Wat sê jou lewensuitkyk van jou bekommernis?
Deur ds. Coen Vrey

Matteus 6:19-21
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Matteus 6:24
Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
Wanneer Jesus oor skatte bymekaarmaak praat en oor ʼn mens se uitkyk op die lewe, stel Hy die twee alternatiewe teenoor mekaar. As jy skatte bymekaar wil maak, moet jy weet watter een van die twee duursamer is – aardse skatte of hemelse skatte? As jy doel en rigting in jou lewe wil hê, moet jy dat jou uitkyk op die lewe jou lewenshouding beïnvloed – gaan jou oog goed of sleg wees? Die belangrikste deel van dié gedeelte is wat Jesus in vers 24 sê: Niemand kan twee here dien nie. Wie gaan jy as God eer en dien?
Wat is die implikasie van jou keuse?
Matteus 6:31-33
Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
As jy onder leiding van die Heilige Gees Jesus volg en die lewende God dien en nie die hartelose mammon nie, sal jou gesindheid en lewenswandel dit ook wys. Die dissipel van Jesus is nie meer angstig of bekommerd oor wat hy sal eet, drink en aantrek nie. Sy gedagtes en al sy energie vestig hy op die lewende God, want Hy is sy Vader en Hy is die almagtige en ewige Koning. Die gelowige laat nie toe dat die sorge van die lewe sy lewe oorneem nie. Hy bestee die eerste en beste van alles wat hy het aan God en wat vir God belangrik is.
Waarna streef jy?
Wanneer Jesus sê dat ʼn mens eers die koninkryk van God moet soek en jou vir sy wil beywer, gaan Hy van die standpunt uit dat alle mense ʼn ambisie het.
Waarna streef ons in hierdie lewe? Wat neem ons tyd, gedagtes en energie in beslag? Is dit ʼn ywer om ons eie wêreldse sekuriteit te verseker of beywer ons ons vir die koninkryk en geregtigheid van God? Om dit vir ons eenvoudig te maak stel Jesus weer net twee sake teenoor mekaar. Daar is inderwaarheid net twee soorte ambisies:
- ʼn valse of wêreldse ambisie – die mens se eie materiële sekuriteit
- die ware of Christelike ambisie – God se regering en sy geregtigheid
Moenie jou oor lewensorge bekommer nie
In hierdie gedeelte sê Jesus ons moet ons nie kwel oor wat ons gaan eet of drink of wat ons gaan aantrek nie. Jesus sê nie hier dat kos en klere onbenullig is nie. Inteendeel, ons bely dat Jesus Christus vir ons siel én liggaam aan die kruis gesterf het. Daarom behoort die gelowige met liggaam en siel aan Jesus Christus ons Verlosser. Jesus sê ook nie ons moet ons glad nie kwel oor kos en klere nie. Hy beklemtoon dat ons nie behep daaroor moet wees nie. Wanneer ʼn mens behep is oor iets, is dit al waaraan jy dink en waaroor jy praat. En heeltyd bekommer jy jou of jy genoeg gaan hê.
Kommer oor lewensorge is op sy beste onproduktief. Dit bring niks voort nie behalwe maagsere en meer kommer. Kommer oor lewensorge is onnodig, want jou Vader in die hemel weet klaar wat jy nodig het. Jy as mens is nie net ʼn liggaam wat gevoed, verkwik en beskerm moet word nie. Vir die volgelinge van Jesus is dit onvanpas om behep te wees met kos, drank en klere.
Waarom is ‘n wêreldse ambisie onvanpas vir ‘n Christen?
1. Kommer oor lewensorge pas nie in by die Christelike geloof nie.
Jesus noem mense wat obsessief bekommerd is oor hul liggame en hul lewens kleingelowiges. Dit is mense wat God nie vertrou nie omdat Hy in hulle oë te swak is om hulle te versorg.
Dit is tog God wat die lewe en jou liggaam geskep het. Dit is ook Hy wat elke dag die lewe en die liggaam in stand hou. Ons het onsself nie geskep nie en ons kan onsself nie aan die lewe hou nie. As God jou lewe beëindig, is daar niks in die wêreld wat Hom kan keer nie. Jou lewe is baie meer werd as kos en drank. Net so is jou liggaam baie meer werd as klere. As God dan klaar sorg dra vir die groot dinge – die lewe en die liggaam – hoekom sal Hy nie ook sorg vir die klein dingetjies nie?
2. Kommer oor lewensorge pas nie by ʼn gesonde verstand nie.
Om vandag oor môre se dinge bekommerd te wees, is dom. Elke dag het genoeg van sy eie moeilikheid. Is dit nie so dat bykans al die kommer wat jy al oor die toekoms gehad het, die meeste van die tyd nooit eers waar geword het nie? Daarom is kommer eintlik net ʼn mors van tyd en energie. Gebruik eerder vandag se tyd en energie om vandag se moeilikhede te hanteer. Indien ʼn mens ook nog bekommerd raak oor môre se moeilikhede verswaar jy dit net vir jouself.
Dit is wys om vir die dag van môre te beplan, maar nadat ʼn mens in die geloof beplan het, moet ʼn mens nie verder oor môre bekommerd wees nie.
3. Kommer oor lewensorge spot met God se sorg en liefde vir jou
Die wêreldse ambisie draai net om kos, klere, huise, karre en watter besittings ook al. Dit is ʼn ambisie wat net in hierdie lewe en net hier op aarde bereik kan word. Maar dit is ook ʼn ambisie wat al ʼn mens se tyd en energie opslurp, want dit is diens aan mammon, die koue, hartelose god van welvaart en rykdom. Hy werk nie vreugde nie, maar kommer in die mens se hart. By die Christen is kommer oor hierdie dinge nie gepas nie, want dit spot met die sorg en liefde van God ons hemelse Vader.
Jesus hef sy dissipels op tot ʼn hoër ambisie wat nie behep is met die kleiner dingetjies van die lewe soos kos en klere nie. Gelowiges se tyd en energie moet opgaan in die koninkryk van God en in sy geregtigheid.