Versterk mekaar vir die wederkoms

Jesus Christus kom regtig weer! As medegelowiges moet ons mekaar bystaan en versterk sodat ons reg sal wees vir sy wederkoms.  

deur ds. Johan Nel

Indien die wederkoms van Christus in ’n mens se hart leef, sal jy daaroor praat, veral met ander gelowiges wat saam met jou in die gemeente leef. Jy sal veral daaroor praat om ander gelowiges te versterk, want ons leef in ’n gebroke wêreld onder druk van baie kante en ons het almal versterking nodig.

Christus se wederkoms is ’n werklikheid

Christus kom regtig weer. Sy wederkoms is naby en die dag sal heeltemal onverwags aanbreek. Die laaste twee hoofstukke in die eerste brief aan die gemeente in Tessalonika gaan oor die wederkoms van Christus. Paulus het geskryf om enige onkunde in die gemeente op te klaar en om die gemeente te herinner dat hulle baie goed weet dat Christus weer sal kom, dat sy wederkoms onverwags sal wees en dat hulle gereed moet wees vir daardie dag.

Die dag van Christus se wederkoms sal alles verander. Daar sal niks van die aarde oorbly nie. Hierdie keer sal dit nie water wees nie, maar vuur. Die sondige bedeling word weggebrand en daar kom ’n heeltemal nuwe bedeling. God sal ’n nuwe hemel en nuwe aarde laat neerdaal. Mens kan jou dit nie indink nie!

Vir die gelowiges is dit ’n dag van genade

Vir die mens wat opreg in Jesus Christus geglo het en deur geloof vas aan Jesus geleef het, sal sy wederkoms ’n dag van volmaakte genade en verlossing wees. Op daardie dag sal die stryd teen die duiwel en die sonde finaal tot ’n einde kom.

Christus sal die wat reeds gesterf het opwek en saam met die gelowiges wat nog lewe, in hemelse heerlikheid saam met Hom neem. Ons sal vir die eerste keer Christus sien soos Hy werklik is. Ons sal by Hom wees en by God wees. Ons sal met hemelse hartlikheid oorlaai word en soos eregaste by ’n bruilofsfees ontvang word om ewig by God te wees (Psalm 23:6).

Vir die ongelowige is dit ’n dag van oordeel

Daar is ook die ander kant. Vir die mens wat nie in Christus geglo het nie, en dus nie vas aan Christus geleef het nie, en daarom ook nie gereed gemaak het vir sy koms nie, is daardie dag dié oordeelsdag. Elkeen wat nie geglo het nie sal Hy op dié dag in die buitenste duisternis laat gooi, waar daar ’n gekerm en gekners van tande sal wees omdat die ewige oordeel van die heilige God oor daardie mense gekom het.

Wees gereed vir Christus se wederkoms

’n Mens kan nie hierdie lees en niks gebeur met jou nie. Ons moet gereed wees vir Christus se wederkoms. Christus leer dit vir ons op verskeie plekke in die Bybel:

  • Julle moet altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matteus 24:44).
  • Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en watter uur dit sal gebeur nie” (Matteus 25:13).
  • Jesus se apostels, Paulus en Petrus, het ook geleer dat ons gereed moet maak vir Christus se wederkoms.

Versterk mekaar vir die wederkoms

Die woord “versterk” beteken om op te bou. Die opdrag is dan “bou mekaar op”. Die Here bedoel dat ons mekaar geestelik sal opbou. Hoe doen mens dit? Besef eerstens dat Christus gou weer sal kom. Moenie sy wederkoms so op die agtergrond skuif soos die wêreld dit doen nie. Tweedens, praat met mekaar oor sy wederkoms. Wys mekaar op Christus se wederkoms. Praat mekaar moed in. Wys die gelowige wat siek is daarop dat Christus weer sal kom. Ons praat so baie oor die siekte en die aftakeling van die liggaam en ons bekommer ons baie daaroor. Eintlik behoort gelowiges met mekaar oor 2 Korintiërs 4:16-5:1 te praat en mekaar daarmee te bemoedig. Wys die teleurgestelde lidmaat dat Christus weer kom en ’n einde aan alle teleurstelling sal maak. Wys die medegelowige wat nie meer weet waarheen nie, dat Christus weer sal kom en alles duidelik sal maak. Waarsku mekaar ook, indien dit nodig is. Wys die lidmaat wat geestelik moeg geword het en begin het om los van Christus te leef, hoe uiters gevaarlik so ’n lewe is.


Wag só saam vir Christus om te kom
Leef as gemeente deur die Heilige Gees gerig op Christus wat gou weer sal kom. Bou die eenheid van die Gees in die gemeente sterker uit deur saam te wag vir Christus om weer te kom. Versterk mekaar wanneer een uitsak.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui