Hoe hanteer gelowiges ’n terminale siekte?
Kruispad kyk hoe gelowiges moet reageer as daar ’n terminale siekte oor hul pad kom.
deur ds. Werner Brotherton
Soms is al wat ons wil hê net nog ’n bietjie meer tyd. ’n Bietjie meer tyd saam met ons geliefde, nog bietjie meer tyd om dit of dat te doen. Dalk nog ’n bietjie meer tyd om jou saak met die Here reg te maak. Daar is niks wat ons so bewus maak van ons kort tyd op aarde soos ’n terminale siekte nie. Die nuus van terminale siekte kan so skielik kom. So onverwags. Dit raak altyd meer as een persoon: Die persoon self wat gediagnoseer word met die siekte, die familie en vriende van die persoon. Elkeen beleef dit op ’n ander vlak. Hoe hanteer ons as gelowiges dit? Natuurlik uit die geloof!
Mag ons worstel oor ons siekte?
Uit die Bybel het ons ’n hele boek wat gaan oor die worsteling van siekte: Job. Job vra baie vrae, hy worstel, hy probeer uitvind waarom al die slegte dinge hom tref en ook waarom hy siek is. Die belangrike wat ons by Job leer is dat dit vir hom ten diepste oor sy gemeenskap met die Here gaan.
As gelowiges mag ons worstel oor ons siekte, maar ons mag nooit vir die Here kwaad word of Hom blameer nie. Die Here is nie die bewerker van die kwaad of die outeur daarvan nie. As gelowiges mag en moet ons wel na die Here toe gaan met ons siekte en ons worsteling.
Beproewings maak ons gereed vir die ewige lewe
By die Here moet ons troos soek, alleen by Hom sal ons dit vind. Dit is juis in tye van angs en nood wat ons geloof werklik getoets word. Jakobus 1 sê dat ons bly moet wees wanneer allerhande versoekinge ons tref. Waarom? Omdat dit ons geloof toets. Wanneer ons weerstaan ontvang ons die ewige lewe (vers 12).
Die Bybel rig ons gedagtes en ons troos na die kruis. Weet in alle beproewinge dat ons gereed gemaak word vir die ewige lewe. Romeine 8:28 sê dat die Here alles vir ons ten goede laat meewerk. Al verstaan ons nie altyd hoe en hoekom iets soos ’n terminale siekte vir ons ten goede is nie, kan ons weet dit is, want die Here is getrou. Hy gebruik dit om ons voor te berei vir die ewige lewe.
Die gelowige sien uit om na God te gaan
Ons troos en hoop is dat daar in die ewige lewe geen meer pyn sal wees nie, daar sal nie meer terminale siektes wees nie. Al is dit dalk deel van ons verlange kan dit nooit ons grootste verlange wees nie. Ons grootste verlange as gelowiges is om by die Here te wees. Dit is om tot in ewigheid in sy heerlike teenwoordigheid te wees.
Al is die pad van ’n terminale siekte nie maklik nie, is daar tog iets van ’n genade in, want daar is nog tyd om jou geloof in orde te kry. Daar is nog tyd om te bekeer, en daar is niks soos ’n groot verandering in ons lewe om ons weer te laat besin oor ons geloof nie.
Hoe moet ek ’n Bybelteks soos Psalm 91 verstaan?
As ons Psalm 91 lees, kan ons begin worstel oor die vraag hoekom gelowiges siek word. Dit klink dan asof gelowiges nie siek word nie, asof dit met gelowiges net goed gaan. Dit is wel nie wat die Psalm leer nie. Die Satan het hierdie selfde Psalm gebruik om Jesus te versoek. Hier word nie geleer dat ons uit ons siekte, en uit ons slegte omstandighede uitgehaal word nie. Die Psalm leer ons dat ons nie bang hoef te wees vir die pes en siekte wat aankom nie. Ons hoef nie te vrees nie, want die Here beskerm ons. Hy dek ons met sy vlerke soos ’n arend haar kleintjies beskerm.
God is ons troos en ondersteuning
Die troos uit Psalm 91 is dat dit die Here is wat ons hierdeur dra. Hý ondersteun ons, en nog meer, dit is Hý wat seker maak dat ons deur ons siekte enduit in die geloof volhard (Filippense 1:6). Ons lees so baie in die Psalms dat die Here ons krag is, Hy is ons sterkte. Mag dit ook so wees vir elkeen wat met ’n terminale siekte worstel, of dit self is, en of dit ’n vriend of familielid is. Weet verseker dat die Here ons krag en ons sterkte is, Hy is ons rotsvesting … ook op ons siekbed.