Gelowiges sien met ’n skoon bril

Wat beteken dit as Jesus sê dat die oog die lamp van die liggaam is? Lees hier hoe gelowiges deur die Here se Lig verlig word, en daarom met ’n ander ingesteldheid lewe.

deur ds Daniël Myburgh



Jesus Christus is in Matteus 6 nog besig met sy heel eerste amptelike preek – die bergpredikasie. Christus is besig om gelowiges se visie te verbreed – Hy laat hulle met ander oë na die vervulling van God se Ou-Testamentiese beloftes kyk. Christus laat gelowiges ook met ander oë na Hóm kyk. Hy wil hulle leer dat Hy aan verskeie dinge nuwe betekenis kom gee het.

In hoofstuk 6 van sy Evangelie, is Matteus besig om te vertel hoe Jesus Christus praat oor die “ware skat”. Daar is baie mense wat vir hulle skatte hier, op aarde, bymekaar maak, maar dit is nie volhoubaar nie, sê Jesus. Hy beveel ons om eerder vir ons skatte in die hemel bymekaar te maak waar dit nie beskadig, verweer of gesteel kan word nie (Matteus 6:19, 20):

Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees,

Matteus 6:21

Dit is waaroor Jesus praat net voordat Hy sê dat die oog die lamp van die liggaam is (vers 22 tot 23). Om dié verse beter te verstaan het ons eers na die gedeelte wat dit voorafgaan gekyk. Jesus wil met hierdie verse ook sy navolgelinge se uitkyk op die lewe verander:

Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie!

Matteus 6:22-23

Die oog as die lamp van die liggaam

Jesus gebruik hier die metafoor van ’n mens se oog wat soos ’n lamp/lig vir ons liggame is. Indien ’n mens se oog suiwer/onbesmet is, dan sal jou hele liggaam verlig wees, sê die Here. Maar indien ’n mens se oog “boos” of “verkeerd” of “sleg” is, dan sal ons liggame donker wees.

Die Here praat hier oor die manier waarop ons na dinge in die lewe kyk. Ons kan hierdie beeld beter probeer verstaan deur aan iemand te dink wat ’n bril dra: Daardie persoon kyk na alles in die lewe deur sy/haar bril. Wanneer die bril se lense skoon is, sien die persoon alles mooi helder en duidelik, maar wanneer die bril se lense vuil of gekraak is, sal hy/sy súkkel om alles mooi te sien.

Die oog wat suiwer is

Soos met baie ánder dinge in die Bybel dui Jesus se woorde hier nie op hoe ons fisies na dinge kyk nie, maar eerder hoe ons na die lewe, as geheel, kyk. Deur die Here se genade sien gelowiges dinge soos dit werklik is.

Wanneer ons na die Here, na ons eie lewe, en na ons geloof kyk, dan is dinge vir ons duidelik. Dit is vir ons maklik om die Here se hand in ons lewens raak te sien, want ons kyk deur ’n eenvoudige bril wat net één, skóón lens het. Te danke aan Christus is gelowiges se visie dus helder en duidelik, maar ongelowiges sien dinge ánders.

Die oog wat boos is

Wanneer óngelowiges na die lewe kyk, dan is dit so al asof hulle deur ’n bril met ’n dubbele lens kyk. Hulle sien nié dinge soos dit wérklik is nie. Ons kan sê dat hulle deur ’n bril kyk wat twee lense het. ’n Bril wat vuil lense het. Ongelowiges kyk na God Drie-enig deur ’n bril wat gekrapte/gekraakte lense het. Daarom praat Jesus van die sogenaamde “bose oog” in vers 23 (2020-Vertaling).

Ongelowiges se uitkyk op die lewe is besmet met hulle liefde vir geld en hulle liefde vir besittings. Hierdie tipe mense maak vir hulle skatte hier op aarde bymekaar, want hulle toekomsvisie is beperk! Hulle kan nie insien dat Jesus Christus juis gekom het om ons uit hierdie gebroke wereld te red nie (vergelyk Filippense 3:18-21).


Wanneer ons deur die Here se Lig verlig word, lewe ons met ’n ander ingesteldheid. Dan kyk ons met ander oë na hierdie lewe én na ons geloof in die Drie-Enige God.

Ons kan dit net doen deur ware geloof. Te danke aan hierdie ware geloof wat die Heilige Gees aan ons skenk, vertrou ons ten volle op God. Ons verstande én ons harte word verlig sodat ons sal aanhou glo dat ons Váder die Een is Wie vir ons sorg. Ons hoef nie vir ons skatte hier op aarde bymekaar te maak nie, want hierdie lewe is net tydelik.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui