Vind troos in die Here se nabyheid

In Filippense 4 lees ons dat Paulus sê dat die Here naby is. In hierdie woorde kan ons, ons verbly al is ons besig om te rou. Die Here is naby, ook aan die wat treur en verlang.

deur ds. Marnix Boersema

Verbly julle in die Here”…is dalk nie juis iets wat ’n mens dink gepas is in ’n tyd waar ons hartseer is en verlang na ’n geliefde wat ontslaap het nie. Filippense word die “vrolikste brief” in die Bybel genoem. Dit is die Blydskapsbrief, tog is dit vanuit die tronk geskryf! Die apostel Paulus sit in kettings vasgebind, in die donker, klam, ongemaklike tronksel … en hy skryf: “laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” Aangrypend!


Filippense 4:4-7

Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.


“Die Here is naby” is die fondament van Paulus se blydskap

Paulus weet hierdie blydskap en vriendelikheid is nie haalbaar vanuit homself nie. Maak nie saak hoe diep hy in homself delf nie en daarom skryf hy in Filippense 4:5: “Die Here is naby”. Hierdie klein sinnetjie is een wat ons baie dikwels mis, wanneer ons hierdie gewilde woorde in Filippense lees. Die Here is naby … dit is die hart, die fondament van Paulus se blydskap. Hy wil nie hê ons moet maskers opplak nie. Hy wil nie hê ons moet onsself forseer om bly te wees terwyl ons eintlik diep bedroef is nie!

Die apostel wil die waarheid van die Here se nabyheid vandag op jou hart kom skryf, sodat jy ook hierdie bonatuurlike blydskap en vriendelikheid mag ervaar, selfs in tye van hartseer en verlange.


Gevolge van die Here se nabyheid

Wanneer die Here se nabyheid vir jou ’n werklikheid is, wanneer jy dit deur sy Heilige Gees in jou hart ervaar, is daar drie gevolge. Die sekerheid dat die Here naby is:

  1. Gee ons ware blydskap wat buite onsself geleë is.
  2. Gee ons gerustheid.
  3. Bewerk in ons die intense belewenis van God se vrede.

1. Die sekere wete dat die Here naby is, bring blydskap wat buite myself geleë is

Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!…Die Here is naby.” (Filippense 4:4-5). Waarin lê my verblyding? Dit lê geanker in ons sekere wete dat die Here naby is, ongeag van ons omstandighede. Ons rou, ja. Daarmee is niks verkeerd nie. Tog rou ons terwyl die Here naby is. Deur die geloof kan ons troos vind in die sekere wete dat ek werklik nie alleen huil nie. Deur my trane heen, is daar tog rede vir verblyding in die Here.

2. Die sekere wete dat die Here naby is, maak ons gerus

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Die Here is so naby aan my, dat ek al my begeertes aan Hom bekend kan maak. Biddend, smekend, dankend stort ek my hart uit voor Hom wat vir my sorg. Deur gebed maak Hy my gerus, want ek weet Hy is naby. Ek verbly my in die Here, nie deur stil te bly oor alles wat my hartseer maak nie. Ek verbly my en vind ’n rus van my sorge juis wanneer ek al my bekommernisse vir Hom gee. Dit vir Hom sê. My hulp van Hom afbid! Hy wat hier naby my is en met sy Gees in my is; Hy sal my help. Ek sal met Hom praat; tot Hom bid. Daarmee balsem ek die diep wonde wat die dood van ’n geliefde agterlaat.

3. Die sekere wete dat die Here naby is, bewerk innerlike vrede

En die vrede van God…sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7). Dit is die Heilige Gees wat my hart en sinne in sy hand toevou! Die Toring waarin ons harte en gedagtes opgesluit word, is Christus self en die Soldaat wat waghou is die Heilige Gees! Daarom is dit ’n vrede, wat alle verstand te bowe gaan…


Vrede in God se nabyheid
Het jy al gesien en gehoor van gelowiges, wat te midde van ontsaglike hartseer en trauma, steeds staande bly? Hulle beleef ’n kalmte en ’n sterkte wat jou net laat dink: hoe is dit moontlik dat hulle dit op so manier kan hanteer? Dit is die vrede van God wat Hy in sy nabyheid bring. Dit is hoe dit lyk wanneer die Heilige Gees die hart en gedagtes van ’n mens toevou en veilig hou in Christus Jesus! Dit gaan die verstand absoluut te bowe!


Die blydskap in Filippense 4 is te hoog vir ons om te begryp. Veral in tye van rou en smart. Jy sal dit nooit, maar nooit in jouself vind nie. Jy sal dit nie kan bewerk nie. Hierdie blydskap en vrede lê buite ons. In ons Here Jesus Christus. In sý nabyheid. Hy wat naby my is, vertroos my. Hy wat naby is, verseker my dat Hy weer kom. Hy wat naby is verbly my. Die Here is naby, ook naby aan julle, liewe Christene, wat treur en verlang.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui