is in die Skrif.
Hoekom het wonderwerke plaasgevind?
Sekere eienskappe van die wonders in die Skrif help ons om te verstaan hoekom God op daardie wyse gewerk het:
- Wonderwerke het ’n nuwe era van God se openbaring ingelei: Al drie periodes van wonderwerke was tye toe God groot hoeveelhede van sy geskrewe openbaring gegee het. Met ander woorde, waar die Here groot dele van die Bybel gegee het, was daar ook wonderwerke om dit te bekragtig. Hulle wat die wonderwerke gedoen het, het daarmee die openbaring van God se Woord aangekondig: In die tyd van Moses het die Here die Wet gegee. In die tyd van Elia en Elisa was daar ook baie wonderwerke en dit was die openbaring van God se Woord deur die profete. Laastens was daar ook baie wonderwerke in die tyd van Jesus en die dissipels. Uit die aard van die saak was dit omdat Jesus self ook God is, maar die dissipels het ook wonderwerke gedoen om aan te dui dat dit die tyd van die nuwe verbond is, die Nuwe Testament.
- Wonders het die boodskapper van die openbaring bevestig: Die mense was nie maar net bekendmakers van God se krag nie, maar die wonders bevestig die profeet se eis dat hy deur God gestuur is om met die mense te praat. In 1 Konings 17, het Elia pas die weduwee se seun opgewek. Wat was die weduwee se antwoord? “Nou weet ek dat u ’n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”
- Wonderwerke het die aandag op die nuwe openbaring gevestig: Dus het die wonderwerke ‘n doel wat verby die onmiddellike effek van die wonderwerk self gaan. Die mense moes let op wat verkondig word.
Wat is die verskil tussen wonderwerke en wondertekens?
Hoewel ons van baie wonderwerke in die Bybel lees, lees ons ook dat die Bybel van wondertekens praat. Wat is die verskil tussen wonderwerke en wondertekens? Ons lees in hoofstuk 6 van die evangelie van Johannes, dat hy die enigste wonderwerk wat in al vier evangelies opgeteken is, anders noem. Johannes verwys nie na die gebeure as ’n wonderwerk nie. Hoewel dit wat Jesus gedoen het wel ’n wonderwerk was, verwys Johannes daana as ’n wonderteken.
Wanneer Jesus ’n wonderwerk doen, word dit gedoen om sy gesag aan te dui waarmee Hy optree. Jesus doen dit om sy godheid aan die mens bekend te maak, dat Hy met die gesag van die Vader optree. Maar wanneer Johannes sê dat Jesus die wonderteken verrig het, beteken dit dat dit nie net oor die handeling gaan wat Jesus verrig het nie. Ja, ons moet raaksien dat Jesus die ware God is, maar die feit dat dit ’n teken ook is, beteken dat daar ’n dieper geestelike betekenis agter die gebeure gesien moet word. ’n Wonderteken het ’n ekstra eienskap. Dit is ook ’n heenwysing na iets anders.
Dit is net soos ’n padteken. As jy verby ’n bordjie ry wat sê Johannesburg — dan weet jy dat dit nog nie Johannesburg is nie, maar dat dit net vir jou daarheen beduie. Die wonderwerke van Jesus wat Johannes so noem, is ook tekens wat na iets anders met ’n dieper geestelike karakter wys. Waarna wys dit? Natuurlik na Jesus self. Al die bordjies wys na Hom! Wanneer jy dus lees van ’n wonderteken, sien die dieper betekenis raak. Sien hoe dit na Jesus wys.