Christene wat vergifnis ontvang, moet ook ander vergewe

Elkeen van ons het in sonde teen God oortree, en daarom moet ons om vergifnis smeek. En, dan moet jy hierdie vergifnis ook aan ander bewys. Lees hier wat ons van die Onse Vader se vyfde bede leer.

deur ds. Janré van Jaarsveld

Die vyfde bede van die Onse Vader is woorde wat elke Christen behoort te ken. Dit is ook woorde wat ons elkeen dalk self gereeld bid. Dit is woorde wat ons diep in die hart raak en dit is woorde wat ons hartsnare roer wanneer ons die “Onse Vader” uit volle bors in die erediens sing.


Hoekom is hierdie bede so belangrik?

Die Onse Vader is inderdaad ’n bekende gebed, maar wanneer ons dit bid en sing, besef ons hoe belangrik hierdie bede is? Dit is nie net leë woorde wat ons sommer uit gewoonte bid nie. Ons moet onthou, dit is Jesus Christus ons Koning wat ons leer om die vyfde bede te bid: “Vader Vergeef ons ons oortredings, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”. Hierdie bede is so belangrik in ons eie gebedslewe voor die Here, want ons kry daarin die wonderlike troos van die evangelie. Daarom gaan ons nou saam hierdie wonderlike bede verken en dit ook in ons eie gebedslewe toepas.


Elkeen van ons het teen God oortree

Dalk wonder jy nou wat het hierdie bede met die evangelie te doen? Wel, dit het alles met die evangelie te doen! Het jy geweet, dat jy teen God oortree het? Ja … jy het. Ons elkeen het teen God oortree soos Romeine 3:23 ons leer:

Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie …

Ons elkeen is in sonde ontvang en gebore, so dit beteken dat ons regtig teen God en sy gebod oortree het.

Wanneer ons die vyfde bede bid dan besef ons net weer hoe kosbaar ons verlossing en vryspraak in Jesus Christus is. Ons kan nie self vir ons sondeskuld voor die Here betaal nie. Ons kan nie onsself red waar ons in ons sondige toestand die Here se heilige gebod oortree nie. Nee, ons is dood in ons sonde. Ons sal nooit God se liefde en sy genade kan verdien nie, maar hier is ons troos: ek en jy is absoluut uit genade alleen gered deur geloof.


Ons kan nie die genade van God verdien nie

God se manier van doen en die mens se manier van doen verskil radikaal van mekaar. Van kleins af is ons daaraan gewoond dat ons vir alles moet werk en moet betaal, maar God se manier is die teenoorgestelde. Sy genade en die ewige lewe ontvang ons gratis, ons kan dit nie verdien nie. Dit is glad nie my eie woorde of opinie nie, maar dit is ’n kosbare troos uit die Woord van God uit wat Paulus ons leer in Efesiërs 2:8

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

So, ons is in Jesus Christus verlos en skoon gewas omdat ons glo, al het ons teen God oortree. Dit is ’n kosbare geskenk van genade. En elke dag sê ons vir die Here dankie deur vir Hom te lewe en deur te doen wat reg is in sy oë. En ons bid ook elke dag die vyfde bede.


Hierdie bede is ’n absolute pleit dat God ons steeds nie vir ons sondes aanspreeklik sal hou nie, maar ter wille van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis ons steeds genadig sal wees.


Hierdie bede het ook ’n ander kant – vergifnis aan ander

So, God is ons so genadig en dit is wonderlik, maar ons bid ook dat ons dié vergewe wat teen ons oortree. Dit is ’n baie moeilike ding. Want as iemand teen jou oortree dan maak hulle jou seer en hulle doen jou dalk vreeslike leed aan. Dan wil mens juis nie vergewe nie, maar mens sou eerder iemand wil terugkry. Mens dink: “my buurman het my seergemaak en nou gaan ek hom terug seermaak.” Nee… ’n Christen lewe nie so nie en ons gaan ook nie so te werk nie, want ons is juis dankbaar vir ons verlossing en vryspraak!

Wanneer ons aan ons verhoudings dink en veral dink aan die mense wat teen ons oortree het, dan moet ons as Christene altyd in gedagte hou hoe genadig die Here met ons te werk gaan en hoe hy ons vergewe het. Hy gee vir ons die kosbare geskenk van die ewige lewe waarvoor ons juis dankbaar is, al het ons so gruwelik teen Hom oortree. 


Die Heilige Gees werk in ons

Wanneer ons die vyfde bede bid is dit ook ’n teken van God se genadige werking van sy Heilige Gees in ons lewens wat ons nuut maak en dat ek en jy bereid moet wees om diegene wat ons te na kom en teen ons oortree te vergewe en dat ons dit regtig sal doen. God herstel nie net in Jesus Christus ons verhouding met hom nie, maar ook ons verhoudings met mekaar. Mag jy dit altyd onthou as jy ’n wrok teen iemand koester of wanneer iemand teen jou oortree het. Kom ons behandel mekaar en benader mekaar met dieselfde genade waarmee God ons bedien.


Elke keer wanneer ons die Onse Vader sing en dit bid en by die vyfde bede kom, mag ons dan altyd onthou dat ’n Christen wat vergifnis ontvang het, ook ’n Christen is wat ander vergewe.


Lees die artikel, “Hoekom is gebed so belangrik vir ’n Christen se geloofslewe?”, ’n inleiding tot die Onse Vader, en hoekom jou gebedslewe so belangrik is vir jou geloofslewe. Volg dan ook die skakel na elkeen van die bedes wat die Onse Vader uitmaak om meer daarvan te leer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui