Benut julle vryheid in Christus deur mekaar te dien

Galasiërs 5:13 gee ons die opdrag om mekaar in liefde te dien. Maar, dit waarsku ook om nie ons vryheid in Christus te misbruik nie. Leer meer oor dié vers om jou rol in die gemeente te verstaan.

deur ds. Johan Nel

’n Lewende lidmaat in die ware kerk van Christus is ’n lidmaat wat besig is met dit wat Christus wil. In Galasiërs 5:13 lees ons dat Jesus Christus wil dat gelowige lidmate wat deur Hom vrygemaak is, mekaar in liefde moet dien. Voordat ons kan verstaan hoe ons mekaar moet dien, leer ons eers wat hierdie vryheid in Christus is en hoe dit misbruik kan word.


Wat beteken vryheid in Christus?

  • Jesus het sy hemelse vryheid prysgegee
    Jesus Christus, Seun van die lewende God het sy lewe in die hemel verlaat en Homself laat inperk as mens hier op aarde. Hy het alles prysgegee en Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem (Filippense 2:7).
  • Hy het Homself oorgegee om gevangene te wees
    Jesus het Homself gewillig oorgegee om gevange geneem te word, asof Hy ’n misdadiger was. Hy is onskuldig veroordeel en saam met die ergste misdadigers op Golgota gekruisig. Jesus Christus het sy volkome vryheid prysgegee om ’n gevange van die dood en die graf te word.
  • Dit alles om jou vry te maak
    Deur ’n gevangene te word, het Christus ons vrygemaak van die slawerny van sonde. Dit is baie belangrik dat elkeen sal besef dat jy ’n magtelose slaaf van die sonde was. Elke mens moet weet en bely: Die ganse mensdom was in die mag van die sonde met net een bestemming en dit is die ewige dood onder die nimmereindigende verskriklike oordeel van God.
  • Dit is die vryheid wat Christus gee!
    Jesus Christus gee vryheid van die mag van die sonde en die dood. Ons is nou nie meer slawe van sonde en dood nie, ons is vrygemaak. Deur Christus het ons nou die nuwe lewe. Hierdie lewe wat ons nou reeds het, sal vir ons uitloop op die ewige lewe met God in die hemel. Dit is ons vryheid!

Hoe het die Galasiërs die vryheid misbruik?

Ons kan baie leer van die Galasiërs se gemeentes. Dit het te doen met hoe hulle vryheid misbruik het en dit tot onenigheid gelei het. Presies die teenoorgestelde van die opdrag om mekaar in liefde te dien!

Twee slegte invloede op die Galasiërs

Twee groepe lidmate in Galasië het hulle vryheid misbruik en ’n slegte invloed op die gemeentes in Galasië gehad.

  1. Die een invloed was die Judaïste wat nog die Joodse geloof met al die baie wette aangehang het. Hierdie mense wou dat die gelowiges in die gemeente steeds al die wette van die Ou Testament nakom. Hierdie invloed het veroorsaak dat die gemeente nie vry geleef het nie, maar steeds in die mag van die sonde was.
    Indien mens nog deur die wet jou vryheid wil kry, moet jy elke gebod volmaak nakom. Niemand kan dit regkry nie! Daarom is die mense wat die wet gebruik om verlos te word, nog in die mag van die sonde en nie vry nie.
  2. Die tweede invloed was die van die heidene wat vryheid as losbandigheid gesien het. Elkeen was vry om te doen wat hy wil. Daardie losbandigheid het aanleiding gegee tot onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, rusies, uitspattigheid, dronkenskap en al die sondes wat in Galasiërs 5:20-21 genoem word.
Wat het gebeur omdat hulle die vryheid misbruik het?

Die twee groepe lidmate in die gemeentes in Galasië het nie aan Christus vasgehou nie, maar wou volgens hul eie maniere leef. Die lidmate was nie almal een met Christus nie, en daarom was dit onmoontlik om een met mekaar te wees. Die gemeentes in Galasië was nie eensgesind in hulle geloof nie en dus verdeelde gemeentes. Die gevolg van hierdie verdeeldheid was dat die gelowiges begin het om mekaar te verskeur en te verslind (Galasiërs 5:15).


Leef vry – en dien mekaar in liefde

  • Wie vry is deur Christus, moet ook vry leef

Die begin van Galasiërs 5:13 sê: “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep”. Die Heilige Gees praat met elke gelowige in die gemeente. Geroep beteken hier om iets te doen. Geroep tot vryheid beteken om die vryheid wat jy ontvang het, te gebruik. Geroep is om te leef wat jy is. Christus het jou vrygemaak, leef dan vry.

  • Die gemeente wat verdeeld leef, sondig

Lidmate moet besef en beleef dat daar ’n band is tussen mekaar. Daar moenie onenigheid in ’n gemeente wees nie. Dink aan vyandskap, haat, naywer, woede, rusies – dit is duidelike onenigheid. Die minder duidelike onenigheid, maar nie minder sondig nie, is verdeeldheid, skeuring en afguns. Hierdie sonde mag nie in die gemeente leef nie.

  • Weerstaan die sonde deur julle vryheid te benut

Die verdeeldheid en onenigheid wat in die wêreld heers, mag op geen manier in die kerk posvat nie. Gelowige lidmate moet alles in hul vermoë doen om die sonde van onenigheid in die gemeente te weerstaan. Moet daarom nie langer in die mag van die sonde leef nie. Benut julle vryheid in Christus.


Hoe leef mens vry deur mekaar te dien?

Dien is doen! Dus: Doen iets vir mekaar in liefde. Wees bereid om enigiets te doen wat die Here vra, al kos dit ook wat. Die Heilige Gees lei elke gemeentelid hierin. Prakties beteken dien dat jy nie moet wag vir iets om te gebeur nie.

Dink aan jou gemeente: Hoe lewe jy in jou gemeente? Daar is dalk lidmate wat nuut en vreemd is, lidmate met vervoerprobleme, ernstige huislike probleme, ernstige geloofsprobleme … so kan mens dit opnoem. Doen iets om te help. Begin om mekaar te dien! Leer jou medelidmate goed ken, dan sal jy weet waarmee hulle te doen het, en waarmee jy hulle kan help.


’n Gemeente waar lidmate mekaar dien, is ’n lewende gemeente van Christus wat die eenheid van die Gees in die gemeente uitbou, soos God wil.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui