Waarom moet ek kerk toe gaan?
deur ds. Werner Brotherton
In vandag se tyd is dit baie maklik om by die huis te bly en oor die internet of die radio kerk te kyk of te luister. Dit raak al hoe meer populêr om te sê dat jou kerk by die huis of in jou hart is. Vir ander is dit weer ontsettend belangrik om kerk toe te gaan, en hulle is baie opgewonde daaroor. Die vraag wat ons vandag wil aanspreek is: Waarom moet ek kerk toe gaan? Ons kyk kortliks na ’n paar redes om kerk toe te gaan.
1. Luister na die prediking van die Woord
Om onder die geklank van God se Woord te kom is ’n baie belangrike deel van ons geloofslewe. Trouens, in Romeine 10:13-17 word ons geleer dat ons alleen deur die prediking geloof kry. Dit is hoe die Here besluit het ons geloof moet kry wat ons wys na ons Verlosser Jesus Christus. Die Woord is ook ’n tweesnydende swaard (Hebreërs 4:12). Waarna ons wel moet smag is suiwere woordverkondiging. As kinders van die Here mag en kan ons nie gelukkig wees met soetsappige sedelessies nie. Prediking is veel meer as maar pitkos vir die week. Prediking is wat ons tot geloof bring en wat ons in die geloof verskerp.
2. Wees deel van die samekoms van die heiliges
In Hebreërs 10:25 sê die skrywer dat ons nie die onderlinge gemeenskap van die heiliges moet misloop nie. Hy moes dit destyds aanspreek omdat die gelowiges in ’n konteks geleef het waar hulle weens hulle geloof doodgemaak is. Dit was werklik ’n gevaar om kerk toe te gaan, en tog word hulle aangemoedig om dit te doen. Hierdie vermaning kom ook na ons toe. Ons kan so maklik vandag weens gemak nie kerk toe gaan nie. Maar kyk mooi wat die skrywer sê: Ons moenie die samekomste misloop nie. Dit is die erediens. Kerk toe gaan gaan nie net oor my nie. Dit gaan oor onsas gelowiges saam. As die bruid van Christus kom ons saam om die Here te aanbid.
3. Spoor mekaar as medegelowiges aan
In Spreuke 27:17 word ons geleer: “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar”. Wanneer ons as gelowiges bymekaarkom kan ons ag gee op mekaar soos vers 24 van Hebreërs 10 leer: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” Die erediens is ook ’n plek van omgee. Dit is saamwees met mense wat jou kan help. Hulle kan jou ook help deur jou te vermaan en te vra waar jy verlede Sondag was. As gelowiges behoort ons mekaar voortdurend op te skerp in die geloof, en die erediens is juis een plek waar ons dit in liefde kan doen.
4. Leer jou kinders om die kerk lief te hê
Die feit dat jy ’n Christen genoem word beteken dat jy ’n plek het waar jy hoort. Jy het ’n tuiste onder ander gelowiges. As jy jou kinders wil leer om die Here lief te hê, moet hulle ook sien dat jy die Here liefhet. As jy wil hê dat hulle ander gelowiges moet liefhê, moet hulle jou ook sien ander gelowiges liefhê. Ons kinders leer deur sien. Wanneer ons elke dag kerk toe gaan sien hulle dat ons moeite doen in die geloof. Ons maak erns met die Woord van God en die gemeenskap van die heiliges. Hulle sien dat geloof ook oor gemeenskap gaan. Jou kind kry ’n plek waar hy behoort.
5. Gehoorsaam God se bevel om kerk toe te gaan
Ons het reeds gesien dat Hebreërs 10 sê dat ons nie die samekomste van die heiliges moet misloop nie. Het ons enige duideliker rede nodig? In my gehoorsaamheid gaan ek kerk toe omdat ek graag doen wat die Here sê. Dit beteken dat ek ook nie na die naaste kerk aan my huis toe gaan nie. Ek gaan soek die kerk wat die naaste aan die Woord van God is. Ek gaan soek ’n kerk wat die Skrif verklaar en waarlik die gemeenskap van gelowiges beoefen.
Baie dankie vir die boodskap het dit ook aan gestuur naa my groep
Baie dankie vir die aanmoediging en duidelike uiteensetting van die woord.