Lewe só in ’n wêreld van verandering
In ’n wêreld vol verandering bly God die Een konstante. So seker soos die son opkom, hou Hý ons toekoms vas. Lees hier.

deur ds Daniël Myburgh
Ons leef in ’n samelewing wat besig is om konstant te verander. Verál so aan die begin van ’n nuwe jaar is daar baie veranderings, dalk ’n nuwe skool met nuwe onderwysers en vriende, dalk nuwe uitdagings. Niemand van ons word van lewensveranderings gespaar nie.
Wanneer verandering onsekerheid bring
Met elke verandering kom daar sekere onsekerhede. Wanneer ek van skool of van kerk of van vriende verander dan wonder ’n mens maar altyd hoe die “nuwe” nou sal wees. “Hoe sal dit wees noudat ek hierdie nuwe vakke of nuwe sportsoort gekies het?” “Hoe sal dit op hoërskool wees?” “Of, hoe sal dit op universiteit wees?”
Verandering veroorsaak onsekerheid en onsekerheid veroorsaak baie keer ’n vrees vir die onbekende.
Vrees vir die onbekende
Hierdie vrees vir die onbekende is nie noodwendig ’n angstigheid soos wanneer ’n mens ’n fobie vir iets ontwikkel nie. Dit is bloot ’n onsekerheid oor wat die toekoms gaan inhou. Soos met énige sondige gedagte, bestaan die gevaar dat ’n mens naderhand heeltemal histeries oor die toekoms kan raak. Indien jy al die slegte en die negatiewe dinge, alles wat móóntlik kan skeefloop, oordink, dan kan ’n mens nie ánders as om angstig te raak nie.
Maar is dit die manier waarop gelowiges die toekoms behoort in te gaan? Nee, beslis nié!
God: die een konstante in ’n veranderende wêreld
Vanuit die Bybel is dit duidelik dat ’n gelowige se toekoms nooit onseker is nie. Selfs al lyk dinge vir ons hopeloos en pikdonker kan ’n kind van die Here die sekerheid hê dat die Here in álle omstandighede dáár is.
In ’n veranderende wêreld het ons Een Konstante en dít is God, Drie-Enig.
Selfs al verander mense (wie ons vertrou) se persoonlikhede. Selfs al verander die tegnologie tot só ’n mate dat ons onseker is of die foto of video ooit ég is of nie (dink aan KI/AI). Ons kan altyd van één ding seker wees en dít is dat die Here, Wie ons aanbid, nooit sal verander nie.
Ons bely op grond van die Bybel se inhoud dat Hy verskeie karakter-eienskappe het en dat “onveranderlikheid” een van hierdie eienskappe van God is (NGB Artikel 1 asook o.a. Ps. 89:35; Mal. 3:6; Hebr. 6:17).
God se getrouheid, so seker soos die son
In Psalm 89 lees ons telkens hoedat die Here se getrouheid teenoor gelowiges éwig geld. Dít wat ons Skepper aan sy kinders tydens sy verbondsluiting met hulle belowe, voer Hy altyd uit. So seker as wat die son elke dag uitkom, só seker sal die Here sy beloftes uitvoer.
Daar was nog nie ’n dag sonder sonskyn nie. Die son kom elke dag uit en verlig die heelal. Ons Skepper onderhou sy skepping deur ’n ewige ritme daar te stel, dae kom en dae gaan, seisoene kom en gaan, en dit sal só wees tot en met die voleinding van die wêreld (vgl. Op. 21:23). In Psalm 104:19–23 is dit duidelik dat die ganse skepping aan hierdie orde van God ondergeskik is.
Twyfel ons nie soms onnodig nie?
Indien God elke dag sy getrouheid fisies aan ons bewys, waarom twyfel ons soms so maklik? Elke dag kom die son op en elke aand gaan dit onder, elke dag is ons bewus van ons liefdevolle Vader se konstante betrokkenheid in die ganse heelal.
Maar dan sal ons baie keer steeds wonder of Hy van ons probleme weet. “Is die Here ooit bewus van die onsekerheid wat ek voel oor die nuwe fase wat ek moet ingaan?” “Sien Hy dan nie raak hoe angstig ek oor hierdie ‘nuwe hoofstuk’ in my lewe voel nie?”
God sien jou raak
Die Here sien jou raak, Hy is Alsiende en Alomteenwoordig, en Hy is bewus van die onsekerheid wat jy rakende die toekoms ervaar. In 2 Kronieke 16:9 lees ons:
Want die HERE, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan …
Deur Christus het Hy medelye met ons swakhede en weet Hy dat ons soms die toekoms vrees omdat ons nie weet hoe dit daar gaan wees nie. Maar onthou, jou Skepper en Verlosser kan nie nét in die onsekere toekoms insien nie, Hy is reeds dáár.
’n Sekere toekoms in God se hand
Al leef elkeen van ons in onsekere tye kan ons ten minste van één ding seker wees, en dit is dat God Drie-enig ons toekoms in sy Almagtige Hand hou. So seker as die son op- en ondergaan, net só seker sal die Here en sy Woord nooit verander nie.
Moet daarom nooit bang en bekommerd oor die onbekende toekoms wees nie (Lukas 12:22–34). Hou eerder vas aan Christus se woorde nét voor sy Hemelvaart:
En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.
Matteus 28:20
