Die son wat van Christus getuig
Elke sonsopkoms vertel van God se heerlikheid, orde en verlossing. Leer om met nuwe oë na die son te kyk, en daarin Christus, ons Son van Geregtigheid, raak te sien.

deur ds Werner Brotherton
Die son … Die son is so alledaags. Elke dag staan ons op, en ons wonder nie eens of die son gaan skyn nie. Ons weet, die son gaan skyn of dit nou deur dik wolke is of nie. Trouens, ons weet dat die son steeds aan die ander kant van die aarde skyn wanneer dit by ons nag is. Tog moet ons vra: Is die son nie vir ons té alledaags nie?
Het jy al ooit gesit en dink: Wat leer die son my oor die Here? Die son vertel baie van die Here! Psalm 19 wys hoe die hele skepping vertel van God se werke en heerlikheid.
Die son vertel van God se heerlikheid
Die Bybel praat redelik baie oor die son. Maar, wat die interessantste van die son is, is dat dit eers op die vierde dag geskep is, alhoewel die lig reeds op die eerste dag geskep was.
Dit beteken dat daar lig kan wees sonder die son. So leer ons ook in Openbaring dat die son en maan nie meer nodig sal wees op die nuwe aarde onder die nuwe hemel nie. Waarom? Want God Self sal die lig wees.
Die Here se heerlikheid skyn en maak alles lig. Moses en die volk Israel het iets van hierdie heerlike skitter van God beleef toe Moses op die berg was en sy gesig geskyn het nadat hy in die teenwoordigheid van die Here was.
Ons kan dus nie na die son kyk, of ’n nuwe dag ingaan en nie aan die Here se grootheid, heerlikheid en heiligheid dink nie.
Die son vertel van God se orde
In Genesis 1:14-18 leer ons dat die Here die son, maan en sterre geskep het nie net om lig te gee nie, maar ook om skeiding tussen dag en nag te maak. Dit is ook deur die son, maan en sterre wat ons kalenders vasgestel is.
Ja, selfs in die skepping word ons gewys dat ons nie ’n God van wanorde dien nie, maar ’n God van vrede.
Die son wys na ons Verlosser
Daar lê egter nog iets dieper in die son. Die son wys ons na ons Here Jesus Christus wat as ons Verlosser verskyn het. In Maleagi 4:2 staan daar:
Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder Sy vleuels wees.
Ja, in Christus is daar vir ons genesing. Hy is ons geregtigheidskleed! Daarvan het Genesis 3 reeds getuig net na die sondeval. Daar moes ’n dier doodgaan om die mens se skaamte te bedek. Dit is ’n heenwysing na ons bedekking met Christus se geregtigheid. Hy is ons Son van Geregtigheid wat vir ons opgegaan het.
Dit is Hy wat eendag weer sal verskyn as ons Son van Geregtigheid die dag wanneer Hy weer in, deur, op en met die wolke kom! Hy is die Bruidegom waarvan Psalm 19:6 so heerlik sing! Hy is die Bruidegom wat uit die hemele sal verskyn soos wat die son verskyn. Jesus het eenmaal as die lig verskyn om die duisternis te breek (Johannes 3). So sal Hy eendag weer verskyn om die duisternis ten volle te kom vernietig.
Kyk met ontsag na die son
Het jy al ooit so aan die son gedink? Mag jy nou nooit weer opstaan, besef dat die son skyn, en nie dink aan die Here se werke en heerlikheid nie! Hoe kan ons tog anders!
Romeine 1 en die Nederlandse Geloofsbelydenis wys baie mooi dat die skepping soos ’n mooi boek voor ons oë is, waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik Sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien.
Sien die Here in Sy werke. Prys die Here in Sy werke. Loof die Here in Sy werke!
