Bou ’n muur van selfbeheersing
Jesus het ons vrygemaak van die sonde. Dáárom kan ons die Heilige Gees vra om ons die nodige selfbeheersing te gee.
deur ds. Werner Brotherton
Ons almal ken mure en heinings rondom ons huise. Ons het heinings om mense uit te hou, of om ons honde binne te hou. ’n Muur hou iets dus binne of buite. In Spreuke 25:28 praat Salomo van ’n afgebreekte stad sonder ’n muur. In Nehemia 1 lees ons dat dit vir Nehemia verskriklik was dat Jerusalem se mure afgebreek was. ’n Stad sonder mure? Wat is so vreemd aan ’n stad sonder mure? Vir ons is dit nie vreemd nie. Destyds was dit ondenkbaar! ’n Muur was hulle veiligheid. Dit het vyande gehou waar hulle hoort: Buite!
Salomo sê dat ’n man wat sy gees nie kan inhou nie, soos ’n stad sonder ’n muur is. Dit is iemand sonder selfbeheersing. Hy het nie ’n muur nie. Ons het ’n muur om ons harte nodig as gevolg van dit wat ín ons harte is: sonde! Die saad van elke denkbare sonde is in ons harte. Sonder selfbeheersing sal dit vernietigende gevolge dra.
Selfbeheersing as deel van die vrug van die Gees
Die Bybel praat in Galasiërs 5 ook van hierdie muur van selfbeheersing. Hierdie muur is uit ’n hele paar materiale gebou. Paulus maak ’n kontras tussen die werke van die vlees; dit is die sonde waarteen ons beskerm moet word, en die vrug van die Gees. Vrug in enkelvoud. Hierdie vrug bestaan uit ’n paar dele, waarvan die heel laaste selfbeheersing is.
Dit is juis in die selfbeheersing waarin alles saamgetrek word. Om nie afgode te dien nie, verg selfbeheersing. Om nie vyandig teenoor ander te wees nie, verg selfbeheersing. Paulus sluit dit af met dergelike dinge. Ons kan die lys dus aanvul. Dit wat die Here ons hier beveel is heeltemal anders as wat die wêreld ons vandag leer.
Die wêreld leer ons om te doen wat ons gelukkig maak
Vandag hoor ons baie: Doen wat jou gelukkig maak; doen wat jy wil, jy is net een keer jonk; moenie dinge inhou nie, laat dit uit op enige manier; bly maar saam voor die huwelik, dit doen tog nie kwaad nie; en so gaan dit aan. Maar dink nou só daaraan: As iemand sê: “Doen wat jy wil en wat jou gelukkig maak”, is dit nou doen wat die ou sondige mens buite Christus wil doen, of wat die nuwe opgestane mens in Christus wil doen?
Galasiërs 5:17-18
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.
Wat leer die Skrif ons oor hoe ons moet lewe?
Wat is fout daarmee om maar net te doen wat jou gelukkig maak en wat jy wil? Die fout is dat dit in ons harte is waar al die sonde ontkiem. Vers 17 van Galasiërs 5 leer juis dat die vlees teen die Gees begeer. Vers 18 het die groot MAAR! “Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.” Ons is nie onder die wet nie, want ons is in Christus wat die Wet volkome nagekom het in ons plek. Dit gee ons egter nie die vryheid om maar net te doen wat ons wil nie.
Ons is verlos om heilig en rein voor die Here te leef, en dit is volgens die wet. In Christus is ons juis vry om daarna te streef om die wet na te kom. In Christus deur die werking van die Gees kan ons onsself beheer.
Waar kry ons selfbeheersing?
Die belangrikste wat jy moet weet, is dat selfbeheersing nie uit jouself kom nie. Dit is juis ’n vrug van die Heilige Gees. Dit is nie wilskrag nie. Dan kan ek in myself roem. As ek iets uit my eie wilskrag doen steun ek nie op die krag van die Gees van God nie. Selfbeheer kom van buite onsself en nie binne ons nie.
Christus het selfbeheersing vir ons volmaak
Soms verloor ons beheer. Soms sê ons saam met Paulus: die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit doen ek. Elke dag is ’n stryd teen die sonde. ’n Stryd wat ons nie alleen stry nie. In Christus is selfbeheersing volmaak. Hy was ook sterk versoek deur die Satan, maar Jesus het dit teengestaan. Hy het selfbeheersing gehad, en in Hom is dit vervul.
Bid daarom elke dag ernstig dat die Here deur sy Gees ’n muur van selfbeheersing om ons bou. Om nee te kan sê vir sonde is genade. Om nie onnodig kwaad te word nie is genade. Om nie te doen wat verkeerd is omdat almal dit doen nie, is genade en is ook wat dit beteken om werklik vry te wees.